MATTEUS 28

28
Jesus het opgestaan!
1Vroeg Sondagmôre, terwyl dit begin lig word, het Maria Magdalena en die ander Maria na die graf gaan kyk.
2Skielik was daar ’n geweldige aardbewing omdat daar ’n engel van die hemel af gekom, die klip voor die graf weggerol en daarop gaan sit het. 3Sy gesig het geblink soos weerlig en sy klere was sneeuwit. 4Die wagte het van angs begin bewe oor die engel en toe soos dooies bewusteloos neergeslaan.
5Daarop het die engel die vroue aangespreek met die woorde: “Julle hoef nie bang te wees nie. Ek weet julle soek Jesus wat gekruisig is. 6Hy is nie hier nie, want Hy is opgewek uit die dood, presies soos Hy gesê het. Kom kyk, hier het sy liggaam gelê. 7En gaan sê nou dadelik vir sy dissipels: ‘Jesus is uit die dood opgewek, en Hy gaan julle solank vooruit Galilea toe. Julle sal Hom dáár sien.’ Julle kan reken op wat ek vir julle sê.”
8Hulle het toe haastig van die graf af weggegaan. Oorstelp van skok, maar nog meer van ’n ontsaglike blydskap, het hulle gehardloop om die boodskap aan sy dissipels te gaan gee. 9En toe, meteens, daar staan Jesus voor die vroue, en Hy sê: “Goeiedag, almal!” Hulle hardloop na Hom toe, gryp sy voete vas en aanbid Hom. 10Daarop sê Jesus vir hulle: “Julle hoef nie bang te wees nie. Gaan sê vir my broers hulle moet Galilea toe gaan en hulle sal My daar sien.”
Die wagte versprei die storie dat Jesus se liggaam gesteel is
11Terwyl die vroue op pad was, het sommige lede van die wag in die stad ingegaan en vir die priesterhoofde alles vertel wat gebeur het. 12Hulle het toe saam met die familiehoofde beraadslaag. 13Hulle het vir die soldate ’n groot som geld aangebied en vir hulle gesê: “Julle moet vir die mense vertel: ‘Sy dissipels het mooi in die nag gekom terwyl ons aan die slaap was, en sy liggaam gesteel.’ 14As die goewerneur hiervan hoor, sal ons hom gerusstel. Ons sal sorg dat julle julle nie hoef te kwel nie.”
15Die wagte het toe die geld gevat en gedoen soos aan hulle voorgesê is. Hierdie storie is toe onder die Jode versprei en word oorvertel tot vandag toe.
Jesus gee sy finale opdrag aan sy dissipels
16Die elf dissipels het toe na Galilea gegaan, na die berg soos Jesus hulle beveel het.
17Toe hulle Hom sien, het hulle Hom aanbid, alhoewel party van hulle nog getwyfel het.
18Jesus kom toe nader en sê vir sy dissipels: “God het die volle mag oor hemel en aarde aan My toevertrou. 19Gaan dan, maak al die nasies my dissipels, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees. 20Leer hulle om alles te gehoorsaam wat Ek aan julle opgedra het. En weet vir seker: Ek is vir altyd by julle, tot aan die einde van die wêreldgeskiedenis.”

Seçili Olanlar:

MATTEUS 28: NLV

Vurgu

Paylaş

Kopyala

None

Önemli anlarınızın tüm cihazlarınıza kaydedilmesini mi istiyorsunuz? Kayıt olun ya da giriş yapın

YouVersion, deneyiminizi kişiselleştirmek için tanımlama bilgileri kullanır. Web sitemizi kullanarak, Gizlilik Politikamızda açıklandığı şekilde çerez kullanımımızı kabul etmiş olursunuz