Psalms 37

37
1Van Dawid.
א ALEF
Moet jou nie ontstel
oor die kwaaddoeners nie;
moenie afgunstig wees op hulle
wat kwaadwillig optree nie,
2want soos gras verdor hulle vinnig,
en soos groen plante verwelk hulle.
ב BET
3Vertrou op die Here
en doen die goeie,
bewoon die land
en waak oor betroubaarheid.
4 Vind jou vreugde in die Here,
dan sal Hy jou gee wat jou hart begeer.
ג GIMEL
5Vertrou jou lewenspad
aan die Here toe,
vertrou op Hom, en Hy sal optree.
6Hy sal jou •geregtigheid
soos die oggendlig laat verskyn
en jou reg soos die middagson.
ד DALET
7Wees stil voor die Here,
en krimp ineen van vrees voor Hom.
Moet jou nie ontstel oor iemand
wat sukses behaal
op sy lewenspad nie,
oor 'n mens wat komplotte smee nie.
ה HE
8Moenie kwaad word nie
en laat vaar die woede;
moet jou nie ontstel nie,
dit bring net kwaad.
9Want kwaaddoeners
sal vernietig word,
maar wie op die Here wag –
hulle sal die land besit.
ו WAW
10Nog net 'n rukkie, dan sal daar
geen goddelose meer wees nie.
Jy sal sy plek dophou,
maar hy sal nie daar wees nie.
11 Die verdruktes sal die land besit
en hulle verlustig
in die oorvloed vrede.
ז ZAJIN
12 'n Goddelose beplan onheil
teen die regverdige
en kners op sy tande vir hom.
13My Heer lag vir hom,
want Hy sien dat sy dag kom.
ח GET
14Goddeloses trek die swaard
en span hulle boog
om die magtelose en behoeftige
neer te vel,
om dié wat opreg leef, af te slag.
15Hulle swaard sal hulle eie hart
binnedring,
en hulle boë sal gebreek word.
ט TET
16Die bietjie wat 'n regverdige het,
is beter as die oorvloed
van baie goddeloses.
17Want die arms van goddeloses
sal gebreek word,
maar die Here ondersteun regverdiges.
י JOD
18Die Here dra sorg
vir die lewensdae van hulle
wat onberispelik leef:
Hulle erfdeel bly vir altyd behoue.
19Hulle sal nie beskaamd staan
in 'n tyd van teenspoed nie,
en in tye van hongersnood
is hulle versadig.
כ KAF
20Maar goddeloses gaan tot niet,
die vyande van die Here
soos kosbare weiveld verdwyn hulle,
in 'n rookwolk verdwyn hulle.
ל LAMED
21'n Goddelose leen
en betaal nie terug nie,
maar 'n regverdige is goedhartig
en mededeelsaam.
22Ja, wie deur Hom geseën is,
sal die land besit,
maar wie deur Hom vervloek is,
sal uitgeroei word.
מ MEM
23Danksy die Here
stap 'n jong man met ferm treë;
en die Here is tevrede
met sy lewenspad.
24As hy val, sal hy nie neerslaan nie
want die Here hou hom aan sy hand.
נ NUN
25Toe ek jonk was en selfs
noudat ek oud geword het,
het ek nie gesien
dat 'n regverdige versaak word,
of dat sy nageslag kos soek nie.
26Hy is altyd goedhartig
en leen graag uit,
sy nageslag is 'n seën vir ander.
ס SAMEK
27As jy die kwaad vermy
en die goeie doen,
sal jy vir altyd die land bewoon.
28Want die Here het •geregtigheid lief
en wie aan Hom getrou is,
verlaat Hy nie;
ע AJIN
en hulle word vir altyd beskerm,
maar die nageslag van goddeloses
word uitgeroei.
29Regverdiges sal die land besit
en vir altyd daarin woon.
פ PE
30Die mond van 'n regverdige
prewel wysheid
en sy tong praat wat reg is.
31Die wet van sy God is in sy hart,
sy voete sal nie struikel nie.
צ TSADE
32'n Goddelose hou die regverdige dop,
en is daarop uit om hom
dood te maak.
33Die Here gee hom nie oor
in sy hand nie,
en veroordeel hom nie
wanneer hy teregstaan nie.
ק KOF
34Wag op die Here, en hou by sy pad,
dan sal Hy jou aansien gee
om grond te besit.
Jy sal toekyk wanneer
goddeloses uitgeroei word.
ר RESJ
35Ek het 'n goddelose gesien,
'n gewelddadige, wat gedy het
soos 'n lowerryke, inheemse boom,
36maar toe iemand weer
daar verbygaan, was hy weg!
En toe ek hom soek,
was hy nêrens te vinde nie.
שׁ SJIN
37Let maar op 'n onbesproke mens,
kyk maar na 'n opregte,
want 'n vredeliewende mens
het 'n toekoms;
38maar oortreders
word almal saam uitgedelg,
die toekoms van goddeloses
word kortgeknip.
ת TAW
39Regverdiges se verlossing
kom van die Here
hulle toevlug in 'n tyd van verdrukking.
40Die Here help hulle
en bevry hulle.
Hy bevry hulle van goddeloses
en verlos hulle,
want hulle skuil by Hom.

Tans Gekies:

Psalms 37: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid