2 KONINGS 13

13
Joahas regeer in Israel
1In die 23ste regeringsjaar van koning Joas seun van Ahasia in Juda het Joahas seun van Jehu koning geword in Israel. Hy het sewentien jaar in Samaria regeer. 2Hy het gedoen wat verkeerd was vir die Here. Hy het net soos Jerobeam seun van Nebat vir Israel tot afgodery verlei. Hy het nie daarvan afgewyk nie. 3Daarom was die Here kwaad vir Israel en het Hy toegelaat dat koning Gasael van Aram en sy seun Ben-Hadad Israel keer op keer verslaan.
4Maar Joahas het tot die Here gebid om hulp en die Here het sy gebed verhoor. Die Here het gesien hoe die koning van Aram vir Israel onderdruk. 5Daarom het die Here ’n redder verwek om Israel van die tirannie van Aram te verlos. Daarna kon die Israeliete weer soos voorheen in hulle eie huise lewe. 6Nogtans het hulle voortgegaan om te sondig deur die bose voorbeeld van Jerobeam na te volg. Selfs die Asjerabeeld het in Samaria bly staan. 7Joahas se leër is verminder tot 50 berede troepe, tien strydwaens en 10 000 voetsoldate. Die koning van Aram het die ander doodgemaak soos stof onder sy voete.
8Die ander gebeurtenisse tydens Joahas se bewind, alles wat hy gedoen het en sy dapper dade, is opgeteken in Die boek van die handelinge van die konings van Israel. 9Toe Joahas sterf, is hy in Samaria begrawe. Sy seun Joas het in sy plek koning geword.
Joas se bewind in Israel
10In die 37ste jaar van koning Joas se regering in Juda het Joas seun van Joahas koning geword oor Israel. Hy het sestien jaar in Samaria regeer. 11Maar hy het gedoen wat verkeerd was vir die Here. Hy het nie afgesien van die afgodery wat Jerobeam seun van Nebat hulle geleer het om te doen nie, maar daarmee volhard. 12Die ander gebeurtenisse tydens Joas se bewind, alles wat hy gedoen het, sy dapper dade tydens sy oorloë met koning Amasia van Juda, is opgeteken in Die boek van die handelinge van die konings van Israel. 13Toe Joas sterf, het Jerobeam II hom opgevolg. Joas is in Samaria by die konings van Israel begrawe.
Elisa se laaste optrede
14Elisa het siek geword en op sterwe gelê. Koning Joas van Israel het hom besoek en oor hom gehuil. “My vader! My vader! Die strydwa en ruiters van Israel!” het hy uitgeroep.
15Elisa sê toe vir hom: “Vat jou boog en pyle.” Die koning het so gemaak.
16Elisa sê vir hom: “Sit jou hande op die boog.” Hy het so gemaak. Elisa sit toe sy eie hande oor die koning s’n. 17Daarna beveel hy: “Maak die venster na die ooste toe oop.” Hy het so gemaak. Elisa sê vir hom: “Skiet!” Hy het so gemaak.
Toe kondig Elisa aan: “Die pyl van die Here se oorwinning, ’n pyl van oorwinning oor Aram. Jy sal die Arameërs by Afek heeltemal verslaan. 18Vat nou die ander pyle en slaan teen die grond.” Die koning het hulle opgetel, drie keer geslaan en toe opgehou. 19Maar die man van God het baie kwaad geword vir hom. “Jy moes vyf of ses keer geslaan het!” roep hy uit. “Dan sou jy Aram verslaan en heeltemal verwoes het. Nou sal jy net drie keer oor Aram seëvier.”
20Daarna het Elisa gesterf en hulle het hom begrawe.
Moabitiese bendes het elke lente die land binnegeval. 21Eenkeer was ’n klompie Israeliete besig om ’n man te begrawe toe hulle so ’n bende plunderaars opmerk. Hulle gooi toe die liggaam gou in Elisa se graf. Maar net toe die liggaam Elisa se bene raak, het die dooie man herlewe en regop gestaan!
22Tydens die hele regering van koning Joahas het koning Gasael vir Israel verdruk. 23Maar die Here was hulle genadig. Hy het Hom oor hulle ontferm op grond van sy verbond met Abraham, Isak en Jakob. Hy wou hulle nie vernietig nie. Tot nou toe het Hy hulle nie van sy teenwoordigheid verdryf nie.
24Koning Gasael van Aram het gesterf en sy seun Ben-Hadad het hom opgevolg. 25Joas seun van Joahas het die dorpe wat Ben-Hadad seun van Gasael van Joas se pa Joahas geneem het, herower. Joas het Ben-Hadad drie keer verslaan en die Israelitiese dorpe herwin.

Seçili Olanlar:

2 KONINGS 13: NLV

Vurgu

Paylaş

Kopyala

None

Önemli anlarınızın tüm cihazlarınıza kaydedilmesini mi istiyorsunuz? Kayıt olun ya da giriş yapın

YouVersion, deneyiminizi kişiselleştirmek için tanımlama bilgileri kullanır. Web sitemizi kullanarak, Gizlilik Politikamızda açıklandığı şekilde çerez kullanımımızı kabul etmiş olursunuz