YouVersion Logo
Search Icon

1 Kronieke 26

26
Die poortwagte
1Daar was ook groepe poortwagte. Van die Korag-familie was daar Meselemja seun van Kore, hy was een van die seuns van Asaf. 2-3Meselemja het sewe seuns gehad, hulle was Sagaria, Jediael, Sebadja, Jatniël, Elam, Joganan en Eljehoënai. 4-5Obed-Edom het ag seuns gehad, want God het hom geseën. Die seuns was Semaja, Josabad, Joag, Sakar, Netanel, Ammiël, Issaskar en Peülletai. 6Obed-Edom se seun Semaja het seuns gehad wat leiers was in hulle families, want hulle was belangrike mense. 7Die seuns van Semaja was Otni, Refael, Obed en Elsabad. Hulle broers was Elihu en Semakja, en hulle was twee manne wat goed kon werk. 8Al hierdie manne was van die Obed-Edom-familie. Hulle en hulle seuns en hulle ander familie was manne wat goed kon werk. Daar was 62 manne van die Obed-Edom-familie. 9Meselemja se seuns en sy ander familie was ook manne wat goed kon werk, hulle was 18 manne. 10Gosa, van die Merari-familie, het vier seuns gehad. Simri was die familiehoof. Hy was nie die oudste seun nie, maar sy pa het hom gekies en aangestel om die familiehoof te wees. 11Die ander seuns was Gilkija, Tebalja en Sagaria. Daar was 13 seuns en ander familie van Gosa. 12Hierdie groepe poortwagte was almal saam met 'n man wat 'n familiehoof was, en hulle het gewerk saam met die ander Leviete wat in die tempel gewerk het. 13'n Familie-groep het by elke poort waggestaan. Hulle het vir almal van elke familie lootjies getrek, vir die groot families en vir die klein families. 14Selemja het die lootjie getrek om by die oos-poort wag te staan, en sy seun Sagaria om by die noord-poort wag te staan. Sagaria was 'n verstandige raadgewer. 15Obed-Edom het die lootjie getrek om by die suid-poort wag te staan, sy seuns om by die stoorkamers wag te staan, 16en Suppim en Gosa om wag te staan by die wes-poort en by die Salleket-poort na die boonste pad. Die familie-groepe het wagbeurte gekry. 17By die oos-poort het elke dag ses Leviete waggestaan, by die noord-poort was daar vier wagte, en by die stoorkamers was daar altyd twee wagte. 18By die oop stuk grond wes van die tempel het vier Leviete waggestaan by die pad, en twee het waggestaan by die oop stuk grond. 19Dit was die groepe poortwagte van die Korag-familie en die Merari-familie.
Die Leviete wat die stoorkamers moes oppas
20Die ander Leviete van hierdie families wat die stoorkamers van die tempel en die gewyde presente moes oppas, was 21-22Jegiël en sy seuns Setam en Joël. Jegiël was die seun van Ladan en hulle was van die Gerson-familie. Hulle moes wagstaan by die stoorkamers.
23-24Van die families Amram, Jishar, Hebron en Ussiël was daar hierdie leiers: Subael seun van Gersom seun van Moses was die hoof oor die stoorkamers. 25Subael se familie, die nageslag van Eliëser, was Selomot seun van Sikri seun van Joram seun van Jesaja seun van Regabja. 26Selomot en sy familie moes die gewyde presente oppas wat koning Dawid en die familiehoofde gewy het saam met die leiers van 1 000 manne en die leiers van 100 manne en die hoofde van die leër. 27Hulle het van die goed gegee wat hulle in oorloë gevat het van die vyande, hulle het dit gewy om in die tempel te gebruik. 28Selomot en sy broers moes alles oppas wat die siener Samuel en Saul seun van Kis gewy het saam met Abner seun van Ner en Joab seun van Seruja.
Leviete wat amptenare was
29Kenanja en sy seuns van die Jishar-familie het nie in die tempel gewerk nie, hulle moes voormanne en regters wees. 30Gasabja en sy broers was leiers van die Hebron-familie. Hulle was 1 700 mense, en hulle moes kyk dat die Israeliete wes van die Jordaan-rivier alles reg doen, al die werk vir die Here en vir die koning. 31Jerija was die hoof van die Hebron-familie. Veertig jaar nadat Dawid koning geword het, het hy gesê sy manne moet alles uitvind oor die geslagte en families. Daar was toe baie leiers by die stad Jaser in die land Gilead. 32Daar was 2 700 leiers wat familie was van Jerija. Hulle was familiehoofde, en Dawid het hulle gekies en aangestel om te kyk dat die stamme Ruben en Gad en die helfte van die Manasse-stam al die werk reg doen vir God en vir die koning.

Currently Selected:

1 Kronieke 26: ABA

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy