2 KONINGS 12

12
Joas herstel die tempel
1In die sewende jaar van koning Jehu se bewind in Israel, het Joas koning in Juda geword. Hy het 40 jaar in Jerusalem regeer. Sy ma was Sibja uit Berseba. 2Joas het sy lewe lank, terwyl die priester Jojada hom onderrig het, volgens die Here se eise regeer. 3Die hoogtes van die afgode het hy egter nie vernietig nie. Die volk het nog steeds daar offers gebring en wierook gebrand.
4Op ’n dag sê Joas vir die priesters: “Vat al die geld wat as ’n gewyde offer na die Here se tempel gebring is. Dit is waarvoor elkeen persoonlik aangeslaan word, en dit wat elkeen vrywillig na die tempel van die Here toe bring. 5Laat die priesters ’n deel van hierdie geld gebruik om die nodige herstelwerk aan die tempel te doen oral waar daar bouvallige plekke is.”
6In die 23ste regeringsjaar van Joas het die priesters egter nog nie die vervalle dele aan die tempel herstel nie. 7Koning Joas roep toe vir Jojada en die ander priesters en vra vir hulle: “Hoekom het julle nie die tempel herstel nie? Julle mag niks meer van die gawes vir julle eie behoeftes gebruik nie. Van nou af moet alles gebruik word om die tempel te herstel.” 8Die priesters onderneem toe om nie meer geld van die mense te kollekteer nie. Hulle het ook ooreengekom om nie self die herstelwerk van die tempel te doen nie.
9Die priester Jojada het ’n kis gevat, ’n gat in die deksel geboor en dit by die altaar regs van die ingang van die tempel van die Here neergesit. Die priesters wat by die ingang waggehou het, het al die geld wat na die tempel van die Here gebring is, in die kis gegooi. 10Telkens wanneer die kis vol geld was, het die sekretaris van die koning en die hoëpriester die geld wat na die tempel van die Here gebring is, getel en in sakke gesit. 11Daarna het hulle die geld aan die opsieners van die bouery gegee. Hulle, weer, het dit gebruik om die werkers wat die tempel van die Here herstel het, te betaal. Daar was skrynwerkers en bouers, 12messelaars en klipkappers. Hulle het ook die geld gebruik om hout en gekapte klip te koop waarmee die tempel van die Here herstel is. Ook ander uitgawes ten opsigte van die herstelwerk van die tempel het hulle hieruit betaal.
13Die geld wat na die tempel toe gebring is, is nie gebruik om silwerbekers, snuiters vir die lampe, wasbakke, trompette of ander gereedskap van goud of silwer vir die tempel van die Here te maak nie. 14Dit is aan die werksmense betaal om die tempel te herstel. 15Daar is nie boekgehou van die geld wat aan die opsieners van die bouery gegee is nie, want hulle was eerlik en getrou. 16Die geld wat gegee is vir skuldoffers en sonde-offers is egter nie na die tempel van die Here gebring nie. Dit was vir die priesters bedoel.
Die einde van Joas se regering
17Ongeveer hierdie tyd het koning Gasael van Aram teen Gat oorlog gemaak en dit verower. Daarna het hy besluit om teen Jerusalem op te trek. 18Koning Joas van Juda het al die gewyde voorwerpe wat sy voorvaders Josafat, Joram en Ahasia, die vorige konings van Juda, gegee het, aan koning Gasael van Aram gestuur. Hy het ook dit wat hy gegee het saam met al die goud wat in die skatkamers van die tempel van die Here en die paleis te vind was aan koning Gasael gestuur. Gasael het toe sy aanslag op Jerusalem afgelas.
19Die ander gebeurtenisse tydens Joas se bewind en alles wat hy gedoen het, is opgeteken in Die boek van die handelinge van die konings van Juda. 20Sy amptenare het teen hom saamgesweer en hom by Bet-Millo op die afdraande na Silla doodgemaak. 21Die samesweerders was sy amptenare Sabad seun van Simat en Josabad seun van Somer. Joas is begrawe in die familiegraf in die Dawidstad. Sy seun Amasia het hom opgevolg.

Seçili Olanlar:

2 KONINGS 12: NLV

Vurgu

Paylaş

Kopyala

None

Önemli anlarınızın tüm cihazlarınıza kaydedilmesini mi istiyorsunuz? Kayıt olun ya da giriş yapın

YouVersion, deneyiminizi kişiselleştirmek için tanımlama bilgileri kullanır. Web sitemizi kullanarak, Gizlilik Politikamızda açıklandığı şekilde çerez kullanımımızı kabul etmiş olursunuz