2 Korinthiërs 12

12
Paulus se gesigte en openbarings
1As daar dan geroem moet word, is dit nie voordelig nie; maar ek kom nou by gesigte en openbarings van die Here. 2Ek weet van 'n man in •Christus wat veertien jaar gelede tot in die derde hemel weggeruk is – of dit in die liggaam of buite die liggaam is, weet ek nie, God weet dit. 3Ek weet ook van so 'n man – of dit met die liggaam of sonder die liggaam was, weet ek nie, God weet dit – 4dat hy weggeruk is tot in die paradys, en onuitspreekbare woorde gehoor het wat 'n mens nie mag noem nie. 5 Op so iemand sal ek my beroem, maar op myself sal ek my nie beroem nie, behalwe oor my swakhede. 6As ek my wel daarop wil beroem, sal ek nie dwaas wees nie, want ek sal die waarheid praat. Maar ek weerhou my daarvan, sodat niemand meer aan my sal toedig as wat hy van my sien of by my hoor nie, 7selfs met inagneming van die buitengewone aard van my openbarings. Daarom, om te keer dat ek opgeblase word, en sodat ek nie hoogmoedig mag word nie, is daar vir my 'n doring in die vlees gegee, 'n engel van Satan, om my met die vuis te slaan. 8Hieroor het ek die Here drie maal gesmeek dat dit van my moet wyk. 9Maar Hy het vir my gesê: “My genade is vir jou genoeg, want my krag word in swakheid volbring.” Daarom sal ek my baie liewer op my swakhede beroem, sodat Christus se krag my kan beskut. 10 Ter wille van Christus verheug ek my in swakhede, beledigings, ontberings, vervolgings en benoudhede; want wanneer ek swak is, juis dan is ek sterk.
11Ek het soos 'n dwaas opgetree! Julle het my daartoe gedwing, want ek moes eintlik deur julle aanbeveel gewees het, omdat ek geensins agtergestaan het by die sogenaamde super-apostels nie, al is ek ook niks. 12 Dit wat 'n •apostel kenmerk, is inderdaad by julle verrig, met alle volharding, met tekens en wonders en kragtige dade. 13In watter opsig is julle dan swakker behandel as die ander •gemeentes, behalwe dat ek nie vir julle 'n geldelike las was nie? Vergewe my tog hierdie onreg!
Besorgdheid oor die gemeente in Korinthe
14Kyk, dit is nou die derde keer dat ek gereed is om na julle te kom. En ek sal nie 'n geldelike oorlas wees nie, want ek soek nie julle besittings nie, maar vir julle. Dit is nie die kinders wat moet spaar vir die ouers nie, maar die ouers vir die kinders. 15Wat my betref, sal ek met graagte betaal, en myself as betaling gee, ter wille van julle siele. As ek julle oorvloediger liefhet, waarom ontvang ek dan minder liefde? 16Nou goed, ek het julle dus nie belas nie. Maar aangesien ek 'n slinkse mens is, het ek julle glo met lis gevang! 17Het ek julle miskien uitgebuit deur enigeen van dié wat ek na julle gestuur het? 18Ek het Titus aangespoor, en die broer saam met hom gestuur – het Titus julle miskien uitgebuit? Het ons nie in dieselfde gees, in dieselfde voetspore, gewandel nie?
19Julle dink reeds lankal dat ons onsself teenoor julle verdedig. Deur •Christus praat ons in die teenwoordigheid van God; en dit alles, geliefdes, is om julle op te bou. 20Ek is bevrees dat as ek kom, ek julle miskien nie sal vind soos ek graag wil nie, en ek deur julle bevind sal word soos julle graag wil nie; dat daar miskien onenigheid, jaloesie, woede-uitbarstings, selfsug, kwaadpratery, geskinder, verwaandheid en wanordelikheid sal wees; 21dat wanneer ek weer kom, my God my voor julle sal verneder, en ek sal treur oor baie van dié wat vroeër gesondig het, en hulle nie bekeer het van die onreinheid en onsedelikheid en losbandigheid wat hulle bedryf het nie.

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid