Spreuke 24

24
Systap slegte mense
1Moet niks van slegte mense wil hê nie. Moet onder geen omstandighede met hulle bevriend raak nie. 2Hulle dink net aan verkeerde dinge. Hulle maak net moeilikheid.
3’n Gelukkige gesinslewe kom nie vanself nie. ’n Mens moet hard daarvoor werk. Dit is soos ’n huis wat jy bou. Alles moet netjies beplan word. 4Baie dinkwerk is nodig om dit ’n lekker plek te maak. Fyn smaak is nodig om dit mooi te maak.
5Wysheid is beter as fisieke krag. Dit maak jou geestelik sterk. Dit help jou om jou probleme op te los. 6Mense wat die lewe ken, kan jou ook baie help. Hulle sal jou leer om jou daaglikse moeilikhede te hanteer.
7Wysheid is bo ’n dom mens se vuurmaakplek. Jy tref ’n domme ook nie aan tussen mense wat die lewe ken nie. Natuurlik omdat hy bang is hulle hoor sy domheid.
8Iemand wat net slegte dinge beplan, kry gou-gou ’n baie slegte naam. 9Waaroor hy dink en wat hy doen, is een stuk sonde. Vir die gemeenskap is hy ’n verleentheid.
10’n Krisis leer jou hoe sterk jy werklik is. As jy ondergaan, was jou kragte maar min.
11Moenie net toekyk hoe mense onregverdig behandel word nie. Doen iets! Moenie toelaat dat hulle lewens verwoes word nie. Stop dit! 12Moenie agterna sê jy het niks daarvan geweet nie. Die Here ken ons en weet wat ons dink. Vir Hom kan ons niks wegsteek nie. Hy oordeel elkeen volgens sy werke.
13Heuning is gesond, lekker om te eet. 14So is die wysheid ook. Dit is goed vir die gesondheid. Dit waarop die wyse hoop, sal gebeur. 15Moenie soos ’n slegte mens op ’n medegelowige trap nie. Moenie sy eiendom beskadig of sy huismense seermaak nie.
16’n Gelowige staan elke keer na ’n terugslag weer op. Mense wat die Here nie ken nie, oorleef dit nie. Hulle het nie die moed om weer van voor af te begin nie.
17Moenie bly wees as dit met ander sleg gaan nie, al hou jy niks van hulle nie. 18As jy dit doen, stel jy die Here teleur. Op ’n goeie dag help Hy weer sulke mense.
19Moenie jou ontstel oor wat slegte mense aanvang nie. Moet niks van hulle wil hê nie. 20Hulle het niks om op te hoop nie. Hulle gaan sonder die Here dood.
21Jy moet die Here liefhê en jou leiers respekteer. Moenie jou ophou met mense wat magshonger is en net hulle eie belang soek nie. 22’n Skielike ramp kan hulle tref, dan is dit klaarpraat met hulle.
23Selfs ’n wyse regter moet hoor: “’n Partydige uitspraak is verkeerd.” 24Wie die skuldige vryspreek, sal deur niemand weer vertrou word nie. 25Wie die regte oordeel vel, sal die goeie van die lewe geniet.
26Mense hou baie van iemand wat eerlik is en reguit op vrae antwoord.
27Kry eers ’n goeie werk voordat jy ’n huis bou. Verdien eers genoeg voordat jy met ’n gesin begin.
28Moenie leuens oor ander vertel of iemand doelbewus in ’n swak lig stel nie. Moenie wraaksugtig wees nie. 29Moenie iemand terugkry vir wat hy aan jou gedoen het nie.
30Die wysheidsleraar sê: “Ek het by die huis van ’n luiaard verbygeloop. Alles was so verwaarloos. Niks word in stand gehou nie. Die gras is lank. 31Oral groei die onkruid welig. Boonop was die muur voor die huis stukkend. 32Toe ek dit sien, het ek daaroor nagedink. Hoekom is dit so? Uiteindelik het ek ’n antwoord gekry: luiheid bring armoede. 33Nog ’n bietjie slaap, nog ’n bietjie insluimer, nog ’n bietjie niks doen, 34en skielik oorval die armoede jou. Van die honger en die koue sal jy nog doodgaan.”

Seçili Olanlar:

Spreuke 24: DB

Vurgu

Paylaş

Kopyala

None

Önemli anlarınızın tüm cihazlarınıza kaydedilmesini mi istiyorsunuz? Kayıt olun ya da giriş yapın

YouVersion, deneyiminizi kişiselleştirmek için tanımlama bilgileri kullanır. Web sitemizi kullanarak, Gizlilik Politikamızda açıklandığı şekilde çerez kullanımımızı kabul etmiş olursunuz