YouVersion Logo
Search Icon

JESAJA 43

43
Die Redder van Israel
1Maar nou, Jakob,
sê die Here
wat jou geskep het,
Hy wat jou gevorm het, Israel:
“Moenie bang wees nie,
want Ek het jou verlos.
Ek het jou by jou naam geroep.
Jy behoort aan My.
2Wanneer jy deur diep water
van moeilikheid gaan,
sal Ek by jou wees.
Wanneer jy deur riviere gaan,
sal hulle jou nie wegspoel nie.
Wanneer jy deur vuur
van verdrukking stap,
sal jy nie verbrand nie.
Die vlamme
sal jou nie verteer nie.
3Want Ek is die Here jou God,
die Heilige van Israel, jou Redder.
Ek gee Egipte, Kus en Seba
as ’n losprys vir jou vryheid.
4Omdat jy vir My kosbaar
en belangrik is,
omdat Ek jou liefhet,
gee Ek mense in jou plek,
in ruil vir jou lewe.
5Daarom, moenie bang wees nie,
want Ek is by jou.
Ek sal jou en jou kinders
bymekaarbring
vanaf die ooste
en hulle versamel uit die weste.
6Vir die noorde sal Ek sê:
‘Gee terug!’
en vir die suide:
‘Moenie terughou nie!’
Bring my seuns van ver af
en my dogters
vanaf die verste uithoeke
van die aarde,
7elkeen wat My as God erken,
wat Ek tot my eer gemaak het,
wat Ek gevorm en gemaak het.”
8Bring die volk uit wat oë het,
maar niks kan sien nie,
wat ore het, maar niks hoor nie.
9Laat al die nasies bymekaarkom,
almal moet teenwoordig wees.
Watter een van die afgode
kon ooit so iets voorspel?
Wie kan vooraf sê
wat môre sal gebeur?
Laat hulle hulle getuies roep
om te bewys hulle was reg
sodat ander dit kan hoor
en sê: “Dit is waar.”
10“Julle is my getuies, Israel,”
sê die Here.
“En jy is my dienaar
wat Ek uitverkies het
om My te ken en in My te glo,
en te verstaan
dat Ek alleen die Here is.
Vóór My was daar geen God nie
en ná My
sal daar geen God wees nie.
11Ek, ja, Ek is die Here.
Buiten My
is daar niemand
wat jou kan red nie.
12Ek het die verlossing
aangekondig.
Ek het eers gesê wat Ek gaan doen
en julle toe gered.
Geen vreemde god
kon dit doen nie.
Julle is getuies
dat Ek die enigste God is,”
sê die Here.
13“Van altyd af is Ek God.
Niemand kan uit my hand
gered word nie.
Wat Ek doen,
kan niemand omkeer nie.”
Die Here se belofte
14Dit sê die Here
julle Verlosser,
die Heilige van Israel:
“Ter wille van julle
stuur Ek ’n leërmag na Babel.
Dan sal die Babiloniërs moet vlug
in dieselfde skepe
waarop hulle so trots is.
15Ek is die Here,
die Heilige van Israel,
Israel se Skepper en Koning.”
16So sê die Here.
Dis Hy wat ’n pad
deur die water gemaak het,
’n droë pad deur die see.
17Hy wat die sterk leër
van Egipte
met al sy strydwaens en perde
opgeroep het,
en hulle almal laat verdrink het
sodat hulle doodgeblaas is
soos ’n kers.
18“Vergeet al die dinge
wat in die verlede gebeur het.
Dis niks in vergelyking
met wat Ek
nou gaan doen nie.
19Ek gaan iets nuuts doen.
Dit het alreeds begin gebeur!
Sien julle dit nie?
Ek maak ’n pad
deur die woestyn vir my volk
om huis toe te kom!
Ek maak vir hulle riviere
in die woestyn!
20Die wilde diere
sal dankbaar wees daaroor.
Die jakkalse en die volstruise
sal bly wees
omdat Ek vir hulle
water in die woestyn gee.
Ek maak fonteine
in die woestyn
sodat my uitverkore volk
hulle dors kan les.
21Ek het hierdie volk
vir Myself gemaak
sodat hulle My sal eer.
22“Tog, Jakob, het jy
geweier om My aan te roep.
Jy het nie moeite gedoen
om My te dien nie, Israel.
23Jy het nie skape gebring
as brandoffers vir My,
of My vereer met jou offers nie.
Ek het jou nie belas
met graanoffers
of jou vermoei
met wierookoffers nie.
24Julle het nie soet wierookoffers
vir My gekoop nie.
Julle het My nie versadig
met die vet van julle offers nie.
In die plek daarvan
het julle My belas
met julle sondes.
Julle het My moeg gemaak
met julle misdade.
25“Ek, ja, Ek alleen, is die Een
wat julle sondes uitwis.
Ek doen dit
ter wille van Myself
en Ek dink nie weer
daaraan nie.
26Kom ons dink oor die situasie.
Stel dan julle saak
en regverdig julleself.
27Van die begin af
het julle voorouers
teen My gesondig.
Julle leiers het teen My
in opstand gekom.
28Daarom het Ek
die priesters in my tempel
in skande laat kom.
Daarom het Ek Jakob oorgegee
om verwoes te word,
en Israel
om bespot te word.”

Currently Selected:

JESAJA 43: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy