Spreuke 18

18
Moenie selfsugtig leef nie
1’n Selfsugtige mens wat net vir homself leef, soek altyd na ’n rede om die rug vir sy mense te draai.
2’n Dwaas gee absoluut niks om vir die regte manier van leef nie. Sy mond is altyd vol oor ander mense.
3Pas op vir slegte mense. Almal verag en verstoot hulle. Vriendskap met hulle bring skuldgevoelens.
4’n Gelowige se woorde is soos ’n borrelende fontein. Dit bemoedig mense, troos hulle, wys hulle die regte pad.
5Dit is verskriklik wanneer ’n skuldige vrygespreek word. Nog erger is dit as ’n gelowige onskuldig aangekla word.
6’n Dwaas raak die vreeslikste goed oor ander kwyt. Dit maak mense woedend. Hulle wil later niks met hom te doen hê nie.
7’n Dwaas se ondergang is sy mond. Hy praat te veel en skinder oor almal en vertel ’n spul leuens. Naderhand verstoot almal hom.
8Skinder is soos ’n stukkie sjokolade. Dit is lekker. ’n Mens kan nie ophou eet nie. Almal wil daarvan hê. Te veel maak ’n mens siek.
9Wie laat kom by die werk, vroeg loop, baie rondloop, lang teetye neem en afskeepwerk doen, bewerk sy eie ondergang. Hy kan sy werk verloor en sy familie kan ly.
10Die Here is soos ’n sterk gebou. In swaar tye kan gelowiges by Hom gaan wegkruip. By Hom is hulle veilig.
11Ryk mense dink dat geld alles is, dat dit hulle teen gevare sal beskerm. Wie so dink, leef in ’n gekkeparadys.
12Hoogmoediges se grootpraatjies help hulle niks in ’n krisis nie. Nederiges wat op die Here vertrou, word in elke nood gehelp.
13Iemand wat antwoord voordat hy luister, praat die grootste onsin. Niemand wil hom meer enige raad vra nie.
14’n Blymoedige mens kan die ernstigste siekte oorleef. Vir ’n geknakte gees is daar geen medisyne nie.
15’n Slim mens smag na wysheid. Hy luister graag na raad sodat hy reg kan leef.
16’n Geskenk bring ’n mens ver. Respek vir ander maak jou gewild.
17In die hof klink die eerste getuie se verhaal altyd oortuigend. Onder kruisverhoor sing hy gou ’n ander deuntjie.
18Partykeer moet ’n tussenganger ’n saak tussen mense besleg. As sy beslissing aanvaar word, kom daar vrede tussen die strydendes.
19Iemand wat in ’n rusie seergekry het, onttrek hom aan ander. Tussen hom en hulle is daar ’n ysterhek.
20Woorde moet tot dade lei. Baie praat sonder resultate is frustrerend. 21Saampraat en saamdink het baie voordele.
22Wie ’n geskikte lewensmaat vind, moet haar nie as vanselfsprekend aanvaar nie. Dit is ’n teken van die Here se liefde vir jou.
23’n Arme moet hom altyd verneder om iets te vra. Smekend moet hy sy saak stel. ’n Ryke het niks nodig nie. Hy jak die arme sommer maklik af.
24In tye van nood leer jy jou vriende ken. Sommige praat net, maar doen niks nie. Ander sal alles vir jou doen. Hulle is nader aan jou as ’n broer.

Seçili Olanlar:

Spreuke 18: DB

Vurgu

Paylaş

Kopyala

None

Önemli anlarınızın tüm cihazlarınıza kaydedilmesini mi istiyorsunuz? Kayıt olun ya da giriş yapın

YouVersion, deneyiminizi kişiselleştirmek için tanımlama bilgileri kullanır. Web sitemizi kullanarak, Gizlilik Politikamızda açıklandığı şekilde çerez kullanımımızı kabul etmiş olursunuz