Genesis 27

27
Isak seën vir Jakob
1Toe Isak al oud en amper blind was, het hy Esau geroep: “Seun, waar is jy?” Esau het geantwoord: “Hier’s ek, Pa.”
2Isak sê toe vir hom: “Kyk, ek is oud en kan enige tyd sterf. 3Vat nou jou skietgoed, jou pyl en boog, en gaan veld toe. Skiet daar vir my ’n stukkie wild. 4Maak dan vir my lekker wildskos soos ek daarvan hou. As die kos reg is, moet jy dit vir my bring sodat ek kan eet en jou nog kan seën voordat ek doodgaan.”
5Rebekka het elke woord gehoor wat Isak vir sy seun gesê het. Nadat Esau veld toe is om iets vir sy pa te skiet, het sy vinnig na Jakob toe gehardloop en uitasem gesê: 6“Luister, ek het gehoor wat jou pa vir Esau gesê het. 7Hy het gesê Esau moet vir hom ’n stukkie wild gaan skiet en lekker kos maak. Na die ete wil jou pa hom dan seën. Jou pa wil dit doen voordat hy sterf. Hy het ook gesê dit is die wil van die Here dat hy Esau seën. 8Jakob, moet nou nie teëpraat nie. Maak presies soos ek sê. 9Gaan baie vinnig kraal toe en kry vir my twee lekker vet bokkies. Ek sal dit dan gaarmaak en vir jou pa sy lieflingdis voorsit. 10Jy moet dit dan vir jou pa vat en sorg dat hy dit eet. Hy sal jou dan seën in die plek van Esau, voor hy doodgaan.”
11Jakob het Rebekka geantwoord: “Ma, dit gaan nie werk nie. Esau is harig terwyl my vel glad is. 12Sê nou Pa wil aan my vat. Hy sal dink ek spot met hom en sal my nie wil seën nie. Dan bring ek ’n vervloeking oor my eerder as ’n seën.”
13Sy ma het geantwoord: “Toe maar, jou ellende sal oor my kom. Doen net wat ek vir jou sê en gaan haal die bokkies wat ek jou gevra het.”
14Jakob is toe weg en het gedoen wat sy ma gesê het. Hy het alles vir haar gebring en sy het lekker kos vir sy pa gemaak, kos waarvan hy gehou het. 15Rebekka het haar oudste, Esau, se beste klere geneem en dit vir Jakob, haar jongste, aangetrek. 16Verder het sy die bok se velletjies om sy hande en om die gladde deel van sy nek gesit. 17Toe vat sy die lekker kos en die brood wat sy gebak het en sit dit in Jakob se hande. 18Jakob het na sy pa toe gegaan en hom gegroet. “Dag, Pa,” het hy gesê.
Isak het geantwoord: “Ja, hier is ek, maar wie is jy, my seun?”
19Jakob sê toe vir sy pa: “Dit is ek, Esau, Pa se oudste kind. Ek het gedoen soos Pa gesê het. Sit nou gemaklik sodat Pa van my lekker wildskos kan eet. Daarna kan Pa my seën.”
20Isak wou egter weet hoe hy so vinnig die wild opgespoor het. Jakob het geantwoord: “Pa se God, die Here, het my gehelp.”
21Isak het toe vir Jakob gesê: “Kom ’n bietjie nader sodat ek kan voel of jy regtig my seun Esau is of nie.”
22Jakob het nader aan sy pa gekom. Isak het aan hom gevoel en gesê: “Die stem is die stem van Jakob, maar die hande is Esau s’n.”
23Isak het niks agtergekom nie, want die hande was net so harig soos dié van Esau. 24Hy vra toe vir Jakob: “Is jy rêrig my seun Esau?”
Jakob het skaamteloos geantwoord: “Ja, ek is.”
25Isak het gesê: “Sit die lekker kos vir my voor sodat ek my seun se wildsgereg kan eet en jou dan seën.” Hy het toe vir hom die kos en wyn gegee.
26Daarna het sy pa, Isak, vir hom gesê: “Kom nader, my seun, en soen my.”
27Jakob het nader gekom en sy pa gesoen. Isak het die reuk van Esau se klere geruik en Jakob geseën.
“Werklik, my seun se reuk is soos die reuk van die vrugbare veld, die veld wat die Here geseën het. 28Mag die Here elke dag vir jou dou uit die hemel gee. Mag Hy jou van die aarde se goeie laat geniet: oorvloed van graan en wyn. 29Laat die volke jou dien en nasies eer aan jou betoon. Jy moet oor jou broers heers, jou ma se ander seuns sal voor jou buig. Wie jou vloek, sal net ellende ervaar, en wie jou seën, sal gelukkig wees.”
30Isak het Jakob skaars klaar geseën en Jakob was net van sy pa af weg, toe Esau van sy jagtog terugkom. 31Hy het ook lekker kos gemaak en dit vir sy pa gevat. Hy het ook vir sy pa gesê: “Pa, sit regop en eet die lekker wildskos wat ek vir Pa gemaak het. Daarna kan Pa my seën.”
32Verskrik het Isak gevra: “Wie is jy dan?”
Esau het geantwoord: “Ek is Esau, Pa se oudste kind.”
33Isak was so ontsteld dat hy baie gebewe het. “Wie,” het hy gevra, “was dan netnou hier? Die man het dan ook van die jagveld gekom en vir my wildskos gegee. Net voor jy gekom het, het ek alles klaar geëet en hom geseën. Met hom sal dit daarom altyd voorspoedig gaan.”
34Toe Esau sy pa se woorde hoor, het hy bitterlik begin huil. Hy was geweldig hartseer en verbitterd. Na ’n ruk sê hy toe vir Isak: “Pa, asseblief, Pa, seën my ook!”
35“Dit is alles jou slinkse broer se skuld,” het Isak bewoë gesê. “Hy het jou seën van jou af weggeruk.”
36“Hy is niks anders as ’n bedrieër nie,” het Esau geantwoord. “Hy het my nou al twee keer bedrieg. Eers het hy my geboortereg gevat en nou my seën. Sy naam is nie verniet Jakob nie, want hy is ’n regte bedrieër.” Esau het verleë gevra: “Pa, het Pa nie dalk vir my ook ’n stukkie seën gebêre nie?”
37Isak het Esau geantwoord: “Ek het nie iets vir jou nie, my kind. Ek het klaar gesê hy sal soos ’n ouer broer oor jou regeer en dat jou familie nog eendag vir hom sal werk. Ek het ook klaar gesê dat hy die lekker dinge van die lewe sal geniet. Wat kan ek vir jou doen, my seun?”
38Esau het weer gepleit: “Het Pa dan waaragtig niks vir my nie? Asseblief, Pa, gee my ook iets!” Isak het net stilgebly. Esau het toe bitterlik begin huil.
39Isak het vir Esau gesê: “My seun, jy sal altyd swaarkry. Jou grond sal dor en droog bly. Reën sal daar nie baie wees nie. 40Vir jou lewe sal jy altyd moet veg, en vir jou broer sal jy moet werk. Maar as jy jou lank genoeg verset, kan jy nog sy juk van jou afgooi.”
41Jakob het vir Esau gekul en Esau het hom begin haat. Esau het toe ’n besluit geneem: “Na my pa se dood gaan ek my broer doodmaak. Ek gaan net wag tot die routyd verby is.”
42Rebekka het gehoor dat Esau, haar oudste kind, dit gesê het en sy het haar jongste, Jakob, gewaarsku: “Jou broer gaan wraak neem en jou doodmaak. 43Luister nou baie mooi na my: gaan onmiddellik na my broer Laban in Haran toe. 44Bly daar totdat jou broer se woede oor is en hy van sy wrok vergeet het. 45Ek sal jou laat weet as alles veilig is, dan kan jy weer terugkom. Julle is albei my kinders en ek wil julle nie albei op een dag verloor nie. Daarom moet jy onmiddellik vertrek.”
Jakob moet elders gaan vrou soek
46Rebekka was baie bitter oor Esau se vroue. Sy het dit ook reguit vir Isak gesê: “Hierdie Hetitiese vroue vergal my lewe. As Jakob ook nog met ’n Hetitiese meisie moet trou, met een van dié land se vroue, sal dit vir my bitter sleg wees.”

Seçili Olanlar:

Genesis 27: DB

Vurgu

Paylaş

Kopyala

None

Önemli anlarınızın tüm cihazlarınıza kaydedilmesini mi istiyorsunuz? Kayıt olun ya da giriş yapın

YouVersion, deneyiminizi kişiselleştirmek için tanımlama bilgileri kullanır. Web sitemizi kullanarak, Gizlilik Politikamızda açıklandığı şekilde çerez kullanımımızı kabul etmiş olursunuz