Psalms 78

78
Vir Asaf
1My vriende, luister nou baie mooi wat ek vir julle wil sê. Ek gaan julle leer.
Maak julle ore oop sodat julle goed kan hoor!
2Ek wil ’n belangrike verhaal aan julle vertel, iets wat lank terug gebeur het en ’n mens nou nog laat wonder.
3Dis ’n verhaal wat ons by ons pa gehoor het en wat al ons kinders goed moet ken.
4Daarom vertel ons dit vir die jong geslag,
sodat hulle kan weet van die groot dinge wat die Here gedoen het.
Hulle moet weet hoe groot en sterk Hy is
en watter buitengewone groot dinge Hy gedoen het.
5Hy het vir Jakob gesê hoe om te leef en aan Israel sy wet gegee.
Die Here het ons oupas en oumas beveel om dit alles vir hulle kinders te vertel.
6Almal moet die kans kry om te hoor dat hulle in God moet glo. Ook ons kinders en kleinkinders moet daarvan kennis neem.
7Niemand mag ooit vergeet wat God gedoen het nie.
So sal hulle leer om ook op God te vertrou.
Hulle sal doen wat Hy sê.
8Mag die Here gee dat die jong geslag nooit soos hulle oupas en oumas sal maak nie.
Dié het mos die rug vir die Here gedraai, ’n regte spul hardekoppe;
daarom het hulle geweier om te doen wat Hy sê. Hulle was ontrou aan God.
9Ons verhaal begin by die Efraimiete: ’n klomp soldate wat baie goed kon veg.
Maar toe die oorlog begin, het hulle weggehardloop.
10Want hulle het nie na God geluister nie. Hulle het nie die voorwaardes van sy ooreenkoms gehoorsaam nie.
11Hulle het gou vergeet watter groot dade God voor hulle oë gedoen het.
12Die Here het groot wonders voor hulle ouers se oë laat gebeur
daar in Egipte, in die veld van Soan.
13Die Here het die see voor hulle laat oopgaan sodat hulle daardeur kon stap.
Hy het die water daardie dag soos ’n muur laat opdam.
14Bedags het Hy ’n wolk gestuur om hulle te lei.
En snags was daar ’n bol vuur in die lug om hulle op die regte pad te hou.
15Daar in die woestyn het God rotse oopgebreek en hulle dors weggevat deur vir hulle strome water uit die rots te gee om te drink.
16Strome, nee, riviere vol water het uit die rotse geloop.
17Nogtans het hulle aangehou om verkeerde dinge te doen.
Daar in die woestyn het hulle geweier om na die Allerhoogste te luister. Hulle het teen Hom in opstand gekom.
18Hulle het God baie kwaad gemaak,
want hulle wou allerhande luukshede by Hom hê; net die beste kos was vir hulle genoeg.
19Soos bedorwe kinders het hulle gesê:
“Hoekom dek God nie vir ons ’n feesmaal hier in die woestyn nie?
20Hy kan mos ’n rots slaan dat jy net water sien spuit. Riviere kom mos uit rotse.
Vir wat hou Hy dan nie ’n groot feesmaal vir sy volk
met lekker brood en skottels vol vleis nie?”
21Die Here was baie kwaad toe Hy hoor wat hulle sê.
Sy woede het soos ’n vuur op Jakob afgekom, soos ’n orkaan op Israel, 22want hulle wou nie in God glo nie.
Hulle het nie op sy hulp staatgemaak nie.
Gelukkig is God ’n goeie God; daarom het Hy sy volk gehelp.
23Hy het vir die wolke gesê: “Gaan oop!” Hy het die deure van die hemel oopgemaak.
24Hy het arms vol kos op hulle laat neerreën uit die hemel: manna, hemelse brood! 25Skielik het gewone mense dieselfde kos as engele in die hemel geëet.
Elke dag was daar oorgenoeg kos vir almal. God het dit gestuur.
26Hy het ook die oostewind laat opkom en met die suidewind gepraat,
27toe val daar skielik voëls soos stof uit die lug op hulle af,
’n oorvloed vleis, so baie soos die sand van die see.
28Boonop het God hierdie voëls bo-op die volk se staanplek laat val,
sommer tussen hulle tente.
29Die mense kon hulle honger heerlik stil.
Daar was meer as genoeg vir elkeen. Hulle kon meer as genoeg eet.
30Maar hulle was nog nie tevrede nie. Hulle was gulsig.
Hulle wou nog meer hê, selfs met hulle mond propvol kos!
31Toe het God kwaad geword vir hulle,
Hy het die sterkstes onder hulle laat doodgaan.
Al die jongmans van Israel het omgekom.
32Die volk het aangehou om verkeerde dinge te doen.
Hulle het hulle net mooi niks aan God se wonders gesteur nie.
33Daarom dat God hulle lewe in die sand laat wegsyfer het. Hulle het vergaan.
34Elke keer as God hulle gestraf het, het hulle gou om genade kom smeek. Hulle het Hom gesoek en na Hom toe gedraai.
35Dan was hulle vinnig om te sê: “Ons kom kruip weg by God;
die Allerhoogste is ons Redder.”
36Hulle het mooi woorde vir God gesê, maar niks daarmee bedoel nie.
Hulle het kliphard gelieg!
37Hulle hart was ver van Hom af, hulle woorde en dade ook! Hulle het nie hulle ooreenkoms met Hom gehou nie.
38Gelukkig kry God mense jammer,
Hy dink nie vir altyd aan hulle sondes nie; Hy sit nie net reg om te straf nie.
Keer op keer vat God die straf weg wat Hy op mense wil loslaat,
Hy hou gou op om vir mense kwaad te wees.
39God het onthou dat sy volk doodgewone mense is.
Hulle is soos ’n wind wat ’n rukkie waai en dan verdwyn.
40Baiekeer het Israel in die woestyn gemaak of hulle God glad nie ken nie. Hulle het teen Hom in opstand gekom.
Hulle het Hom kwaad gemaak. Hulle het Hom hartseer gemaak.
41Oor en oor het hulle God se geduld beproef.
Hulle het Israel se heilige God in die gesig gevat!
42Hulle het gou-gou vergeet dat Hy hulle gered het toe hulle vyande hulle wou doodmaak, 43en watter wonders Hy in Egipte gedoen het, daar in die veld van Soan.
44Hy het riviere in bloed verander, g’n mens kon daarvan drink nie.
45Hy het steekvlieë gestuur om die mense uitmekaar te steek.
Hy het paddas gestuur om alles te verwoes.
46Hy het sprinkane die Egiptenaars se oeste laat opvreet.
47Hy het hael al hulle wingerde laat stukkend slaan,
kwaai ryp het hulle vrugtebome laat doodgaan.
48Hy het hael op hulle diere laat neerreën
en swaar donderweer op hulle vee.
49God se woede het Egipte hard getref.
Sy woede het soos ’n vuur gebrand,
’n wavrag vol onheil het Hy op hulle losgelaat.
50Hy was woedend vir hulle.
Boodskappers van die dood het hulle getref.
Pes en siekte was hulle voorland.
51Al die oudste seuns in die huise in Egipte het Hy doodgemaak,
al die oudste kinders wat van Gam afstam.
52Maar die Here het sy eie volk laat wegtrek.
Soos ’n goeie skaapwagter het Hy hulle deur die woestyn gelei.
53Hy het sy volk goed opgepas sodat hulle nie bang was nie.
Al hulle vyande het in die see verdrink.
54Hy het sy volk na die land toe gebring wat Hy vir hulle uitgesoek het, na die bergland wat die Here self gekies het. Hy het self hierdie gebied vir hulle verower.
55Ander volke het Hy voor hulle weggejaag,
sodat hulle die land gekry het wat God vir hulle gekies het.
Daar het al die stamme van Israel ’n blyplek gekry, waar die ander nasies eens gebly het.
56Maar die Israeliete het geweier om na God te luister. Hulle het teen Hom gerebelleer.
Hulle het die Allerhoogste se voorskrifte die een na die ander verwerp.
57Hulle het hulle glad nie aan God gesteur nie, presies soos hulle ouers.
Die hele spul was totaal onbetroubaar!
58Hulle het God se geduld getoets deur tot ander gode te bid
en Hom kwaad gemaak toe hulle voor beelde wat uitgekerf is, gebuig het.
59Toe God sien wat aangaan, het Hy baie kwaad geword.
Net daar het Hy sy rug vir Israel gedraai.
60Die tabernakel in Silo waar die volk gebid het, het Hy verwerp.
Vroeër het Hy hier gebly.
61God het sy volk oorgegee in die hand van hulle vyande,
want hulle het sy groot Naam vertrap. Hy het hulle uit die land weggejaag.
62Hy het toegelaat dat ander mense sy volk doodmaak,
met sy eiendom wou Hy niks te doen hê nie.
63Jongmans het in die vuur doodgebrand.
Later was daar niemand meer oor om met die meisies te trou nie.
64Selfs die priesters is in die oorlog doodgemaak.
Hulle weduwees het nie eens ’n kans gehad om oor hulle te huil nie.
65Toe, skielik, het die Here weer op die toneel verskyn!
Dit was of Hy uit ’n diep slaap wakker geword het
soos iemand wat in ’n roes was na hy te veel wyn gedrink het.
66Hy het sy vyande met ’n ystervuis getref, hulle onderstebo geloop.
So erg het hulle nog nooit verloor nie.
67Die Here het nie die stam van Josef as leier gekies nie,
ook nie die stam van Efraim nie.
68Sy keuse het op Juda geval.
Die Sionsberg waarvoor Hy so lief is, was sy keuse.
69Daar het God sy heilige plek gebou.
Dit het bo alles uitgetroon, vas en stewig.
70Hy het Dawid as sy dienaar gekies
en hom tussen die skape gaan uithaal.
71Die Here het hom gaan haal daar tussen die jong skape
om sy volk Jakob op te pas en sy hand oor Israel te hou.
72Dawid was ’n goeie herder.
Hy het hulle goed gelei en met liefde versorg.

Seçili Olanlar:

Psalms 78: DB

Vurgu

Paylaş

Kopyala

None

Önemli anlarınızın tüm cihazlarınıza kaydedilmesini mi istiyorsunuz? Kayıt olun ya da giriş yapın

YouVersion, deneyiminizi kişiselleştirmek için tanımlama bilgileri kullanır. Web sitemizi kullanarak, Gizlilik Politikamızda açıklandığı şekilde çerez kullanımımızı kabul etmiş olursunuz