Psalms 37

37
Vir Dawid
1Moenie jou energie mors om heeltyd oor slegte mense te praat nie.
Moenie loop en kla dat hulle loskom met hulle skelmstreke nie. Moenie op hulle jaloers wees nie.
2Hulle verdwyn sommer op ’n dag.
Vandag is hulle daar; môre is hulle weg.
3Glo liewer in die Here.
Doen goeie dinge vir ander mense. Doen wat jy moet doen, en bly getrou aan die Here.
4Wees elke oomblik bly dat jy die Here ken. Hy sal sorg dat jy kry wat jy wil hê.
5Stel jou lewe elke dag in die Here se hand. Vertrou op Hom. Hy sal vir jou sorg.
6Hy sal jou op die regte pad hou.
Die Here sal vir almal wys dat jy reg leef.
7Buig laag voor die Here. Wag op Hom sonder om veel te sê.
Hou op om jou so om te krap oor hoe goed dit met skelms gaan.
8Moenie kwaad word oor alles wat hulle doen nie.
Op die ou end bring dit net vir jou moeilikheid.
9Slegte mense sal die een of ander tyd verdwyn.
Net mense wat in die Here glo, sal dan oorbly. Die land sal aan hulle behoort.
10Net ’n klein rukkie nog,
dan sal daar nie meer mense wees wat niks van God wil weet nie.
Jy sal na hulle soek, maar hulle sal weg wees.
11Maar mense wat nie te veel van hulleself dink nie, sal die hele aarde erf.
Hulle sal bly wees oor hoe goed dit met hulle gaan.
12Slegte mense hou niks van die Here se kinders nie.
Hulle probeer dié mense uit die weg ruim.
13Maar die Here lag vir hulle. Hy weet hulle tyd raak min! Hulle dag kom.
14Slegte mense wil hulpelose mense en arm mense en mense wat die regte pad loop, doodmaak,
15maar binnekort is hulle almal dood. Mense wat sonder God leef, sal deur hulle eie toedoen doodgaan. Al hulle wapens sal vernietig word.
16Dis beter om net ’n paar besittings te hê en die Here lief te hê as om ’n sak vol geld te hê, maar jy glo nie in Hom nie.
17Onthou: slegte mense sal nie vir altyd baasspeel hier op aarde nie.
Die Here weet wat in sy kinders se lewe aangaan. Hy help hulle.
18Hy sorg altyd vir hulle. Wat hulle geërf het, behou hulle vir altyd.
19Wanneer almal rondom hulle swaarkry, sal hulle genoeg hê om van te leef. As ander honger ly, sal hulle genoeg hê om hulle versadig te eet.
20Maar die Here se vyande sal in rook en vlamme vergaan. Mense wat sonder God leef, sal tot niet gaan.
21Mense wat sonder God leef, leen geld by ander, maar betaal dit nooit terug nie.
Goeie mense kry ander mense jammer en help hulle.
22Mense met wie die Here tevrede is, sal eendag alles op die aarde besit.
Maar mense vir wie die Here sy rug keer, sal ondergaan. Hulle sal uitgeroei word.
23Die Here bepaal wat in die lewe van mense gebeur met wie se optrede Hy tevrede is.
Hy laat dit goed gaan met hulle.
24As hulle op die grond neerslaan, bly hulle nie lê nie.
Die Here kom buk by hulle en tel hulle weer op.
25Ek is nou al oud, maar ek het nog nie gesien dat mense wat reg voor God leef
ooit alleen is nie.
Nêrens staan gelowiges op straathoeke en bedel nie.
Hulle kinders gaan slaap nooit honger nie.
26Gelowiges gee regtig om vir ander mense. Hulle klou nie aan hulle geld vas nie. Hulle leen geld sonder om rente te hef.
Ook met hulle kinders sal dit goed gaan.
27Moenie die verkeerde doen nie. Doen net goeie dinge,
dan sal jy vir altyd naby aan Hom leef.
28Die Here hou baie van almal wat reg optree.
Sulke mense los Hy nooit alleen nie. Hy sal hulle altyd beskerm,
maar slegte mense verdwyn soos mis voor die son. Hulle word uitgeroei.
29Die Here se kinders sal die land kry en vir altyd daarin lewe.
30Die monde van mense wat reg lewe, praat wyse dinge. Hulle sê die regte dinge.
31God se wil oorheers hulle lewe;
daarom verdwaal hulle nooit in die sonde nie. Hulle slaan nie neer in die gemors nie.
32Slegte mense probeer goeie mense doodmaak. Hulle soek ’n kans om mense wat reg lewe, by te kom.
33Maar die Here pas sy kinders op. Hy laat hulle nie in die hand kom van mense wat sonder Hom leef nie. Hy laat nie toe dat hulle skuldig bevind word nie.
34Hou die Here se hand styf vas; doen net wat Hy sê.
Op die regte oomblik sal Hy jou hoog bo al jou probleme uitlig. Hy sal sorg dat reg aan jou geskied wanneer jy voor die hof gedaag is.
Jy sal sien hoe die sondaars ondergaan.
35Ek het al baie keer gesien hoe gewetenlose mense wat sonder God leef met ’n groot lawaai op die toneel verskyn, 36maar toe ek weer kyk, was hulle weg. Net mooi niks het van hulle oorgebly nie.
37Maar kyk ’n bietjie na mense wat na die Here luister, mense van vrede.
Hulle het ’n toekoms.
38Mense wat hulle nie aan die Here steur nie, leef in ’n doodloopstraat. Hulle word uitgeroei. Hulle het geen toekoms nie.
39Maar mense wat reg lewe, word deur die Here gehelp. Hulle skuil by Hom.
40Hy red hulle as hulle die dag swaarkry.
Die Here gee baie vir hulle om.
Daarom red Hy hulle wanneer slegte mense hulle wil seermaak.
By die Here is daar redding. Altyd!

Seçili Olanlar:

Psalms 37: DB

Vurgu

Paylaş

Kopyala

None

Önemli anlarınızın tüm cihazlarınıza kaydedilmesini mi istiyorsunuz? Kayıt olun ya da giriş yapın

YouVersion, deneyiminizi kişiselleştirmek için tanımlama bilgileri kullanır. Web sitemizi kullanarak, Gizlilik Politikamızda açıklandığı şekilde çerez kullanımımızı kabul etmiş olursunuz