YouVersion Logo
Search Icon

GENESIS 20

20
Abraham mislei vir Abimelek
1Abraham het suidwaarts na die Negev getrek en ’n tyd lank tussen Kades en Sur gewoon. Toe hy in Gerar gewoon het, 2het hy daar rond vir die mense vertel dat sy vrou Sara sy suster is. Koning Abimelek van Gerar laat haar toe haal om met haar te trou.
3In die nag verskyn God toe in ’n droom aan Abimelek en sê vir hom: “Jy speel met die dood, want daardie vrou wat jy geneem het, is alreeds getroud.”
4Abimelek het toe nog geen omgang met haar gehad nie, en sê: “Here, sal U ’n onskuldige nasie doodmaak? 5Abraham het dan vir my gesê: ‘Sy is my suster,’ en sy self het ook gesê: ‘Ja, hy is my broer.’ Ek het regtig in onkunde opgetree!”
6“Ja, Ek weet jy is onskuldig,” antwoord God. “Dis hoekom Ek jou gekeer het om teen My te sondig. Ek het nie toegelaat dat jy haar aanraak nie. 7Stuur haar nou terug na haar man toe. Hy sal vir jou bid, want hy is ’n profeet. Dan sal jy bly lewe. As jy haar nie na hom toe terugstuur nie, kan jy seker weet jy en jou hele huishouding sal beslis sterf.”
8Abimelek het die oggend vroeg opgestaan en vinnig ’n vergadering met al sy amptenare belê. Toe hy hulle vertel wat gebeur het, het ’n groot angs hulle beetgepak. 9Abimelek laat roep toe vir Abraham. “Wat het jy ons nou aangedoen?” het hy gevra. “Wat het ek verkeerd gedoen om so behandel te word? Ek en my hele koninkryk sou aan ’n groot sonde skuldig gewees het. 10Hoekom het jy dit aan ons gedoen?”
11“Maar,” antwoord Abraham, “ek was onder die indruk dis ’n goddelose plek hierdie. Ek het gedink: ‘Hulle sal my vrou wil hê en my doodmaak om haar in die hande te kry.’ 12Sy is inderdaad my suster. Ons het dieselfde pa, maar nie dieselfde ma nie. Ons is egter wel getroud. 13Toe God my uit my geboorteland laat wegtrek het, het ek vir haar gesê: ‘Waar ons ook al gaan, moet jy asseblief ter wille van my sê dat jy my suster is.’”
14Abimelek gee toe kleinvee, beeste, slawe en slavinne vir Abraham. Hy gee ook sy vrou Sara terug aan Abraham en sê: 15“Gaan deur my koninkryk en kies vir jou ’n plek waar jy graag wil woon.
16“Kyk,” sê hy vir Sara, “ek gee jou broer 1 000 stukke silwer#20:16 Grondteks 1 000 silwer. Indien dit dui op 1 000 sikkels silwer, is dit ongeveer 11,4 kilogram silwer. om te vergoed vir enige verleentheid wat ek dalk vir jou of enigeen by jou kon veroorsaak het. Dit sal enige verdere eis teen my afhandel.”
17Daarna het Abraham tot God gebid en God het Abimelek, sy vrou en die ander vroue gesond gemaak sodat hulle weer kon kinders hê, 18want die Here het al die vroue met onvrugbaarheid getref as waarskuwing vir Abimelek omdat hy Abraham se vrou geneem het.

Currently Selected:

GENESIS 20: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy