Psalms 89

89
1’n Gedig van Etan, die Esragiet
2Ek sal altyd liedere sing oor die Here wat so goed is vir my omdat Hy my liefhet.
Ek sal vir almal wil vertel dat ’n mens U altyd kan vertrou.
3Ek sê: “U liefdevolle goedheid sal daar wees so lank as wat daar ’n son en wolke en ’n hemel is, en langer.”
4U het gesê: “Ek het ’n ooreenkoms met Dawid gemaak.
Ek het hom gekies en hy dien My.
5Ek het beloof dat hy en sy nageslag vir altyd daar sal wees,
met ’n nakomeling van hom op die troon.”
6Die hemelwesens sing oor u krag om wonders te doen.
Ja, ’n mens kan U regtig vertrou.
7Daar is niks en niemand wat soos U is nie, nie eens in die hemel nie. Hulle kom nie eens naby U nie.
8Almal rondom U, ook in die hemel, het ’n heilige ontsag vir U.
O God, U is die sterkste van die sterkstes. Almal is bang vir U.
9Wie is naastenby so sterk soos U, Here, groot Bevelvoerder?
’n Mens kan U altyd vertrou. Want U is baie sterk.
10U is in beheer van die see met sy onstuimige golwe. U laat hulle bedaar.
11Alle vyande, groot en klein, het voor u mag geswig.
U verslaan selfs die magtige seemonsters.
U het as wenner uit die stryd getree.
12U het alles gemaak. Dit is U s’n.
Alles, van die noorde tot die suide, het U gemaak. Alles behoort aan U.
13Die hoogste berge het U gevorm, daar kan ’n mens sien hoe groot U regtig is.
14U is ongelooflik sterk; u mag is onberekenbaar.
15Waar U regeer, gebeur daar niks verkeerds nie.
U is goed vir mense omdat U hulle liefhet. Hulle kan U vertrou.
16Die mense is gelukkig wat liedere vir U kan sing, wat in u teenwoordigheid mag leef. 17Hulle juig die hele dag lank en praat oor baie dinge wat U doen.
U red hulle, en U tree reg op.
18Hulle kan nie uitgepraat raak oor hoe sterk U is nie. Omdat U ons liefhet, is ons wenners. Daarom is ons sterk.
19Die Here stel die koning aan om ons te beskerm. Hy behoort aan U.
20In ’n visioen het U vir u profeet oor hom gesê: “Ek het ’n held gehelp. En Ek eer hom. 21Dit is Dawid.
Ek het hom gekies om koning te word, en hy dien My.
22Ek sal hom sterk maak en sterk hou.
23Sy vyande sal hom nie kan seermaak nie, en slegte mense sal hom nie kan uitoorlê nie.
Ek sal daarvoor sorg, 24Ek sal sy vyande vermorsel. Dié wat hom haat, sal Ek self straf.
25Ek sal hom nie in die steek laat nie. Ek sal goed wees vir hom.
Ek sal hom help om ’n ware wenner te wees.
26Sy mag sal uitbrei oor groot gebiede.
27Hy sal van My praat as sy Vader, sy God en die Een wat hom red en beskerm.
28Ek sal hom die koning oor al die konings maak. Ek sal hom eerste stel.
29Ek sal getrou bly aan hom en aan my ooreenkoms met hom dat Ek sy God sal wees.
30Sy kinders se kinders sal altyd daar wees, met ’n nakomeling van hom op die troon so lank as wat die hemel bestaan.
31-32“As sy kinders egter nie doen wat Ek en my wet wil hê nie, 33sal Ek hulle straf. As hulle nie alles doen wat Ek vir hulle sê nie, sal Ek hulle laat swaarkry vir alles wat hulle verkeerd doen. Ek sal hulle baie seer slaan daarvoor.
34Maar dan sal Ek nie vir Dawid minder lief wees nie. Ek sal steeds getrou bly aan Hom. 35Ek sal ook nie my ooreenkoms met hom verbreek nie. Ek sal al my beloftes nakom.
36Ek het gesê Ek sal sy God wees, en dit sal Ek bly. Ek sal nie van plan verander nie.
37Sy kinders se kinders sal vir altyd daar wees, met ’n nakomeling van hom op die troon.
38So sal dit wees, so lank as wat daar ’n son in die hemel is.”
39Maar U het tog kwaad geword vir die een wat U as koning aangestel het.
U het hom nou alleen gelaat.
40U het u ooreenkoms met u dienaar opgehef en sy kroon in die stof laat val.
41Van sy huis en vestings is niks meer oor nie, net ’n hoop rommel.
42Hy word besteel deur elke Jan Rap en sy maat wat daar verbykom.
Die mense rondom hom lag hom uit.
43Sy vyande het gewen. Hulle het van blydskap geskreeu.
44Hy kon nie meer ’n geveg wen nie. Sy wapens het ook nie meer gehelp nie.
Hy het ’n niks geword. 45Sy koningskap en regering was daarmee heen.
Sy troon is vernietig.
46Hy het voor sy tyd oud geword.
Hy moes deur die lewe gaan met sy kop in skaamte gesak.
47Hoe lank sal U nog kwaad bly, o Here?
Hoe lank nog sal U niks met hom te doen wil hê nie?
48Onthou, die lewe van die mense wat U gemaak het, is maar kort.
Ons is almal mense wat doodgaan.
49Wie sal die dood kan vryspring? Wie kan homself van die dood red?
50Here, waar is u goedheid en liefde heen?
U het tog beloof dat U altyd vir Dawid lief sal bly en goed vir hom sal wees.
51Here, dink asseblief aan die mense wat U dien.
Kyk hoe sleg gaan dit met hulle en hoe skaam kry hulle voor die ander mense.
52Daardie mense wat ons so spot en skaam laat kry, is u vyande.
Hulle spot die koning wat U self aangestel het.
53Loof die Here vir ewig en altyd. Hy verdien dit. So is dit en so sal dit bly.

Seçili Olanlar:

Psalms 89: DB

Vurgu

Paylaş

Kopyala

None

Önemli anlarınızın tüm cihazlarınıza kaydedilmesini mi istiyorsunuz? Kayıt olun ya da giriş yapın

YouVersion, deneyiminizi kişiselleştirmek için tanımlama bilgileri kullanır. Web sitemizi kullanarak, Gizlilik Politikamızda açıklandığı şekilde çerez kullanımımızı kabul etmiş olursunuz