Psalms 7

7
1’n Lied wat Dawid gesing het om die Here te eer nadat Kus van Benjamin met hom gepraat het
2Here, U is my God. Ek skuil by U!
Red my van almal wat my wil seermaak.
Hou hulle ver van my af weg!
3Hulle is net soos honger leeus wat rondkyk om iets te kry wat hulle kan opeet.
Help my, want daar is niemand anders wat dit kan doen nie.
4Here, my God, as ek dinge gedoen het wat nie reg is in u oë nie, wys dit tog vir my!
5As ek mense wat my wou help, of mense wat teen my was, sleg behandel het, kan hulle my maar in die grond in trap.
Dan kan hulle my maar slegsê.
6Mag my vyand my dan in die hande kry, en my bykom en verneder.
7Staan asseblief op, Here! Gryp tog in!
Word ’n slag kwaad vir daardie spul wat so vol woede teen my baklei.
Pas my op. U wil mos hê dat mense reg behandel word.
8Laat al die mense in die wêreld in ’n kring gaan sit. Dan gaan sit U op u troon in die hemel, daar van waar U die wêreld beheer.
U is die sterkste, U heers oor almal.
9Daarom kan U die regte besluite oor elkeen se lewe neem.
En daarom kan ek nou by U pleit: kyk tog dat ek die regte dinge gedoen het, Here!
Ek is onskuldig. Ek verdien nie om so sleg behandel te word nie.
10Maak ’n einde aan slegte mense se planne wat weier om na U te luister.
Maar help hulle wat U liefhet, o God.
U weet mos of mense reg leef en of hulle vertrou kan word. U tree altyd regverdig op.
11U beskerm my, want U help almal wat reg voor U leef.
12God is ’n eerlike regter. Hy neem altyd die regte besluite.
U word kwaad vir mense wat verkeerde dinge doen.
As iemand nie sy sondes laat staan en doen wat U wil hê nie, straf U hom.
13Dan is U soos ’n jagter wat u swaard skerp maak
en pyl en boog span om die slagoffer te skiet.
14U sit dodelike gif aan u pyl om u prooi te skiet. Almal wat skuldig is, doen dinge waarvan U niks hou nie.
15Hulle doen aanmekaar kwaad en bedrieg ander.
Met hulle gebeur presies wat die spreekwoord sê:
16Grawe ’n gat vir ander, dan val jy self daarin.
17Deur hulle eie geknoei kom hulle tot ’n val.
Die gewelddadige dinge wat hulle vir ander beplan, gebeur met hulleself.
18Ek sal die Here prys omdat Hy regverdig teenoor alle mense is!
Ek sal liedere sing om die allerhoogste Here se Naam te loof!

Seçili Olanlar:

Psalms 7: DB

Vurgu

Paylaş

Kopyala

None

Önemli anlarınızın tüm cihazlarınıza kaydedilmesini mi istiyorsunuz? Kayıt olun ya da giriş yapın

YouVersion, deneyiminizi kişiselleştirmek için tanımlama bilgileri kullanır. Web sitemizi kullanarak, Gizlilik Politikamızda açıklandığı şekilde çerez kullanımımızı kabul etmiş olursunuz