SPREUKE 31

31
1Die woorde van koning Lemuel van Massa.
Sy moeder het vir hom dié voorskrif gegee:
2My seun, my kind wat ek in die wêreld gebring het,
oor wie ek 'n gelofte gedoen het,
3moenie jou krag op vrouens vermors nie,
moenie jou lewe verspil met hulle nie;
hulle bring konings tot 'n val.
4Dit pas konings nie om te drink nie, Lemuel,
dit pas hulle nie,
dit pas mense met gesag nie om hulle aan drank oor te gee nie.
5As hulle drink, vergeet hulle wat die wet bepaal
en laat hulle nie reg geskied aan al die minderbevoorregtes nie.
6Gee drank aan dié wat besig is om onder te gaan,
laat dié wat swaar ly, drink;
7as so 'n mens drink, vergeet hy van sy armoede
en dink hy nie meer aan sy moeilikheid nie.
8Praat jý vir dié wat self nie hulle sê mag sê nie,
kom op vir die reg van dié wat te gronde gaan;
9praat, en lewer regverdige uitsprake,
laat reg geskied aan die armes en ellendiges.
10'n Knap vrou is baie werd,
baie meer as edelstene.
11Haar man steun op haar
en pluk die vrugte van haar werk.
12Sy bring vir hom net voordeel, nie nadeel nie,
haar hele lewe lank.
13Sy maak wol en vlas bymekaar
en geniet dit om dit te verwerk.
14Sy is soos die handelskepe,
sy bring die kos van ver af in.
15Sy staan op as dit nog nag is
en maak kos vir haar huisgesin;
ook haar slavinne kry hulle deel.
16Sy oorweeg die waarde van 'n stuk grond en koop dit,
sy sit dit onder wingerd met geld wat sy self verdien het.
17Sy pak die werk aan met krag,
haar hande staan vir niks verkeerd nie.
18Sy stel vas of die wins goed is,
haar lamp bly heelnag brand.
19Sy werk met die spinwiel,
haar hande bly besig met die weefstoel.
20Sy het 'n oop hand vir die armes,
sy is vrygewig teenoor die behoeftiges.
21Sy is gerus oor haar huisgesin as dit sneeu:
hulle dra almal warm klere.
22Sy maak self vir haar dekens
en sy dra klere van linne en wol.
23Haar man is welbekend by die stadspoort
waar hy saam met die leiers beraadslaag.
24Sy maak klere en verkoop dit,
sy lewer gordels aan die handelaars.
25Alles aan haar spreek van 'n sterk en edel persoonlikheid;
sy ken geen kommer oor die toekoms nie.
26As sy praat, is dit met wysheid;
as sy leiding gee, is dit met liefde.
27Sy hou goeie toesig oor haar huishouding;
lui is sy nie.
28Haar kinders prys haar,
haar man bewonder haar:
29“Daar is baie knap vrouens,
maar jy oortref hulle almal!”
30Uiterlike skoonheid hou nie,
'n mooi voorkoms is nie alles nie;
as sy die Here dien,
dán verdien 'n vrou om geprys te word.
31Gee haar wat haar toekom vir alles wat sy doen;
laat haar werk haar roem wees in die stadspoorte.

Tans Gekies:

SPREUKE 31: AFR83

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid