Johannes 14:1-14

Johannes 14:1-14 DB

“Moenie dat hierdie dinge julle te veel ontstel nie. Julle vertrou mos op God. Vertrou My ook. Skep moed! My Vader het ’n huis. Daar is meer as genoeg plek vir julle almal. Ek gaan om vir julle daar plek reg te maak. Dink julle een oomblik Ek sou dit gesê het as dit nie so was nie? As Ek alles vir julle reggekry het, kom Ek julle haal om by My te wees. Waar Ek is, sal julle dan ook wees. Julle weet eintlik goed waarheen Ek gaan en hoe om daar te kom.” “Met alle respek, Here,” sê Tomas, “ons ken nie eens die adres waarheen U gaan nie. Hoe op aarde sal ons dan weet watter pad om te vat?” Jesus sê toe: “Laat Ek dit so stel: Ek is die ‘pad’ en my Vader die ‘adres’. Wie hierdie pad loop, kom by die ware lewe uit. As iemand ’n ander pad loop, sal hy nooit by my Vader uitkom nie. “As julle regtig geweet het wie Ek is, sou julle ook geweet het wie my Vader is. Julle sal Hom nou leer ken en besef julle het Hom al gesien.” Filippus vra toe: “Here, waar’s die Vader? Wys Hom vir ons. Dan sal ons tevrede wees en niks verder vra nie.” “Ai, Filippus, Ek is al so lank by julle en nou nog weet julle nie wie Ek regtig is nie. Luister mooi. Wie My gesien het, het ook die Vader gesien. Hoe kan jy nou nog vra dat Ek julle die Vader moet wys? Glo julle nie dat Ek en die Vader soos een is nie? Waar Ek is, is Hy en waar Hy is, is Ek. Dink goed aan alles wat Ek al vir julle gesê het. Ek het dit nie so op my eie gesit en uitdink nie. Die Vader is by My en is deel van alles wat Ek doen. Wat Hy gedoen wil hê, doen Hy deur My. Dit moet julle aanvaar: Ek is in die Vader en die Vader is in My. Vind julle dit moeilik om te glo wat Ek sê? Wel, kyk dan na wat Ek doen. Oordeel maar self of dit van God af kom of nie. Glo dan op grond van wat julle sien. “Luister nou ’n bietjie hier: as iemand My vertrou, sal hy dieselfde dinge doen as wat Ek doen. Om die waarheid te sê, hy sal baie meer doen, want Ek gaan binnekort na my Vader toe. Hoe gaan julle dit regkry om meer te doen? Om met God te praat deur middel van gebed gaan julle baie help. Ek sal vir julle gee wat julle vra, maar dan moet julle dit vra in gehoorsame afhanklikheid van My. Wat julle so vra, sal Ek gee. Dan sal julle dieselfde wonderlike dinge as Ek doen. Die gevolg sal wees dat God so deur My toedoen vereer word.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid