Genesis 3

3
Die mens se val
1Van al die wilde diere wat die Here God gemaak het, was die slang die skelmste en agterbaksste. Op ’n dag probeer hy die vrou uitoorlê deur vir haar te sê: “Ek hoor julle mag nie van die bome in die tuin eet nie. God het glo vir julle so gesê, of hoe?”
2“Nee,” het die vrou die slang vinnig in die rede geval, “ons mag van al die bome in die tuin eet. 3Dit is net van daardie boom in die middel van die tuin waarvan ons nie mag eet nie. God het uitdruklik gesê: ‘Moenie daarvan eet nie. Moenie eers daaraan raak nie. As dit gebeur, sal julle doodgaan.’”
4Die slang het egter gesê: “Onsin! Julle sal g’n doodgaan nie. 5God is net bang. Hy weet as julle daarvan eet, sal julle oë oopgaan en sal julle soos Hy word. Julle sal dan goed en kwaad uit mekaar kan ken.”
6Die vrou begin toe twyfel. Sy kyk na die boom en sien hoe mooi dit is en hoe lekker die vrugte lyk. As sy daarvan eet, sou sy baie dinge te wete kom. Versigtig steek sy toe haar hand na die vrug uit. Sy pluk dit en begin eet. Sy pluk nog een en gee dit vir haar man. Hy het dit ook geëet. 7Skielik het hulle oë oopgegaan. Vir die eerste keer ontdek hulle hulle is kaal. Skaam-skaam gryp hulle toe ’n paar vyeblare, werk dit aan mekaar vas en maak vir hulle klere.
8Teen sononder se kant het die Here God in die tuin rondgeloop. Toe hulle Hom hoor, het hulle bang geword en tussen die bome vir Hom gaan wegkruip. 9Die Here God moes toe na die mens roep en sê: “Waar is jy?”
10Die mens het verleë geantwoord: “Hier is ek. Toe ek hoor U is hier het ek bang geword, want ek is mos kaal. Toe het ek weggekruip.”
11Die Here God vra toe vir die mens: “Wie het jou vertel dat jy kaal is? Of het jy van die verbode boom se vrugte geëet?”
12Die mens sê toe: “Dit is alles die vrou se skuld. Die einste vrou wat U my gegee het, het my van die boom se vrugte gegee. En ek het dit geëet.”
13Die Here God vra toe vir die vrou: “Hoekom het jy dit gedoen?”
Sy het geantwoord: “Dit is die slang se skuld. Hy het my om die bos gelei, toe het ek van die vrugte geëet.”
14Die Here God sê toe vir die slang: “Omdat jy dit gedoen het, is jy vervloek. Van al die wilde diere, ja, van almal in die dierewêreld sal dit met jou die heel slegste gaan. Op jou maag sal jy seil en stof sal jy eet jou hele lewe lank.
15“Ek maak jou en hierdie vrou bitter vyande van mekaar. Jou nageslag en haar nageslag sal mekaar haat. Hulle sal altyd probeer om jou kop plat te trap. En jy sal hulle aan die hakskeen wil byt.”
16Vir die vrou het Hy gesê: “Wanneer jou kinders gebore word, sal jou pyn ondraaglik wees. Elke kind sal in die allergrootste pyn gebore word. Jy sal ook altyd na jou man bly verlang, hy sal jou oorheers.”
17Vir die man het Hy gesê: “Omdat jy na jou vrou geluister het en van die verbode vrugte geëet het, sal die grond vervloek wees ter wille van jou: jy sal jou lewe lank bitter hard moet werk. Niks groei van nou af meer vanself uit die aarde nie. As jy iets wil oes, sal jy hard, baie hard, daarvoor moet werk.
18“En dan sal daar ook nog oral dorings en onkruid groei. Jy sal die plante van die veld moet eet. 19Met sweet en met harde werk sal jy ’n lewe uit die grond moet maak. So sal jy moet aanhou totdat jy dood is, totdat jy geword het soos die stof waaruit jy gemaak is. Onthou, jy is van stof gemaak en eendag sal jy ook maar weer net stof word.”
20Die man het sy vrou Eva genoem, want uit haar is al die latere geslagte mense gebore. 21Die Here God het toe vir Adam en Eva klere van vel gemaak en dit vir hulle aangetrek.
22Toe het God gesê: “Die mens het amper soos Ons geword. Hy weet nou wat die verskil tussen goed en kwaad is. Nou moet hy net nie ook nog die vrugte van die boom van die lewe eet nie, want dan leef hy vir altyd.”
23Daarom het God hom uit die tuin van Eden weggejaag. Hulle moes elders die grond gaan bewerk, dieselfde grond waaruit hulle gemaak is. 24Nadat hulle uit die tuin weg is, het die Here God engele met vlammende swaarde aan die oostekant van die tuin van Eden geplaas. Hulle moes die boom oppas wat vir altyd lewe gee.

Seçili Olanlar:

Genesis 3: DB

Vurgu

Paylaş

Kopyala

None

Önemli anlarınızın tüm cihazlarınıza kaydedilmesini mi istiyorsunuz? Kayıt olun ya da giriş yapın

YouVersion, deneyiminizi kişiselleştirmek için tanımlama bilgileri kullanır. Web sitemizi kullanarak, Gizlilik Politikamızda açıklandığı şekilde çerez kullanımımızı kabul etmiş olursunuz