YouVersion Logo
Search Icon

1 Korintiërs 4

4
Die apostels werk vir Christus, hulle kry swaar
1Julle moet onthou: Ons bring die goeie boodskap, ons is mense wat vir Christus werk. Ons verduidelik vir julle die dinge van God, niemand het iets geweet van daardie dinge nie. 2Iemand wat hierdie werk doen, moet altyd doen wat hy moet doen. 3Maar dit is nie vir my belangrik of ménse miskien sal dink dat ek nie altyd doen wat ek moet doen nie. Dit maak nie saak of daardie mense júlle is of 'n regter nie. Ek sal ook nie self besluit of ek reg gedoen het nie. 4Ek kan nie onthou dat ek 'n fout gemaak het nie, maar dit is die Here wat sal sê of ek skuldig is of nie skuldig is nie. 5Daarom moet julle nie oordeel voor dit die regte tyd is nie. Wag eers totdat die Here kom. Hy sal die dinge wat niemand nou weet nie, vir almal vertel. Hy sal sê wat elkeen in sy hart dink. En dan sal God elkeen prys.
6Vriende, ek en Apollos doen alles waaroor ek nou geskryf het. Ons doen dit vir julle, omdat ons vir julle wil leer. In die Ou Testament is geskryf oor mense wat dink hulle is belangrik. Dit is wat julle ook moet onthou: Niemand mag sê een mens is belangriker as 'n ander mens nie. 7Hoekom dink jy dat jy beter is as iemand anders? Alles wat jy het, het God vir jou gegee. Hoekom spog jy en maak jy of jy dit self gekry het? 8Julle dink julle kan baie tevrede wees met julleself. Julle dink julle het genoeg van alles. Julle dink júlle het konings geword, maar óns, die apostels, is nog nie konings nie. Ek wens julle het konings geword, dan was ons nou saam met julle konings. Maar dit is nie so nie.
9Ons is apostels, maar ek dink God het vir ons die minste belangrik van almal gemaak. Ons is soos mense wat moet sterf omdat 'n regter gesê het ons moet die doodstraf kry. En nou wil die hele wêreld, mense én engele, sien hoe ons sterf.
10Almal dink nou dat ons, die apostels, baie dom is omdat ons vir Christus werk. En julle dink júlle is nou baie slim omdat julle vir Christus leer ken het. Julle dink óns is die swak mense en júlle is die sterk mense. Julle dink júlle is die belangrike mense en óns is nie belangrik nie. 11Kyk wat het tot nou toe alles met ons gebeur: Ons is honger en dors, ons dra stukkende klere, mense slaan ons, ons het nie 'n huis waar ons kan woon nie. 12Ons werk baie hard om kos en klere vir onsself te kry. Wanneer mense ons beledig, dan bid ons dat dit goed sal gaan met hulle. Wanneer hulle slegte dinge doen aan ons, dan bly ons stil. 13Wanneer hulle skinder van ons, dan sê ons mooi dinge vir hulle. Ons het geword soos die slegste mense in die wêreld, soos vuilgoed. Niemand dink ons is goed nie, en dit hou nooit op nie.
14Ek skryf nie hierdie dinge om julle skaam te maak nie. Ek skryf dit om vir julle te leer, want julle is my kinders, ek is baie lief vir julle. 15Daar is baie mense wat vir julle leer van Christus. Hulle is soos mense wat kinders oppas. Maar julle het nie baie vaders nie, julle het net een vader. Ek het julle vader geword toe ek die goeie boodskap van Christus Jesus vir julle gebring het, en toe julle in Hom begin glo het. 16Daarom vra ek mooi vir julle: Julle moet lewe soos ek lewe. 17En daarom het ek vir Timoteus na julle toe gestuur. Ek het vir Timoteus gehelp om die Here te leer ken, en nou is hy vir my soos 'n kind, ek is baie lief vir hom. Timoteus sal ook doen wat hy moet doen. Hy sal julle help om te onthou wat ek vir die mense leer. Dit is dieselfde dinge wat Christus Jesus vir die mense geleer het. En dit is dieselfde dinge wat ek vir die mense in al die gemeentes leer.
18Party van julle het gedink ek sal nie weer na julle toe kom nie, en daarom het hulle gedink hulle is nou baie belangrik. 19Maar ek sál gou weer na julle toe kom, as die Here wil hê dat ek dit moet doen. En dan sal ek uitvind of hierdie mense net praat, en of hulle ook iets doen. 20Want waar God Koning is, daar práát mense nie net oor die dinge van God nie, God gee vir hulle krag om te dóén wat Hy wil hê. 21Julle mag self kies wat ek moet doen wanneer ek weer na julle toe kom: Moet ek baie kwaai wees of moet ek vol liefde wees en nie kwaai nie?

Currently Selected:

1 Korintiërs 4: ABA

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy