YouVersion Logo
Search Icon

1 SAMUEL 31

31
Saul se dood
1Intussen het die Filistyne Israel aangeval. Die Israeliete het op die vlug geslaan. Baie van hulle het teen die hange van Gilboaberg gesneuwel. 2Die Filistyne het hulle op Saul en sy seuns toegespits en al drie seuns, Jonatan, Abinadab en Malkisua, doodgemaak. 3Die aanslag op Saul het al strawwer geword. Die boogskutters het hom ingehaal en hom ernstig gewond.
4Toe beveel Saul sy wapendraer: “Vat jou swaard en steek my daarmee dood voordat hierdie onbesnede Filistyne my doodsteek en my verneder.”
Maar sy wapendraer was bang en wou dit nie doen nie. Toe vat Saul self die swaard en val daarin. 5Toe sy wapendraer sien dat Saul dood is, val hy ook in sy swaard en sterf saam met Saul. 6So is Saul en sy drie seuns, sy wapendraer en die manskappe by hom almal saam op een dag dood.
7Toe die Israeliete aan die oorkant van die Jisreëllaagte en oorkant die Jordaan sien dat die leër verslaan is en Saul en sy seuns dood is, het hulle die dorpe verlaat en gevlug. Daarna het die Filistyne hierdie dorpe beset en daar gaan woon.
8Die volgende dag, toe die Filistyne gaan om die lyke te plunder, kry hulle die lyke van Saul en sy drie seuns daar op Gilboaberg. 9Hulle het Saul se kop afgekap en sy wapenrusting afgestroop. Hulle het dit deur die hele land van die Filistyne rondgestuur om die goeie nuus te versprei en om dit in die tempel van hulle afgode en onder die mense bekend te maak. 10Hulle het Saul se wapenrusting in die tempel van Astarte uitgestal en sy liggaam teen die muur van Bet-San opgehang.
11Toe die inwoners van Jabes in Gilead hoor wat die Filistyne aan Saul gedoen het, 12het hulle manskappe die hele nag deur na Bet-San toe getrek en die liggame van Saul en sy seuns van die muur afgehaal. Hulle het dit na Jabes toe gebring en dit daar verbrand. 13Die bene het hulle onder die tamariskboom in Jabes begrawe. Daarna het hulle sewe dae lank gevas.

Currently Selected:

1 SAMUEL 31: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy