Galasiërs 1
1
1Sha’ul, ’n afgevaardigde - nie vanaf mense of deur ’n mens aangestel nie, maar deur Yeshua, Die Gesalfde Een en deur God, Sy Vader, wat Hom uit die plek van die dood uit opgewek het -
2en al die broers wat by my is; aan die gemeentes wat in Galatia is:
3onverdiende guns vir julle en vrede, vreugde, gesondheid, voorspoed en vergenoegdheid van God-die-Vader en van ons Meester, Yeshua, Die Gesalfde Een,
4Hy wat Homself gegee het ter wille van ons sondes, om ons te bevry uit hierdie bose wêreld, volgens die wil van God, ons Vader,
5aan Wie die eer, lof en aanbidding toekom vir ’n tydlose ewigheid! Dit is waar.
6Ek is stom geslaan hoe vinnig julle van Die Gesalfde Een af weggedraai het, hy wat julle deur Sy onverdiende guns geroep het, na ’n ander ‘goeie boodskap,’
7wat nie bestaan nie, maar daar is mense wat julle lastig val en die goeie nuus van Die Gesalfde Een wil verdraai.
8Selfs as ons, of ’n boodskapper uit die hemel, vir julle ’n ander boodskap verkondig as die boodskap wat ons aan julle verkondig het, sal hy vervloek wees!
9Net soos wat ek vroeër gesê het, sê ek nou ook weer: enige iemand wat aan julle ’n boodskap verkondig anders as die wat julle ontvang het, sal vervloek wees!
10Soek ek inderdaad nou die aanvaarding van mense, of van God? Probeer ek om mense tevrede te stel? As ek tot nou toe mense tevredegestel het, dan is ek nie ’n slaaf van Die Gesalfde Een nie,
11maar ek verklaar teenoor julle, my broers, dat die goeie boodskap wat deur my verkondig is, nie vanaf die mens is nie
12en ek het dit ook nie vanaf ’n mens ontvang of geleer nie, maar deur ’n openbaring van Yeshua, Die Gesalfde Een.
13Julle het gehoor van my vroeëre lewenswyse, wat in Judaïsme was, veral dat ek die gemeente van God uitermate vervolg en dit vernietig het
14en dat ek in Judaïsme uitgestyg het ver bo baie volksgenote van my eie ouderdom en baie ywerig was aangaande die leringe van my voorvaders.
15Toe God, wat my afgesonder het van my moeder se baarmoeder af, dit egter goed gedink het, het Hy my deur Sy onverdiende guns geroep,
16om Sy Seun in my te openbaar sodat ek Hom onder die ander nasies sou verkondig, het ek dit nie dadelik aan enige mens openbaar nie
17en ook nie na Yerushalayim opgegaan na dié wat voor my afgevaardigdes was nie, maar na Arabië gegaan en toe weer na Dammesek teruggekom.
18Ná drie jaar het ek na Yerushalayim opgegaan om Kefa te ontmoet en vyftien dae by hom gebly
19en ek het geen ander van die afgevaardigdes gesien nie, behalwe Ya’akov, die broer van ons Meester.
20Hierdie dinge wat ek vir julle skryf: let op, in die Teenwoordigheid van God, ek lieg nie!
21Na hierdie dinge het ek na die streke van Sirië en Kilikia gegaan
22en my gesig was onbekend by die gemeentes van Die Gesalfde Een in Y’hudah,
23maar hulle het slegs dit gehoor: hy wat hulle vroeër vervolg het, let op, verkondig nou die vertroue wat hy vroeër omver probeer werp het
24en hulle het hul lofprysing na God gedraai vir my.
Zvasarudzwa nguva ino
Galasiërs 1: SPC
Sarudza vhesi
Sarudza zvinyorwa izvi
Yenzanisa
Pakurirana nevamwe
Unoda kuti zviratidziro zvako zvichengetedzwe pamidziyo yako yose? Nyoresa kana kuti pinda
©Kopiereg 2025 deur Die Pad van Waarheid tot die Lewe Vertalings Projek.
Kopiereg op die inhoud behoort aan die Lewende, Skepper-God, YHWH, alleen. U is welkom om dit onveranderd te gebruik in enige leer of skrywe, met erkenning: “PWL” “PadWLewe” of “Die Pad van Waarheid tot die Lewe” vertaling.
Geen deel hiervan mag onder enige omstandighede, in enige formaat, verkoop word nie.
Sy Boodskap is gratis.