YouVersion Logo
Search Icon

1 KORINTIËRS 2

2
1Broers en susters#2:1a Grondteks Broers., toe ek destyds vir die eerste keer na julle toe gekom het, het ek nie ’n stortvloed woorde of indrukwekkende wysheid gebruik om aan julle God se groot geheim, naamlik die Goeie Nuus#2:1b Of evangelie., te verkondig nie. 2Want ek het besluit om as ek by julle is, net op Jesus Christus te konsentreer en veral op sy kruisdood. 3Ek het na julle gekom in swakheid – angstig en vol huiwering. 4My boodskap en my prediking was bitter eenvoudig. Ek het julle nie probeer oorreed deur geleerde welsprekendheid nie, maar deur die Heilige Gees wat kragtig onder julle gewerk het. 5Dit het ek gedoen sodat julle geloof nie sou berus op menslike geleerdheid nie, maar op die krag van God.
6Ja, wanneer ek onder geestelik volwassenes is, gebruik ek wel woorde van wysheid, maar dan ook nie die soort wysheid wat eie is aan hierdie wêreld of aan die heersers van hierdie wêreld wat self tot die verlede sal behoort nie. 7Nee, die wysheid waarvan ons praat, is die diepsinnige wysheid van God wat voorheen geheim gehou is, wat God van ewigheid af daargestel het sodat ons die heerlikheid kan ontvang.
8Maar die heersers van hierdie wêreld het dit nie begryp nie. As hulle dit wel begryp het, sou hulle nooit ons Here aan wie die heerlikheid behoort, gekruisig het nie. 9Dit is wat die Skrif bedoel met die woorde:
“Wat geen oog gesien het;
wat geen oor gehoor het;
wat in niemand se hart
opgekom het nie –
dit het God voorberei
vir hulle wat Hom liefhet.”#2:9 Jes 64:4.
10Maar ons ken hierdie geheim omdat God dit deur sy Gees aan ons bekendgemaak het. Want die Gees deurvors alle dinge, ook God se diepste geheime. 11Niemand sal ooit die diepste gedagtes van ’n mens ken nie, behalwe daardie persoon se eie gees. Net so kan niemand God se diepste geheime ken nie, behalwe die Gees van God. 12Ons het die Gees ontvang wat van God uitgaan – nie dié van die wêreld nie – sodat ons kan besef watter wonderlike geskenke God aan ons gegee het. 13As ons hierdie dinge aan julle vertel, gebruik ons nie woorde wat hulle oorsprong het in menslike slimmigheid nie, maar wat hulle oorsprong het by die Gees.
Ons gebruik woorde wat van die Gees kom om geestelike waarhede te verduidelik. 14Die natuurlike mens kan nie hierdie waarhede toe-eien wat van die Gees van God kom nie. Dit klink vir hulle onsinnig. Hulle kan dit nie verstaan nie, want hierdie dinge moet vanuit ’n geestelike perspektief verstaan word. 15Ons in wie die Gees is, verstaan al hierdie dinge, maar ander kan ons glad nie verstaan nie. 16Hoe kan hulle ook? Want:
“Wie kan verstaan
wat die Here dink?
Wie kan Hom raad gee?”#2:16 Jes 40:13.
Óns kan hierdie dinge egter verstaan, want ons is in gestel om soos Christus te dink.

Currently Selected:

1 KORINTIËRS 2: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy