Genesis 26

26
Weereens die probleem met ’n vrou
1Daar was weer hongersnood in die land, net soos in Abraham se tyd. Isak het na die land van die Filistyne getrek en vir eers in Gerar gaan bly. Abimelek was toe die koning. 2Daar het die Here vir Isak gesê: “Moenie Egipte toe gaan nie. Bly net hier in die land waarvan Ek jou vertel het. 3Bly in die land en trek met jou vee rond. Ek sal saam met jou trek en jou baie voorspoedig maak. Elke plek waar jy kom, sal Ek eendag vir jou en jou kinders gee. Lank gelede het Ek dit al aan jou pa, Abraham, beloof. 4Jou nageslag sal groot wees. Hulle sal so ontelbaar soos die sterre aan die hemel wees. En al die lande rondom jou sal Ek eendag vir hulle gee. Met jou nageslag sal dit so goed gaan dat al die volke rondom hulle deur hulle geseën sal wees. 5Al hierdie dinge sal gebeur omdat Abraham geluister het toe Ek met hom gepraat het. Hy was lewenslank aan My getrou: hy het reg geleef, hy het my voorskrifte uitgeleef en gedoen wat Ek hom geleer het.”
6Toe Isak al ’n ruk lank in Gerar gewoon het, het die mense oor hom begin praat. 7Hulle het gewonder oor die vrou wat altyd by hom was. “Wie is sy tog?” het hulle gevra. Toe Isak hiervan hoor, het hy bang begin word. Rebekka was baie mooi en Isak wou nie sê dit is sy vrou nie. Hy was bang hulle sal hom doodmaak en Rebekka wegneem. Hy het toe vir die mans gesê Rebekka is sy suster.
8Almal het hom geglo en vir ’n lang ruk het dit goed gegaan. Op ’n dag het Abimelek, die Filistynse koning, by sy venster uitgekyk en iets vreemds gesien: Isak was besig om sy vrou, Rebekka, te soen en te liefkoos.
9Abimelek het Isak laat roep en woedend gesê: “So, sy is nie jou suster nie, maar jou vrou! Hoe kon jy ons so mislei? Waarom het jy gesê sy is jou suster?”
Isak het verleë geantwoord: “Ek was bang dat hulle my sou doodmaak as hulle hoor sy is my vrou.”
10Abimelek het skerp geantwoord: “Jy kon groot ellende oor ons gebring het. Een van die mans kon net by jou vrou geslaap het en dan was ons almal skuldig.”
11Abimelek het al sy mense gewaarsku: “Los hulle uit! Wie aan hierdie man of vrou vat, sal doodgemaak word.”
Isak word ryk
12Isak het toe in daardie land vir hom grond gekry en begin saai. Die Here het hom geseën en hy het in dieselfde jaar nog uitstekende oeste gehad. 13Kort voor lank was hy ryk, sommer skatryk. 14Hy het groot troppe skape en beeste gehad asook baie werkers. Die Filistyne het egter jaloers geword. 15Hulle het toe grond in al Isak se putte gegooi en dit toegestop. Hierdie putte is destyds nog deur sy pa, Abraham, se mense gegrawe.
16Abimelek het Isak besoek en gesê: “Gaan liewers weg van ons af, want jy is nou baie ryker en sterker as ons.”
17Isak het toe weggetrek en in die Gerarvallei gekom. Daar het hy ’n ruk lank gebly. 18Na ’n tydjie het Isak teruggegaan en begin om stuk-stuk al die waterputte oop te grawe wat sy pa se mense nog gegrawe het. Dit was die putte wat die Filistyne na Abraham se dood toegestop het. Isak het hulle dieselfde name gegee as wat sy pa hulle genoem het. 19Toe Isak se mense besig was om in die vallei te grawe, het hulle op ’n put met fonteinwater afgekom. 20’n Hewige rusie het tussen die mense van Gerar en Isak se herders ontstaan. Gerar se mense het gesê: “Dit is ons water hierdie.” Isak het die put toe “Rusie” genoem omdat hulle daar met hom rusie gemaak het.
21Isak-hulle het nog ’n put oopgegrawe en weer was daar ’n getwis. Dit was so erg dat hy dit “Klagte” genoem het. 22Isak het weggegaan en op ’n ander plek ’n put gaan grawe. Toe niemand daaroor gekla het nie, het hy dit “Ruimte” genoem en gesê: “Die Here het nou vir ons ruimte gemaak. Ons sal baie mense word in dié land.”
Isak in Berseba
23Na ’n ruk het Isak weer sy goed opgepak en Berseba toe getrek. 24Sommer nog dieselfde nag het die Here na hom toe gekom en gesê: “Isak, Ek is die God van jou pa, Abraham. Jy moet vir niks bang wees nie, want Ek is by jou. Omdat jou pa My getrou gedien het, sal Ek jou seën en vir jou ’n groot nageslag gee.”
25Uit dankbaarheid het Isak vir die Here ’n altaar gebou en Hom aanbid. Hy het ook sy tent daar opgeslaan en sy mense het weer ’n put gegrawe. 26Abimelek het uit Gerar getrek en Isak kom besoek. Saam met hom was Agussat, sy vertroueling, en Pikol, die hoof van die leër. 27Isak vra hulle toe: “Wat wil julle hê? Julle haat my mos. Julle het my dan weggejaag!”
28Abimelek en sy manne het toe gesê: “Isak, dit is vir ons duidelik dat die Here by jou is. Daarom het ons besluit dat ons met jou ’n ooreenkoms wil maak. 29Ons wil ’n verbond met jou sluit sodat jy ons nooit sleg sal behandel nie. Toe jy destyds tussen ons gewoon het, was ons nie lelik met jou nie. Ons was goed vir jou en het jou in vrede laat weggaan. Isak, die Here het jou werklik voorspoedig gemaak.”
30Isak het vir hulle ’n feesmaaltyd voorgesit. Hulle het geëet en gedrink. 31Vroeg die volgende oggend het hulle opgestaan en ’n ooreenkoms met mekaar gesluit. Isak het hulle gegroet en sy gaste het vertrek. Hulle was bly en gelukkig. 32Op dieselfde dag het Isak se mense hom van ’n put kom vertel. Hulle was nog besig om te grawe toe hulle skielik sterk water gekry het. 33Isak het die put Seba genoem en tot vandag toe noem hulle daardie stad Berseba.
34Toe Esau 40 jaar oud was, het hy met twee Hetitiese vroue getrou: Judit, die dogter van Beëri, en Basemat, die dogter van Elon. 35Hierdie twee vroue het Isak en Rebekka diep ongelukkig gemaak.

Seçili Olanlar:

Genesis 26: DB

Vurgu

Paylaş

Kopyala

None

Önemli anlarınızın tüm cihazlarınıza kaydedilmesini mi istiyorsunuz? Kayıt olun ya da giriş yapın

YouVersion, deneyiminizi kişiselleştirmek için tanımlama bilgileri kullanır. Web sitemizi kullanarak, Gizlilik Politikamızda açıklandığı şekilde çerez kullanımımızı kabul etmiş olursunuz