Spreuke 3

3
Vertrou jy maar op die Here
1Jong vriend, luister na my raad. Dink mooi oor die alledaagse lewe na.
Dink wat jy op die regte oomblik moet sê en wat jy moet doen, wie en wat jy eerder moet vermy. ’n Wyse manier van leef het groot waarde. 2Baie gelukkige dae, baie opwindende lewensjare, groot blydskap kom daaruit voort.
3Moet nooit ophou om die Here lief te hê nie. Hou aan om reg te leef! Hierdie spreuke sal jou daarmee help. Bind al die spreuke soos ’n kettinkie om jou nek. Skryf dit in jou hart sodat jy dit nooit vergeet nie. 4Dan sal die Here die goeie dinge van die lewe vir jou gee. En die mense sal ook van jou hou.
5Moenie dink jy weet altyd die beste nie. Begin eerder elke dag weer van voor af om die Here lief te hê. En los tog al die slegte en verkeerde dinge.
6-7Vertel die Here alles waaroor jy dink, alles wat jy wil doen. Dan sal jy sien hoe Hy jou help. So ’n lewenshouding sal jou baie gelukkig maak. 8Dit sal selfs vir jou liggaam wonders doen. Jy sal gesond voel en vol krag wees.
Dien die Here met jou talente. 9Gee aan die Here ook ’n goeie deel van jou geld. 10Dan sal jy meer as genoeg hê om van te leef. Jou lewe sal vol vreugde wees.
11Soms ervaar jy hartseer en teleurstelling. Soms is jy kwaad vir die Here. Moet Hom egter nooit in jou woede vloek of verwyt nie. Soos ’n goeie pa soms met sy geliefde seun raas, so maak die Here ook met ons. 12Hy raas met ons omdat Hy ons so baie liefhet. So help Hy ons om met nog groter wysheid en vreugde te leef.
Hoe wonderlik is spreuke en
die lewenswysheid darem nie
13Iemand wat elke dag reg leef en met insig optree, se lewe is vol geluk. Die blydskap wat uit ’n wyse lewe straal, is baie kosbaar. 14Dit is baie meer werd as al die banke se geld en al die myne se goud, 15baie meer as die allerkosbaarste dinge wat jy graag wil hê.
16Nog ’n voordeel van ’n wyse manier van leef, is ’n lang lewe vol rykdom en eer. 17Dit bring baie aangename dinge. Dit bring vrede binne-in jou. 18Wysheid is soos ’n boom. Wie daaronder skuil, vind vreugde.
Wysheid is die belangrikste in die lewe. Selfs God het alles met wysheid geskep. 19Met wysheid het God die aarde gemaak en die hemele met insig aanmekaargesit. 20Sy kennis het fonteine uit die dieptes laat opspring en het wolke reën gegee.
Wysheid doen iets aan ’n mens
21Jong vriend, daar is twee dinge waarsonder jy in hierdie lewe nie kan klaarkom nie. Een is ’n begeerte om reg te leef. Die ander is om te weet hoe om reg te praat en te doen. 22Dié twee sal jou gelukkig maak. Hulle sal jou lewe versier.
23Dan sal jy ook veilig en beskut voel. 24Wanneer jy gaan slaap, sal jy nie bang wees nie. Jou nagrus sal goed wees.
25Moenie vir ’n skielike krisis of ramp skrik nie. Dikwels is dit net bedoel vir slegte mense wat nie die Here liefhet nie. Jy weet mos die Here is altyd by jou. 26Jy kan altyd op Hom vertrou. Hy sal jou beskerm.
Liefde vir ander
27Gee om vir die arme. As jy kan, moet jy nooit goed soos geld, klere en kos van die arme weghou nie.
28Help dadelik. Moenie vir jou naaste sê om liewer môre te kom as jy hom vandag al kan help nie.
29Bly altyd in ’n goeie verhouding met ander. Moenie kwaad teen jou vriend beplan terwyl hy jou vertrou nie.
30Moenie stry en baklei nie. Moenie rusie maak met iemand wat jou geen kwaad aangedoen het nie.
Vermy ’n goddelose lewenswyse
31Moet nooit iets wil hê wat aan ’n slegte mens behoort nie. Moet nooit soos hy word nie.
32’n Mens wat liefdeloos teenoor ander optree, is vir die Here ’n gruwel. Met die opregtes is Hy goed bevriend.
33Met ’n goddelose mens se familie gaan dit sleg, terwyl die Here iemand wat wys leef se huis met voorspoed, geluk en kinders oorlaai.
34Met hulle wat baie van hulleself dink, spot die Here. Hy lag lekker vir hulle. Hulle wat egter nederig is en uit sy hand leef, het Hy oneindig lief.
35Wyses ontvang in hierdie lewe eer terwyl dommes verneder word.

Seçili Olanlar:

Spreuke 3: DB

Vurgu

Paylaş

Kopyala

None

Önemli anlarınızın tüm cihazlarınıza kaydedilmesini mi istiyorsunuz? Kayıt olun ya da giriş yapın

YouVersion, deneyiminizi kişiselleştirmek için tanımlama bilgileri kullanır. Web sitemizi kullanarak, Gizlilik Politikamızda açıklandığı şekilde çerez kullanımımızı kabul etmiş olursunuz