YouVersion Logo
Search Icon

2 SAMUEL 8

8
Dawid se militêre suksesse
1Hierna het Dawid die Filistyne gaan verslaan. Hy het hulle verneder en die mag van die Filistyne gebreek.#8:1 Grondteks Dawid het Meteg-Amma uit die mag van die Filistyne geneem. Die presiese betekenis is onduidelik. 2Dawid het ook die land van Moab onderwerp. Hy het die mense langs mekaar in ’n ry op die grond laat lê en hulle met ’n tou in groepe afgemeet. Hy het twee lengtes gemeet om tereggestel te word en een om gespaar te word. Die Moabiete het aan Dawid onderhorig geword en aan hom belasting betaal.
3Dawid het ook die magte van Hadad-Eser, seun van Regob, die koning van Soba, verslaan toe hy#8:3 Die grondteks se betekenis is onduidelik. Dit kan óf Dawid óf Hadad-Eser wees wat uitgetrek het. uitgetrek het om sy mag by die Eufraatrivier te versterk. 4Dawid het 1 700 oorlogsperde#8:4 Kan ook met ruiters vertaal word. en 20 000 voetsoldate van hom gevang. Hy het 100 perde vir homself gehou en die ander se hakskeensenings afgesny.
5Die Arameërs van Damaskus het gekom om Hadad-Eser, koning van Soba, te help, maar Dawid het 22 000 van hulle doodgemaak. 6Daarna het hy verskeie verdedigingsposte in Damaskus, die hoofstad van Aram, opgerig. Die Arameërs het Dawid se onderdane geword en belasting betaal. Oral waar hy gegaan het, het die Here vir Dawid die oorwinning laat behaal. 7Dawid het die goue skilde van Hadad-Eser se offisiere afgeneem en dit na Jerusalem toe gebring. 8Hy het ook ’n groot klomp brons uit Tebag en Berotai, stede van Hadad-Eser, saamgebring.
9Toe Koning Toï van Hamat hoor dat Dawid die leër van Hadad-Eser verwoes het, 10stuur hy sy seun Joram om groete aan Dawid te bring. Hy het hom ook gelukgewens met sy oorwinning oor Hadad-Eser, want Hadad-Eser het dikwels teen Toï geveg. Joram het baie geskenke van silwer, goud en brons aan Dawid gegee. 11Dawid het al hierdie geskenke aan die Here gewy, asook die silwer en goud wat hy gebuit het by al die nasies wat hy onderwerp het. 12Dit was Aram, Moab, Ammon, die Filistyne en Amalek, asook van die buit van Hadad-Eser seun van Regob, koning van Soba.
13Na sy oorwinning oor Aram, het Dawid vir hom naam gemaak toe hy 18 000 Edomiete in die Soutvlakte verslaan het. 14Hy het oral in Edom garnisoene geplaas sodat die hele Edom Dawid se onderdane geword het. Oral waar Dawid gegaan het, het die Here hom die oorwinning gegee.
15Dawid het oor die hele Israel regeer en was regverdig en billik teenoor almal. 16Joab seun van Seruja was die bevelvoerder van die leër. Josafat seun van Agilud was die skrywer. 17Sadok seun van Agitub en Agimelek seun van Abjatar was die priesters. Seraja was staatsekretaris. 18Benaja seun van Jojada was hoof oor die koning se Filistynse lyfwag. Dawid se seuns het as priesters opgetree.

Currently Selected:

2 SAMUEL 8: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy