Psalms 119

119
1God hou baie van jou as jy presies doen wat Hy in die Bybel sê.
2God hou baie van jou as jy sy woorde diep in jou hart bêre
en elke dag jou bes doen om Hom gelukkig te maak,
3ook as jy nie agter al wat sonde is, aanhardloop nie,
maar alles doen wat Hy vir jou sê.
4God, U sê presies vir my hoe ek moet leef.
5Hoe wens ek nie dat ek elke oomblik kan doen wat U vra nie.
6Dan sal ek nie so skaam kry as ek lelike dinge doen nie.
7Here, diep uit my hart wil ek vir U sê dat U baie goed is;
ek leer elke dag so baie oor U. Ek loof U.
8Ek sal alles doen wat U vir my sê.
Moet my asseblief nooit alleen laat nie!
9Hoe kan ’n jongmens leef soos U wil hê?
As hy alles doen wat U sê.
10Ek het net een doel: om U gelukkig te maak!
Help my dat ek alles sal doen wat U wil hê.
11Moet asseblief nie dat ek u wonderlike pad misloop en begin sonde doen nie.
U Woord is diep in die brandkluis van my hart weggebêre.
Dit keer dat ek dinge doen waarvan U niks hou nie.
12Here, U is so wonderlik!
Leer my hoe om alles te doen wat U van my vra.
13Ek sal alles oorvertel wat ek by U leer.
14Elke voorskrif wat van U af kom, maak my lewe vol blydskap;
dit is baie meer werd as ’n groot sak vol geld.
15Ek sit ure aanmekaar en dink hoe ek U bly kan maak.
16U voorskrifte oor hoe ek moet leef, maak my baie opgewonde.
Ek sal nie ’n enkele woord daarvan vergeet nie.
17Wees asseblief elke dag goed vir my, dan leef ek regtig!
Dan sal ek nie ’n enkele sekonde van u pad afdwaal nie.
18Maak my oë oop sodat ek kan sien hoe wonderlik alles is wat U sê.
19Ek is glad nie belangrik nie; mense loop maklik bo-oor my.
Dus kan ek dit nie bekostig om ’n enkele oomblik sonder U te leef nie.
20My enigste wens is om te doen wat U vra.
21U hou niks van mense wat nie doen wat U sê nie,
U gooi hulle eenkant toe; vir altyd!
22Moenie dat slegte mense my onderstebo loop nie.
Onthou tog dat ek u Woord in my hart gebêre het.
23Mense wil my tot ’n val bring, maar onthou asseblief hoe lief ek u Woord het.
24U Woord maak my lewe vol blydskap; dit wys my hoe om elke dag te leef.
25My lewe is nie veel werd nie.
Gee asseblief vir my nuwe lewe; daardie soort lewe wat U in die Bybel beloof.
26Ek het vir U kom vertel hoe swaar dit met my gaan.
U het geluister en my gehelp; 27leer my nou om te doen wat U sê.
Leer my om die volle rykdom van u voorskrifte goed te verstaan.
Ek wil heeltyd daaroor dink.
28My lewe is vol bekommernis.
Help my tog om u hand styf vas te hou. En gee vir my krag.
29Keer dat ek leuens vertel en op ’n oneerlike manier leef.
Skryf u wet diep in my hart. Doen goed aan my.
30Ek het gekies om op u pad te stap, dis die pad na die lewe toe.
31U voorskrifte is soos padwysers; dit wys my hoe om te leef.
Here, ek hou vas aan elke woord wat U sê.
Moenie dat ek U ooit in die steek laat nie.
32Ek is gretig om elke dag op u pad te stap, want U maak my lewe vol met u goedheid.
33Here, wys my wat U van my verwag,
dan sal ek tot aan die einde van my lewe net doen wat U vra.
34Verander my manier van dink; maak my gedagtes vol met u wet!
Dan sal ek heeltyd doen wat U sê.
35Laat my elke dag op die pad loop wat U voorskryf, want dit maak my baie gelukkig.
36Help my om net aan U te dink sodat ek nie agter geld aanhardloop nie.
37Keer dat ek na dinge kyk waarvan U niks hou nie.
Om te leef soos U wil hê; dis al wat ek vra!
38Maak dit wat U in die Bybel aan u kinders beloof waar in my lewe.
39Keer tog dat mense lelike dinge vir my sê. Mense kan so venynig wees.
Laat my net daardie dinge hoor wat U wil hê ek moet doen.
40Daar’s net een begeerte in my hart: om te doen wat U sê.
Beskerm my, want U doen wat U belowe.
41Here, wys asseblief vir my hoe goed U is, soos U beloof het.
42Dan sal ek nie bang wees vir almal wat met my spot nie,
want ek hou net vas aan wat U sê.
43Help my om net die waarheid te praat.
Dag en nag luister ek fyn na u stem.
44My hele lewe lank wil ek net doen wat U in u wet vir ons sê.
45Met groot blydskap wil ek in die oop ruimte van u liefde en voorskrifte stap.
46Voor belangrike mense wil ek oor U praat sonder om skaam te wees.
47Ek is so lief vir u Woord. Ek is bly daaroor.
48Om al u voorskrifte te hou maak my baie bly.
Ek kan nie genoeg vir U sê hoe gelukkig dit my maak om te doen wat U sê nie,
ek dink heeltyd daaraan.
49Onthou asseblief tog al die dinge wat U vir my, u dienaar, gesê het;
ek hou met my hele lewe daaraan vas.
50In slegte tye hou u beloftes my aan die gang.
51Selfs al spot slegte mense met my, hou ek nie op om te doen wat U sê nie.
52Dit wat U lank terug al gesê het, bly heeltyd in my gedagtes,
dit gee my moed vir elke dag.
53Ek word baie kwaad as ek sien dat slegte mense hulle nie aan u Woord steur nie.
54U woorde is soos die mooiste musiek in my ore, al kry ek baie swaar.
55Tot in die nag dink ek aan U, doen ek net wat U sê.
56Om te doen wat U van my vra is my hele lewe!
57U is al wat vir my saak maak. Daarom doen ek net wat U vra.
58Met alles in my pleit ek by U: moenie u rug vir my keer nie. Doen goed aan my soos U belowe het.
59Ek het goed gaan kyk na my eie lewe, dis een groot deurmekaarspul;
toe het ek besluit om dadelik terug te keer na U.
60Nou doen ek my bes om aan U gehoorsaam te wees.
61Selfs slegte mense het my laat probeer val,
maar hulle kon my nie van u Woord af wegtrek nie.
62In die middel van die nag staan ek op om te bid,
dan loof ek U omdat U so groot en goed is.
63My vriende is ook mense wat vir U respek het en doen wat U sê.
64Here, u goedheid is die hele wêreld vol.
Leer my om na U te luister.
65U doen goeie dinge vir my, presies soos U beloof het.
66Gee my ’n wakker verstand en ’n kop vol kennis oor U, want ek glo al u voorskrifte.
67Vroeër het ek op verkeerde paaie geloop, maar daardie dae is vir goed verby;
nou doen ek net wat U sê.
68U is die Bron van alles wat goed is, U doen net goeie dinge.
Leer my om u Woord te gehoorsaam.
69Slegte mense sê lelike dinge oor my, maar ek kyk net na U. Ek doen met alles in my wat U vir my sê om te doen.
70Hulle gee niks vir u wet om nie, maar vir my is dit die lewe.
71My swaarkry het my geleer om mooi na U te luister.
72U wet is vir my baie meer werd as ’n myn vol goud.
73U het my met u eie hande gemaak.
Maak my kop nou ook vol met u wysheid sodat ek mooi verstaan wat U vra.
74As ander gelowiges sien hoe ek aan U vashou, maak dit hulle baie bly.
Ek vertrou op wat U sê.
75As daar een ding is wat ek weet, Here, is dit dat u bevele ’n mens help om reg op te tree.
Partykeer stuur U probleme na my toe, net om te sien of ek nog aan U vashou.
76Vandag het ek u liefde bitter nodig!
Help my, soos U belowe het.
77Kry my asseblief jammer, kom hou my styf vas, dan sal ek weer voluit lewe!
Ek stap elke dag op die pad wat U in u wet vir my wys.
78Laat daardie spul wat so baie van hulleself dink, daar sleg van afkom.
Hulle vertel ’n klomp leuens oor my.
Gelukkig weet U dis nie waar nie, ek doen net wat U sê.
79Gee tog dat ander gelowiges wat U dien en doen wat U sê ook by my sal staan.
80Laat my elke dag net doen wat U sê, dan sal ek nooit moedeloos word nie.
81Hoe verlang ek nie daarna om u hand op my skouer te voel nie;
ek wag heeldag op u troos.
82Ek sien uit na die dag wat U u belofte waar maak.
Elke dag vra ek: “Hoe lank nog voordat U my kom help?”
83Ek kry baie swaar, dit voel of my lewe in die vuur lê en brand.
Tog vergeet ek nie om te doen wat U vra nie.
84Hoe lank sal hierdie swaarkry nog aanhou?
Wanneer klim U ’n slag in onder almal wat dit vir my so moeilik maak?
85Daardie slegte spul wat nie na U luister nie, probeer my vernietig.
86Ek is onskuldig; ek doen net wat U sê.
Help my, Here, want ek word vervolg sonder dat ek dit verdien.
87Slegte mense het my amper doodgemaak, maar ek hou aan om na U te luister.
88U is so goed vir my; daarom vra ek:
Laat my lewe sodat ek kan aanhou doen wat U sê.
89Here, alles wat U sê, gebeur presies net so in die hemel: altyd.
90U goedheid raak nooit uit die mode nie.
U het net ’n woord gesê, toe staan die aarde daar!
91Alles wat U gemaak het, bestaan tot vandag toe. Alles buig voor U.
92As u Woord vir my nie soveel blydskap gebring het nie, het ek al lankal moed opgegee.
93So lank as wat ek leef, sal ek u voorskrifte in my hart bêre,
want hulle het my lewe gered.
94Ek is U s’n, van kop tot tone.
Red my, want ek wil elke dag agter U aanstap.
95Slegte mense staan reg om my dood te maak, maar ek doen net wat U sê.
96Alles wat mense doen, hoe goed dit ook al is, is vol foute,
maar dit wat U in die wet sê, is foutloos; dit hou vir altyd!
97Ek kan nie vir U sê hoe lief ek vir al u voorskrifte is nie! Ek dink dag en nag daaroor.
98Dit gee my ’n groot voorsprong bo al my vyande,
niemand kan ooit my kennis van u Woord wegvat nie.
99Ek weet baie meer oor U as hulle wat my van U geleer het,
want u Woord is my hele lewe.
100Ek is verstandiger as al die ou mense omdat ek u Woord in my hart wegbêre.
101Ek systap die sonde omdat ek graag wil doen wat U sê.
102Afdraaipaaie ken ek nie, want U het my geleer hoe om te leef.
103Daar’s niks beter as u Woord nie, dit is soeter as die soetste heuning.
104U voorskrifte het my geleer hoe om die lewe te bemeester; daarom haat ek leuens.
105U Woord wys my presies hoe ek moet leef,
soos ’n helder lig skyn dit op die donker pad waarop ek stap.
106Ek het U belowe dat ek net sal doen wat U sê,
ek sal nooit teruggaan op my beloftes nie. Wat u sê, is reg.
107Here, dit gaan nou baie sleg met my. Kom help my tog, soos U belowe het.
108Hoor hoe ek U loof en prys.
Leer my wat reg en verkeerd is.
109My lewe is in gevaar, maar ek vergeet nie wat U in die wet sê nie.
110Slegte mense wil my laat afdwaal van u pad af,
maar ek wyk nie ’n sentimeter daarvan af nie.
111U voorskrifte is myne, vir altyd,
hulle maak my lewe tot oorlopens toe vol met blydskap.
112Met my hele lewe wil ek net doen wat U sê,
elke dag, van nou af tot die einde toe.
113Ek hou niks van skynheiliges nie, maar ek het u wet baie lief.
114By U kruip ek weg, want U is baie sterk, U pas my goed op.
Ek wag op u Woord om my sterk te maak.
115Julle spul slegte mense moet dadelik padgee sodat ek kan doen wat my God sê.
116Here, hou my hand styf vas soos U beloof het, dan sal ek voluit lewe.
Moenie my teleurstel nie, kyk dan net hoe glo ek in U.
117Hou my regop, dan is alles in orde, dan sal ek doen wat U sê.
118U hou niks van mense wat nie na U luister nie.
Hulle praat ’n spul leuens.
119U vee goddelose mense van die aarde af soos ’n klomp rommel;
daarom is ek so lief vir u Woord. 120Ek het baie groot respek vir U.
Dit wat U doen, vul my met ontsag.
121Ek het nog altyd gedoen wat reg is, moenie dat my vyande my beetkry nie.
122Kies asseblief my kant, goeie God,
moenie dat mense wat te veel van hulleself dink, my uitbuit nie.
123Ek sien baie uit na die dag dat U my kom help,
ek hou vas aan u belofte dat U net doen wat reg is.
124Tree asseblief in liefde teenoor my op, wys my hoe ek moet lewe.
125Onthou, ek is u dienskneg,
wys my wat dit presies beteken sodat ek kan doen wat reg is.
126Here, vat daardie spul vas wat u wet oortree.
127Ek het u voorskrifte met my hele lewe lief,
dit beteken meer vir my as al die goud in die wêreld.
128Daarom doen ek alles wat U sê tot in die fynste besonderhede.
Maar verkeerde dinge, dit haat ek.
129Wat U sê, is wonderlik; daarom bêre ek dit diep in my hart weg.
130Wanneer u Woord vir mense oopgaan, word hulle hele lewe verlig,
dit vul gewone mense met wysheid.
131Alles in my smag na U, sê my tog hoe ek moet lewe.
132Sien my raak, wees goed vir my, soos U maak met almal wat U liefhet.
133Maak elke tree wat ek gee, ’n tree op die regte pad.
Moenie dat lelike dinge ooit in my lewe wen nie.
134Pas my op wanneer ander mense my kwaad wil aandoen,
sodat ek net kan doen wat U sê.
135Wees asseblief vriendelik met my, leer my mooi wat ek moet doen.
136Dag en nag huil ek omdat mense nie presies doen wat U sê nie.
137Here, U is altyd reg; U doen heeltyd die regte dinge.
138U sê presies vir ons hoe ons moet leef.
139Ek is baie omgekrap omdat my vyande nie na U wil luister nie.
140U Woord is al deur baie mense uitgetoets: dit slaag elke keer!
Daarom het ek u Woord so lief.
141Ek is maar ’n onbelangrike klein mensie, tog vergeet ek nooit wat U sê nie.
142U doen altyd die regte dinge, tot in ewigheid! U wet is altyd waar.
143Al kom ek vragte vol probleme teë,
nogtans geniet ek dit om u voorskrifte te lees en daaroor na te dink.
144U voorskrifte is vir altyd waar en reg,
leer my om dit te verstaan sodat ek ’n slag regtig kan lewe.
145Ek roep so hard as wat ek kan: “Here, verhoor my!”
Ek wil u voorskrifte in die Bybel doen.
146Ek het voor U kom staan en uitgeroep: “Red my!” sodat ek u voorskrifte kan hou.
147Nog voordat die son in die oggend opkom, pleit ek al dat U my moet help,
ek wag dat U my moet antwoord.
148In die nag slaap ek nie, my oë is wawyd oop; dit is net op U gerig.
Ek dink die hele tyd aan alles wat U sê.
149Hoor tog as ek so bid, want U is ’n baie goeie God.
Here, laat my weer voluit leef!
150Mense wat vieslike dinge doen, kruip al nader en nader,
hulle loop al verder en verder van u wet af weg.
151Here, U is altyd baie naby, boonop is alles wat U sê, die waarheid.
152Ek weet al lankal dat dit wat U sê, vir altyd bly bestaan.
153Kyk ’n slag hoe sleg dit met my gaan en help my,
want ek vergeet nie ’n enkele dag wat U sê nie.
154Kies asseblief my kant en help my uit hierdie gemors uit;
laat ek weer die lewe geniet, soos U belowe het.
155Goddelose mense staan g’n kans om ooit gered te word nie,
want hulle steur hulle nie aan wat U sê nie.
156Gelukkig hou u goedheid nooit op nie, Here, dit hou net aan en aan.
Daarom pleit ek by U om nuwe lewe.
157’n Hele klomp slegte mense is agter my bloed aan, maar gelukkig stap ek op u pad.
158Mense wat nie doen wat U sê nie se leefstyl maak my siek;
dit is verskriklik dat hulle die rug vir U draai.
159Kyk na my! Sien tog raak dat ek elke woord van U liefhet.
Here, hou asseblief aan om vir my goed te wees.
Hou my aan die lewe omdat U so ’n goeie God is.
160Alles wat U sê, is die waarheid, elke woord daarvan!
Dit sal vir altyd en altyd die waarheid bly.
161’n Klomp belangrike mense vervolg my, al is ek onskuldig,
maar dit vat nooit my respek vir u Woord weg nie.
162My hart loop oor van opgewondenheid oor elke woord wat U sê,
dit is die grootste skat wat ek nog ooit in my lewe gevind het.
163Ek haat leuens, maar u wet, dit het ek lief met alles binne-in my.
164Ek kan U nie genoeg loof nie,
elke kans wat ek kry, gebruik ek om vir U te sê dat alles wat U doen, reg en goed is.
165Almal wat u wet liefhet, leef reg, hulle val nie oor die sonde nie.
166Here, ek hou u hand styf vas; ek wag dat U my kom help, ek doen net wat U sê.
167Alles wat U sê, word in my hart weggebêre,
ek doen dit alles; ek is lief vir elke voorskrif uit u mond!
168Kyk net: ek gehoorsaam alles wat U sê en luister na u raad,
my lewe is soos ’n oop boek voor U.
169Here, luister tog as ek smeek dat U my moet help,
leer my om te verstaan wat U in die Bybel van my vra.
170Gee aandag aan my nood; moenie dit ignoreer nie!
Red my soos U belowe het.
171Lof sal dan oor my lippe spoel, want U leer my hoe om te leef.
172Ek sal heeltyd sing oor u Woord, want alles wat U sê, is reg en goed.
173Hou my vas, want ek wil net doen wat U sê.
174Here, ek het nie genoeg woorde om vir U te sê hoe ek na u hulp smag nie,
u wet bring soveel blydskap in my lewe.
175Maak my van binne af nuut, dan sal ek u Naam heeltyd loof.
Maak my sterk om te doen wat U sê.
176As ek soos ’n skaap is wat verdwaal het, kom haal my asseblief!
Ek sal u stem dadelik herken, want ek vergeet nooit een van u woorde nie.

Seçili Olanlar:

Psalms 119: DB

Vurgu

Paylaş

Kopyala

None

Önemli anlarınızın tüm cihazlarınıza kaydedilmesini mi istiyorsunuz? Kayıt olun ya da giriş yapın

YouVersion, deneyiminizi kişiselleştirmek için tanımlama bilgileri kullanır. Web sitemizi kullanarak, Gizlilik Politikamızda açıklandığı şekilde çerez kullanımımızı kabul etmiş olursunuz