Eksodus 40

40
Oprigting van die tabernakel
1Die Here het met Moses gepraat en gesê: 2“Op die eerste dag van die eerste maand moet jy die •tabernakel, die Tent van Ontmoeting, oprig. 3 Jy moet die ark met die Getuienis daarin plaas en die ark met die voorhangsel afskerm. 4Dan moet jy die tafel inbring en dit wat daarop hoort, daarop rangskik. Jy moet die menora inbring en sy lampe aansteek. 5Jy moet die goue altaar vir die reukwerk voor die ark met die Getuienis neersit en dan die gordyn plaas by die ingang van die tabernakel. 6Jy moet die brandofferaltaar neersit voor die ingang van die tabernakel, die •Tent van Ontmoeting. 7Plaas dan die waskom tussen die Tent van Ontmoeting en die altaar en gooi water daarin.
8“Jy moet die binneplein rondom afskerm en die gordyn by die ingang van die binneplein hang. 9 Dan moet jy die salfolie neem en die tabernakel met alles wat daarin is, salf. Jy moet dit met al sy toebehore heilig, dan sal dit heilig wees. 10Jy moet ook die brandofferaltaar met al sy toebehore salf. Jy moet die altaar heilig, dan sal dit besonder heilig wees. 11Jy moet die waskom en sy voetstuk salf en dit heilig.
12 “Dan moet jy Aäron en sy seuns naderbring na die ingang van die •Tent van Ontmoeting, en hulle met water afspoel. 13Trek dan vir Aäron die heilige klere aan, salf hom en heilig hom, sodat hy vir My as priester kan optree. 14Sy seuns moet jy naderbring en die priesterrokke vir hulle aantrek. 15Dan moet jy hulle salf soos jy hulle vader gesalf het, dat hulle vir My as priesters kan optree. Hulle salwing moet vir hulle as 'n ewige priesterskap geld deur hulle geslagte heen.”
16Moses het dit toe gedoen – alles wat die Here hom beveel het, het hy net so gedoen. 17 In die tweede jaar, op die eerste dag van die eerste maand, is die tabernakel opgerig.
18Toe Moses die tabernakel opgerig het, het hy die voetstukke neergesit en die planke vasgesit. Hy het die dwarshoute aangesit en die staanders opgerig. 19Hy het die tent oor die tabernakel gespan en die tent se bedekking daaroor getrek, soos die Here Moses beveel het.
20Toe het hy die Getuienis geneem en dit in die ark geplaas. Hy het die draaghoute langs die ark ingesteek en die versoendeksel bo-op die ark neergesit. 21Toe het hy die ark in die tabernakel ingeneem, die voorhangsel wat dien as gordyn, opgerig, en die ark met die Getuienis afgeskerm, soos die Here Moses beveel het.
22Hy het die tafel in die Tent van Ontmoeting neergesit, in die tabernakel, aan die noordekant, buite die voorhangsel. 23Toe het hy die brood daarop gerangskik voor die Here soos die Here Moses beveel het. 24Hy het die menora in die Tent van Ontmoeting geplaas, in die tabernakel, aan die suidekant, teenoor die tafel. 25Moses het die lampe voor die Here opgesteek, soos die Here Moses beveel het.
26Hy het die goue altaar in die Tent van Ontmoeting neergesit voor die voorhangsel, 27en die geurige reukwerk daarop aan die brand gesteek, soos die Here Moses beveel het. 28Toe het hy die gordyn by die ingang van die tabernakel geplaas.
29Die brandofferaltaar het hy by die ingang van die tabernakel, die Tent van Ontmoeting, geplaas, en die brandoffer en •graanoffer daarop gebring, soos die Here Moses beveel het.
30Toe het hy die waskom tussen die Tent van Ontmoeting en die altaar neergesit, en water om mee af te spoel, daarin gegooi. 31Moses en Aäron en sy seuns het hulle hande en voete daaruit afgespoel. 32Wanneer hulle in die Tent van Ontmoeting ingegaan het en wanneer hulle die altaar genader het, het hulle hulle afgespoel, soos die Here Moses beveel het.
33Toe het Moses die binneplein rondom die tabernakel en die altaar afgeskerm, en die gordyn by die ingang na die binneplein gehang. So het Moses die werk afgehandel.
Verskyning van die heerlikheid van die Here
34 Die wolk het die Tent van Ontmoeting bedek en die heerlikheid van die Here het die tabernakel gevul. 35Moses kon nie in die Tent van Ontmoeting ingaan nie, omdat die wolk daaroor vertoef het en die heerlikheid van die Here die tabernakel gevul het.
36Wanneer die wolk van die tabernakel af opgeneem is, het die Israeliete, op al hulle trekskofte, kamp opgebreek. 37Maar as die wolk nie opgeneem is nie, het die volk nie kamp opgebreek nie, tot die dag dat dit weer opgeneem is. 38Want die wolk van die Here was bedags oor die tabernakel en snags was daar vuur in, sigbaar vir die hele huis van Israel, op al hulle trekskofte.

Tans Gekies:

Eksodus 40: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid