Psalms 91

91
1As jy na die allerhoogste God toe gaan dat Hy jou moet oppas, kan jy van een ding seker wees: Die almagtige God sal jou bewaar.
2Jy kan vir die Here sê: “U beskerm en bewaar my.
U is my God op wie ek vertrou.”
3Dis die Here wat jou uit die moeilikheid kom haal as iemand jou met skelmstreke om die bos gelei het. Hy bly getrou aan jou.
4Hy sal jou verlos van enige gevaar wat jou lewe bedreig.
Hy sal jou veilig oppas. Daarom kan jy by Hom gaan wegkruip.
Met sy groot liefde keer Hy die gevaar af.
5Jy hoef nie bang te wees dat enige mag jou bedags of snags sal oorrompel nie.
6Geen bose gees sal jou onverwags in besit neem nie.
Nie eens ’n gevaarlike siekte wat jou van agter af bekruip, of ’n epidemie wat jou oorval, sal jou kwaad kan aandoen nie.
7Al is die gevaar rondom jou so groot dat duisende mense langs jou doodgaan, ja, ook al sterf derduisende mense naby jou, sal jy niks oorkom nie.
8Jy sal staan en kyk hoe mense wat nie op die Here vertrou nie, platgetrap word.
9Dit is goed dat jy by die allerhoogste God gaan wegkruip.
10Ongelukke, rampe en ernstige siektes sal jou of jou huis nie tref nie.
Hy self sal jou bewaar.
11Sy engele sal jou omring wanneer die Here vir hulle sê om dit te doen. Hy sal sê dat hulle jou moet beskerm.
12Hulle sal jou veilig in hulle hand vashou sodat jy nie seerkry nie.
13Jy sal nie eens jou toon teen ’n klip stukkend stamp nie. Jy sal oor jou vyande loop.
Van een ding kan jy baie seker wees: as jy op die Here vertrou en elke dag op sy hulp staatmaak, sal nie eens die grootste gevare in die lewe jou ooit onderkry nie.
Met die Here se hulp sal jy elke moeilikheid wat jou oorkom te bowe kom.
Jy sal bo dit alles uittroon.
14Die Here sê self: “Iemand wat My liefhet, sal Ek uit enige gevaar bevry.
Ek sal hom beskerm omdat hy My vertrou.
15Wanneer hy My om hulp vra, sal Ek hom help; Ek sal hom in enige krisis bystaan.
In sy nood sal Ek hom help. So sal Ek eer aan hom bewys.
16Ek sal sy lewe vol maak met goeie dinge. Hy sal lank leef.
Hy sal bly wees, want hy weet dat Ek graag help.”

Seçili Olanlar:

Psalms 91: DB

Vurgu

Paylaş

Kopyala

None

Önemli anlarınızın tüm cihazlarınıza kaydedilmesini mi istiyorsunuz? Kayıt olun ya da giriş yapın

YouVersion, deneyiminizi kişiselleştirmek için tanımlama bilgileri kullanır. Web sitemizi kullanarak, Gizlilik Politikamızda açıklandığı şekilde çerez kullanımımızı kabul etmiş olursunuz