Karşılaştır
24
’n Vrou vir Isak
1Abraham was nou baie oud, maar die Here was naby aan hom en dit het goed met hom gegaan. 2Op ’n dag het hy sy oudste en betroubaarste werker, die een wat in beheer van al sy geldsake was, nader geroep en vir hom gesê: “Kom sit jou hand op my heup en maak ’n belofte. 3Jy moet my in die Naam van die Here, die God van die hemel en die aarde, beloof dat jy nie vir my seun ’n Kanaänitiese vrou sal kies uit die mense waartussen ek bly nie. 4Jy moet na die land toe gaan waar ek vandaan kom. Daar moet jy tussen my eie mense vir my seun Isak ’n vrou gaan soek.”
5Abraham se werker was ’n bietjie bekommerd en het gevra: “En sê nou die jongmeisie wil nie saam met my kom nie? Moet ek u seun dan terugvat na die land waarvandaan u kom?”
6“Nee, hoegenaamd nie,” het Abraham gesê. “Moet tog nie dat my seun daarheen gaan nie. 7Baie lank gelede het die Here, die God van die hemele, my laat wegtrek van my pa se huis en van my mense se land. En die Here het my beloof dat Hy hierdie land waarin ek nou woon, eendag aan my nageslag sal gee. Moet dus nie bang wees nie, want die Here sal sy engel voor jou uitstuur en hy sal jou help om vir Isak ’n vrou te kry. 8As die jongmeisie nie wil saamkom nie, hoef jy nie verder te soek nie. Dan is jy vry van jou belofte aan my. Jy moet tog net nie my seun daarheen neem nie.”
9Die werker het sy hand op Abraham se heup gesit en hom opreg beloof om te doen wat hy gevra het.
10Die werker het toe tien van Abraham se kamele gevat en die beste geskenke, en hy is daar weg. Hy het reguit koers ingeslaan na ’n plek in die noorde van Mesopotamië. Dit was die stad waar Nahor, Abraham se broer, gewoon het. 11Een middag het die werker uiteindelik daar aangekom. Net buite die stad was daar ’n fontein en hy het die kamele daar laat drink. Dit was teen die aand, die tyd van die dag dat die vroue fontein toe gekom het om water vir die huis te skep. 12Die werker het gebid en gesê: “Here, U wat die God van my eienaar Abraham is, laat my tog vanmiddag die regte dinge doen en sê. Bewys u liefde vir my meester Abraham. 13Here, hier staan ek by die fontein en binnekort kom die meisies uit die stad om water te skep. 14Ek gaan vir een van hulle vra: ‘Gee my asseblief ’n bietjie water uit jou emmer om te drink,’ en as sy sê: ‘Drink gerus en bring ook jou kamele dat ek hulle kan water gee,’ sal ek weet dit is die vrou wat U vir Isak aangewys het. Dit sal ook die teken wees dat U aan meneer Abraham gedink het en dat U al die beloftes aan hom onthou het.”
15Voordat hy nog klaar gebid het, het Rebekka met ’n waterkruik op haar skouer daar aangekom. Sy was die dogter van Betuel. En Betuel was die seun van Abraham se broer Nahor en sy vrou, Milka. 16Rebekka was ’n baie mooi jongmeisie wat nog glad nie by ’n man geslaap het nie. Sy het by die fontein se trappies afgestap, gebuk, haar kruik volgemaak en toe teruggestap. 17Abraham se werker het haar heeltyd dopgehou en toe gesê: “Kan ek asseblief ’n bietjie van die water in jou kruik kry?”
18Sy het gesê: “U is welkom, Meneer. Drink gerus.” Sy het vinnig die kruik van haar skouer afgetel en so gehou dat hy kon drink. 19Toe hy klaar gedrink het, sê sy: “Ek gee sommer vir jou kamele ook water. Hulle kan drink soveel as wat hulle wil.”
20Sy het toe die res van die kruik se water in die trog gegooi en is op ’n drafstap fontein toe om nog te kry. So het sy aangehou totdat al die kamele klaar gedrink het.
21Abraham se werker het alles eenkant staan en dophou. Hy wou sien of die Here sy reis voorspoedig sou maak. 22Na die kamele klaar gedrink het, het hy ’n duur, goue ring gevat en dit vir haar gegee. Hy het ook twee kosbare, groot goue armbande geneem en dit om haar arms gesit. 23Daarna het hy haar gevra: “Wie is jou pa? Is daar dalk plek in sy huis vir my en my mense om te oornag?”
24“My pa se naam is Betuel. Hy is die seun van Nahor en Milka. 25En julle is baie welkom by my pa-hulle. Daar is strooi en kos in oorvloed en ook genoeg slaapplek vir almal.”
26Toe kon Abraham se werker dit nie meer hou nie. Hy het net daar op sy knieë geval en die Here geloof. 27“Loof die Here, die God van my eienaar Abraham, want Hy is getrou. Prys Hom, want Hy het gedoen wat Hy belowe het. Maak sy Naam groot, want Hy het my sommer reguit na meneer Abraham se mense toe gelei.”
28Na die man se gebed is die meisie huis toe en sy het haar ma alles gaan vertel.
29Rebekka se broer Laban het die storie gehoor en is reguit fontein toe om die man te ontmoet. 30Laban het die goue ring gesien asook die armbande, en hy het gehoor hoe sy suster van die man vertel. Dit is hoekom hy alles gelos het en vinnig fontein toe is. Daar het hy Abraham se werker gekry wat nog die hele tyd by sy kamele gestaan en wag het. 31Laban het gesê: “Vriend, kom saam met my huis toe. Jy is deur die Here geseën. Kom, waarom staan jy nog daar? By ons huis is daar baie plek vir jou en jou kamele.”
32Die man is toe saam met Laban huis toe. Daar gekom, het Laban die kamele afgelaai en vir hulle voer en strooi gegee. Hy het ook vir al die mense water gegee sodat hulle hulle kon was.
33Laban het ’n klomp kos vir die man gebring, maar dié het gesê: “Voordat ek eet, moet ek julle eers alles vertel.”
“Goed dan,” het Laban gesê, “praat dan maar eers.”
34“Ek werk vir Abraham,” het hy begin. 35“Die Here het meneer Abraham geseën en hom ’n ryk man gemaak. Hy het hom troppe skape, bokke en beeste gegee asook baie silwer en goud, mans- en vrouewerkers en ook nog ’n klomp donkies en kamele. 36Sara, my meneer se vrou, het hom op ’n hoë ouderdom ’n seun gegee. En meneer Abraham het alles wat hy het, vir dié kind gegee. 37My meneer het my toe met ’n eed laat belowe dat ek nooit vir Isak ’n jongmeisie in Kanaän waar ons bly, sal gaan soek nie. 38Hy het gesê ek moet na sy pa se mense toe gaan, na sy stam, en daar vir Isak ’n vrou loop soek. 39Ek was bang en het geantwoord: ‘Sê nou sy wil nie saamkom nie? Wat dan?’ 40Hy het my gerusgestel en gesê: ‘Die Here vir wie ek nog altyd lief was, sal sy engel saamstuur en jou help om vir Isak ’n vrou by my pa se familie te kry. 41As my familie weier dat sy saam met jou terugkom, is jy vry van jou eed en van al jou verpligtings.’
42“Toe ek vanmiddag by die fontein aangekom het, het ek net gebid: ‘Here, U is die God van meneer Abraham, help my asseblief met wat ek moet sê en doen. 43Here, ek gaan hier by die fontein bly staan en as hier ’n jongmeisie aankom, gaan ek haar vra om vir my water uit haar kruik te gooi. 44As sy instem en ook water vir my kamele aanbied, sal sy die vrou wees wat U vir my eienaar se seun gekies het.’
45“Voor ek klaar gebid het, kom Rebekka met ’n waterkruik op die skouer aangestap. By die fontein het sy met die trappies afgeloop en water geskep. Toe sy wou terugstap, vra ek haar: ‘Kan ek asseblief ’n bietjie water kry?’ 46Sy het onmiddellik haar kruik afgetel en gesê: ‘Drink gerus. Ek sal ook vir jou kamele water gee.’ Ek het gedrink en sy het die kamele water gegee. 47En ek het vir haar gevra: ‘Wie is jou pa?’ en sy het geantwoord: ‘My pa is Betuel, die seun van Nahor en Milka.’ Dit is toe dat ek vir haar die ring aan haar neus gesit het asook die armbande wat sy aanhet. 48Daarna het ek in dankbaarheid voor die Here gebuig en Hom geprys. Ek het die God van meneer Abraham geloof omdat Hy my reguit na Rebekka toe gelei het. Ek het Hom geprys omdat ek een van meneer Abraham se eie mense vir Isak as vrou gekry het.
49“As u vandag my meester eer en liefhet, moet u dit asseblief vir my sê. As u nie so dink nie, moet u dit ook asseblief vir my sê.”
50Laban en Betuel het onmiddellik geantwoord: “Hierdie saak is van die Here. Wat ons nou ook al dink of sê, is nie van belang nie, want die Here het alles so laat gebeur. 51Hier is Rebekka dan. Vat haar saam en laat sy met Abraham se seun Isak trou, soos die Here gesê het.”
52Toe Abraham se werker dit hoor, was hy so bly dat hy op die grond gekniel en die Here geloof het. 53Hy het vinnig goue en silwer geskenke gaan haal en dit saam met ’n klomp klere vir Rebekka gegee. Hy het ook geskenke vir haar ma en broers gegee. 54Toe het hy en die mans geëet en gedrink en die nag daar oorgebly. Die volgende oggend het die werker gesê: “Ek wil baie graag nou teruggaan.”
55Rebekka se broers en haar ma het gesê: “Wag ’n rukkie. Laat haar vir nog so ’n dag of tien by ons bly en dan kan sy saam met jou gaan.”
56“Mense,” het die werker gesê, “julle was baie goed vir my, maar moet my tog nie nou keer nie. Die Here het my gehelp om te doen wat ek moes doen, en nou wil ek so gou moontlik na my meester teruggaan.”
57“Goed dan,” het hulle geantwoord. “Kom ons roep Rebekka en laat haar besluit.”
58Hulle het Rebekka laat kom en vir haar gevra: “Wil jy nou al saam met hierdie man weggaan?” En sy het geantwoord: “Baie graag.”
59Die familie het toe hulle suster, Rebekka, asook die vrou wat haar grootgemaak het, gegroet. Hulle het ook Abraham se werker en al die mans wat saamgekom het, gegroet. 60Almal het vir oulaas om Rebekka gestaan en gesê: “Ons suster, mag jy baie kinders hê, duisend maal tien duisend kinders. En mag jou nageslag sterk wees, sterk genoeg om die vyand se stede te oorwin.”
61Daarna het Rebekka en almal saam met haar op die kamele geklim en hulle is saam met die man weg. Dit is dan die verhaal van hoe die werker Rebekka gevat het en haar gebring het.
62Isak het intussen in die omgewing van die Negev gaan bly en het van Lagai-Roï se waterput af met die vee getrek. 63Toe hy op ’n keer teen die aand se kant ’n entjie gaan stap het om na te dink, sien hy skielik die kamele wat kom. 64Op daardie oomblik kyk Rebekka op en sien Isak daar staan. Sy het vinnig afgeklim en vir een van die werkers gevra: 65“Wie is die man daar anderkant? Die een wat nou na ons toe aangestap kom?”
“Dit is die man vir wie ek werk,” het hy gesê. Toe vat Rebekka haar sluier en maak haarself toe.
66Abraham se werker het vir Isak alles vertel wat gebeur het. 67Isak het Rebekka na sy ma se tent toe gevat en hy het met haar getrou. Isak het haar liefgekry. Haar liefde het hom getroos omdat hy nog hartseer was oor sy ma se dood.