YouVersion Logo
Search Icon

1 KONINGS 1

1
Dawid word baie oud
1Koning Dawid het baie oud geword. Hy kon nie meer warm word nie, al het hulle hom met baie komberse toegemaak. 2Sy raadgewers sê toe vir hom: “Laat ons ’n jong meisie soek wat u kan bedien en versorg. Sy kan by u slaap sodat u warm kan word.” 3Hulle het deur die hele gebied van Israel na ’n mooi meisie gesoek. In Sunem het hulle vir Abisag gekry en haar na die koning toe gebring. 4Sy was ’n baie mooi meisie. Sy het die koning bedien en hom versorg. Die koning het egter geen geslagsgemeenskap met haar gehad nie.
Adonia laat homself as koning uitroep
5In hierdie tyd het Dawid se seun Adonia, wie se ma Gaggit was, homself begin verbeel: “Ek gaan een van die dae die koning wees.” Hy het ’n strydwa en ruiters aangeskaf, asook 50 man wat voor hom uit gehardloop het. 6Sy pa, koning Dawid, het hom van kleins af nooit gedissiplineer of selfs vir hom gevra: “Wat doen jy nou?” nie. Adonia was die tweede oudste seun ná Absalom. Hy was baie aantreklik. 7Hy het Joab seun van Seruja, en Abjatar die priester in sy vertroue geneem. Hulle het ingestem om hom te steun. 8Maar Sadok die priester, Benaja seun van Jojada, Natan die profeet, Simeï, Reï en Dawid se persoonlike lyfwag het nie vir Adonia gesteun nie.
9Adonia het na die Sogeletrots#1:9 Sogeletrots beteken slangrots. by die Rogelfontein gegaan en daar skape, beeste en vetgemaakte kalwers geoffer. Hy het al sy broers, die ander seuns van Dawid, uitgenooi, en ook al die manskappe van Juda in Dawid se diens. 10Maar hy het nie die profeet Natan, die koning se lyfwag Benaja, of sy broer Salomo genooi nie.
11Natan gaan toe na Salomo se ma, Batseba, toe en vra haar: “Het jy geweet Gaggit se seun Adonia het homself tot koning uitgeroep sonder dat ons heer Dawid dit weet? 12As jy jou en jou seun Salomo se lewe wil red, moet jy nou maak soos ek sê. 13Gaan dadelik na koning Dawid toe en sê vir hom: ‘My heer, het u dan nie vir my met ’n eed belowe dat my seun Salomo ná u koning sal wees en op u troon sal sit nie? Hoekom het Adonia dan nou koning geword?’ 14Terwyl jy nog met hom praat, sal ek kom en alles bevestig wat jy sê.”
15Batseba het toe in die koning se slaapkamer ingegaan. Hy was teen hierdie tyd reeds baie oud. Abisag, die Sunemmitiese meisie, het hom versorg. 16Batseba het laag voor hom gebuig.
“Wat kan ek vir jou doen?” vra die koning haar.
17Sy het geantwoord: “My heer, u het my voor die Here u God met ’n eed belowe: ‘Jou seun Salomo sal beslis ná my koning word en op my troon sit.’ 18Maar nou het Adonia die nuwe koning geword, sonder dat u iets daarvan weet! 19Hy het baie beeste, vetgemaakte kalwers en skape geoffer. Boonop het hy al die koning se seuns, die priester Abjatar en die opperbevelvoerder van die leër Joab uitgenooi. Maar hy het nie vir Salomo uitgenooi nie. 20Nou wag die hele Israel op u om te beslis wie dan ná u koning sal word. 21Indien u nie uitspraak lewer nie, sal ek en my seun Salomo soos misdadigers behandel word sodra u sterf.”
22Terwyl sy nog met die koning praat, kom die profeet Natan ook daar aan. 23Daar is vir die koning aangekondig: “Natan die profeet is hier.”
Natan het in die kamer ingekom en diep voor die koning gebuig. 24Hy vra toe: “My heer, het u gesê dat Adonia ná u die koning sal wees en op u troon sal sit? 25Hy het vandag baie beeste, vetgemaakte kalwers en skape geoffer. Hy het ook al die koning se seuns, die bevelvoerders van die leër en Abjatar die priester vir die feesvierings genooi. Hulle is besig om saam met hom te eet en te drink. Hulle het uitgeroep: ‘Lank lewe koning Adonia!’ 26Maar vir my het hy nie uitgenooi nie; ook nie vir Sadok die priester, Benaja seun van Jojada, of vir Salomo nie. 27Het my heer dit regtig goedgekeur? Indien wel, dan het u nie vir óns gesê wie ná u koning moet wees nie.”
Salomo volg Dawid op
28“Roep vir Batseba!” sê Dawid. Sy het ingekom en voor die koning gaan staan. 29Die koning lê toe ’n eed af: “So seker as wat die Here leef wat my uit elke gevaar gered het, 30soos ek tevore met ’n eed voor die Here, die God van Israel, vir jou belowe het, bevestig ek dit vandag dat jou seun Salomo ná my koning sal word en op my troon sal sit.”
31Batseba buig toe weer laag voor hom en sê: “Mag my heer koning Dawid vir altyd lewe!”
32Toe beveel Dawid: “Roep vir Sadok die priester, vir Natan die profeet en Benaja seun van Jojada.” Met hulle aankoms voor die koning 33sê hy vir hulle: “Neem Salomo en my lyfwagte saam met julle na die Gihonspruit toe. My seun Salomo moet op my eie muil ry. 34Sadok die priester en Natan die profeet moet hom daar as koning oor Israel salf. Blaas dan op die ramshoring en roep uit: ‘Lank lewe koning Salomo!’ 35Bring hom dan weer terug hierheen sodat hy kan ingaan en op my troon kan sit, want hy sal my as koning opvolg. Ek het hóm aangewys as heerser oor Israel en Juda.”
36“Laat dit so wees!” antwoord Benaja seun van Jojada. “En mag die Here u God dit ook bevestig. 37Mag die Here by Salomo wees soos Hy by u was, en mag Hy die regering van Salomo selfs groter maak as u regering!”
38Sadok die priester, Natan die profeet, Benaja seun van Jojada en die koning se lyfwag het Salomo na die Gihonspruit toe geneem. Hy het op Dawid se muil gery. 39Sadok die priester het ’n horing vol olie uit die heiligdom saamgeneem en Salomo daarmee gesalf. Toe blaas hulle op die ramshoring en al die mense roep uit: “Lank lewe koning Salomo!” 40Almal het agter Salomo aan teruggegaan stad toe terwyl hulle op fluite speel en juig dat die aarde dreun.
Adonia vrees vir sy lewe
41Adonia en sy gaste was net besig om klaar te maak met hulle feesmaal toe hulle die groot feesvierings hoor. Toe Joab die ramshoring hoor, vra hy: “Wat gaan aan? Hoekom is daar so ’n lawaai in die stad?”
42Terwyl hy nog praat, kom Jonatan seun van Abjatar daar aan. “Kom nader,” sê Adonia vir hom, “want jy is ’n gerekende man en bring goeie tyding.”
43“Glad nie!” antwoord Jonatan. “Koning Dawid het Salomo koning gemaak! 44Die koning het hom saam met Sadok die priester, Natan die profeet en Benaja seun van Jojada, en die koning se lyfwag gestuur. Hulle het hom op die koning se muil laat ry, 45en Sadok die priester en Natan die profeet het hom by die Gihonspruit tot koning gesalf. Hulle het daarvandaan met groot gejuig teruggekom en daar is groot blydskap in die stad. Dis waaroor al die geraas gaan. 46Salomo sit nou op die troon. 47Al die koninklike amptenare het na koning Dawid toe gegaan en hom gelukgewens en gesê: ‘Mag u God Salomo se roem selfs nog groter maak as u eie. Mag Salomo se koninkryk selfs groter wees as u koninkryk!’ Toe het die koning op sy bed sy kop in aanbidding gebuig. 48Hy het gesê: ‘Prys die Here, die God van Israel, wat vandag iemand gegee het om op my troon te sit terwyl ek dit met my eie oë kan sien.’”
49Toe het al Adonia se gaste in paniek van die feesmaal opgespring en elkeen sy koers gegaan. 50Adonia self was bang vir Salomo. Hy het na die heiligdom toe gegaan en die horings van die altaar vasgegryp. 51Dis aan Salomo meegedeel: “Adonia is bang vir koning Salomo, en hy hou aan die horings van die altaar vas. Hy pleit: ‘Laat koning Salomo vandag nog onder eed verklaar dat hy my nie sal doodmaak nie!’”
52Salomo het geantwoord: “As hy bewys lewer dat hy betroubaar is, sal hy niks oorkom nie. Maar as hy dit nie doen nie, sal hy sterf.” 53Koning Salomo het Adonia ontbied, en hy is van die altaar af gebring. Hy het voor die koning gebuig en Salomo het gesê: “Gaan na jou huis toe.”

Currently Selected:

1 KONINGS 1: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy