YouVersion Logo
Search Icon

JESAJA 19

19
’n Boodskap oor Egipte
1Hierdie boodskap
het na my gekom oor Egipte:
Kyk! Die Here is op pad
na Egipte toe.
Hy ry op ’n vinnige wolk.
Egipte se afgode bewe voor Hom.
Die Egiptenaars smelt weg
van vrees.
2“Ek laat die Egiptenaars
teen mekaar baklei,
broer teen broer,
buurman teen buurman,
stad teen stad,
provinsie teen provinsie.
3Die Egiptenaars
sal moed verloor.
Ek sal hulle planne verydel.
Hulle sal by hulle afgode
pleit vir wysheid.
Hulle sal geeste oproep,
en mediums en besweerders
om raad gaan vra.
4Ek gee Egipte oor
aan ’n wrede meester,
’n harde koning,”
sê die Here, die Here, die Almagtige.
5Die see sal opdroog,
die rivier sal leeg word.
6Die Nyl se kanale sal sleg ruik.
Egipte se waterstrome
sal opdroog.
Die riete en biesies sal verlep.
7Die papirusplante langs die Nyl
sal opdroog en wegwaai.
Die oeste sal wegdroog.
Alles sal verdwyn.
8Die vissermanne
sal van hartseer huil.
Dié wat met ’n hoek visvang
en dié wat nette
in die rivier oopgooi,
sal wegkwyn.
9Die wewers wat vlas
en katoen gebruik
om te weef,
sal geen hoop oorhê nie.
10Hulle sal afgehaal wees.
Die loonarbeiders sal siek wees
van bekommernis.
11Watter dwase
is die adviseurs van Soan nie!
Hulle beste raad
vir die koning van Egipte
is dom en verkeerd.
Sal hulle voor die farao spog
omdat hulle so slim is,
dat hulle van konings afstam?
12Wat het gebeur
met jou slim adviseurs, Farao?
As hulle so slim is,
laat hulle jou vertel
wat die Here, die Almagtige,
aan Egipte gaan doen!
13Die wyse manne van Soan
is dwaas,
en dié van Memfis is verward.
Die leiers van Egipte
het die land geruïneer
met hulle dom raad.
14Die Here het hulle dwaas gemaak
sodat al hulle voorstelle
verkeerd is.
Hulle het die land van Egipte
soos ’n siek dronklap laat steier.
15Niemand in Egipte,
of hy ryk of arm,
belangrik of onbelangrik is,
kan hom help nie.
16Daardie dag sal die Egiptenaars so swak soos vroue wees. Hulle sal wegkruip van vrees wanneer die Here, die Almagtige, sy vuis teen hulle optel. 17Net om Israel se naam te noem, sal angs vir die Egiptenaars bring. Want die Here, die Almagtige, het sy planne klaar teen Egipte opgestel.
18Daardie dag sal vyf Egiptiese stede die Here, die Almagtige, volg. Hulle sal selfs Hebreeus#19:18a Grondteks die taal van Kanaän. praat. Een van hulle sal die Stad van Verwoesting#19:18b Septuagint Geregtigheid. genoem word.
19Daardie dag sal daar ’n altaar vir die Here in die hart van Egipte wees, en ’n monument vir die Here by sy grens. 20Dit sal ’n teken en getuienis wees van die Here, die Almagtige, se teenwoordigheid in Egipte. Wanneer die mense na die Here om hulp roep wanneer hulle verdruk word, sal Hy iemand stuur wat hulle sal beskerm en red. 21Daardie dag sal die Here Homself aan die mense van Egipte openbaar. Ja, hulle sal die Here ken en diere-offers en graanoffers vir Hom bring. Hulle sal beloftes aan die Here maak, en dit nakom. 22Die Here sal die Egiptenaars slaan sodat Hy hulle kan genees, en hulle sal terugkom na die Here. Hy sal luister as hulle om hulp roep en hulle gesond maak.
23Daardie dag sal Egipte en Assirië met ’n hoofpad verbind wees. Die Egiptenaars en Assiriërs sal vrylik tussen hulle lande beweeg, en hulle sal dieselfde God dien.
24Israel sal hulle bondgenoot wees. Die drie sal saamwerk, en Israel sal vir hulle tot ’n seën wees.
25Die Here, die Almagtige, sal sê:
“Geseënd is my volk Egipte,
geseënd is Assirië
wat deur My geskep is,
en geseënd is Israel,
my eiendom.”

Currently Selected:

JESAJA 19: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy