JOHANNES 12

12
’n Halfliter duur aromatiese olie vir Jesus se begrafnis
1Ses dae voor die Paasfees sou begin, het Jesus na Betanië toe gekom waar Lasarus, wat Hy uit die dood#12:1 Of tussen die dooies uit. opgewek het, gewoon het. 2Daar het hulle vir Jesus ’n aandete voorberei. Marta het dit voorgesit en Lasarus was een van dié wat saam met Hom vir die ete aangelê#12:2 By spesiale etes het die gaste op die sy op bankies aangelê. het.
3Maria het toe ’n halfliter baie duur aromatiese olie geneem en dit op Jesus se voete uitgegooi en sy voete met haar hare afgedroog. Die huis was gevul met die reuk van die olie.
4Judas Iskariot, een van sy dissipels, wat Hom nog sou uitlewer, sê toe: 5“Waarom is hierdie olie nie eerder vir ’n yslike bedrag#12:5 Grondteks 300 denarii; ’n denarius was ’n tipiese dagloon. verkoop en die opbrengs aan die armes gegee nie?”
6Dit het hy gesê, nie omdat hy so danig besorgd was oor die armes nie, maar omdat hy ’n dief was. Hy het die geldbeurs gedra en het van die bates verduister.
7Toe het Jesus gesê: “Laat haar met rus. Sy het dit gekoop om te bêre vir die geleentheid van my begrafnis. 8Die armes het julle altyd by julle, maar Mý het julle nie altyd nie.”
9’n Groot skare uit die geledere van die Jode het kennis geneem dat Jesus daar is. Hulle het daarheen gekom, nie net ter wille van Jesus self nie, maar ook om vir Lasarus, vir wie Jesus uit die dood opgewek#12:9, 17 Of tussen die dooies uit opgewek. het, te sien. 10Die priesterhoofde het begin beraadslaag en besluit om ook vir Lasarus dood te maak 11omdat baie van die Jode as gevolg van Lasarus na Jesus toe oorgeloop en in Hom geglo het.
Jesus gaan Jerusalem triomfantlik binne
12Op die volgende dag het die groot skare wat vir die fees opgedaag het, gehoor dat Jesus na Jerusalem toe kom. 13Hulle het die blaartakke van die palmbome geneem en Jesus tegemoetgegaan en dit uitgeskree:
“Prys God!#12:13a Grondteks Hosanna, ’n lofprysing wat letterlik beteken red tog.
Geseënd is Hy
wat in die Naam
van die Here kom!”
en:
“Die Koning van Israel!”#12:13b Ps 118:25-26.
14Jesus het ’n donkievul gekry en daarop gaan sit soos dit geskryf staan:
15“Hou op om bang te wees,
dogter van Sion!
Kyk, jou Koning kom,
Hy sit op ’n donkievul.”#12:15 Sag 9:9.
16Jesus se dissipels het hierdie dinge aanvanklik nie verstaan nie, maar toe Hy eers verheerlik was, het hulle onthou dat die dinge wat daar oor Hom geskryf is, juis dié dinge is wat met Hom gebeur het.
17Die skare wat om Jesus saamgedrom het toe Hy vir Lasarus uit die grotgraf geroep en hom uit die dood opgewek#12:9, 17 Of tussen die dooies uit opgewek. het, het aangehou om daaroor te getuig. 18Daarom het die skare Jesus tegemoetgegaan omdat hulle gehoor het dat Hy hierdie wonderteken gedoen het. 19Die Fariseërs het toe vir mekaar gesê: “Kyk mooi, julle vorder niks nie, die hele mensdom loop agter hom aan!”
Jesus voorspel sy dood
20Daar was ook ’n klompie Grieke onder dié wat opgetrek het om op die fees te kom aanbid. 21Dié mense het toe na Filippus, wat vanaf Betsaida in Galilea gekom het, gegaan en vir hom gesê: “Meneer, ons wil graag vir Jesus ontmoet.”
22Filippus gaan vertel dit toe vir Andreas. Daarop gaan Andreas en Filippus en vertel dit saam vir Jesus.
23Jesus reageer toe daarop: “Die uur het aangebreek dat Ek, die Seun van die Mens, verheerlik moet word. 24Ek verseker julle, as ’n graankorrel nie in die grond val en sterf nie, bly hy net op sy eie bestaan; maar as hy sterf, lewer hy ’n groot opbrengs. 25Wie hulle eie lewe liefhet, verloor dit; maar wie hulle lewe in hierdie wêreld haat, sal dit met die oog op die ewige lewe behou. 26Iemand wat in my diens wil staan, moet My aanhou volg; en waar Ek is, daar sal my dienaar ook wees. As iemand in my diens staan, sal die Vader aan hom eer betoon.
27“Nou is Ek hewig ontsteld. En wat moet Ek sê? Moet Ek sê: ‘Vader, red My uit hierdie uur’? Tog het Ek juis vir hierdie uur gekom. 28Vader, verheerlik ú Naam!”
Toe het daar ’n stem uit die hemel gekom: “Ek het dit alreeds verheerlik, en Ek sal dit weer verheerlik.”
29Die skare wat daar rondgestaan en dit gehoor het, het beweer dat daar ’n groot donderslag was. Ander het gesê: “’n Engel het met hom gepraat.”
30Toe reageer Jesus: “Hierdie stem was nie ter wille van My nie, maar ter wille van julle. 31Nou vind die oordeel oor hierdie wêreld plaas; nou sal die leier#12:31 Grondteks prins. “Prins van hierdie wêreld” is ’n ander naam vir Satan. van hierdie wêreld na buite toe uitgedryf word. 32En wanneer Ek van die aarde af aan die kruis verhoog word, sal Ek almal na My toe trek.”
33Dit het Jesus gesê en terselfdertyd aangedui watter soort dood Hy sou sterf.
34Die skare het reageer: “Ons het volgens die wet gehoor dat die Messias vir altyd gaan bly. Hoe sê u dan nou dat die Seun van die Mens verhoog moet word? Buitendien, wie is hierdie Seun van die Mens?”
35Jesus het hulle geantwoord: “Nog net ’n kort tydjie is die lig by julle. Rig julle lewe só in terwyl julle nog die lig by julle het, dat die duisternis nie oor julle toeslaan nie. Wie sy lewe in die duisternis inrig, weet mos nie waar hy gaan eindig nie. 36Terwyl julle nog die lig by julle het, moet julle aanhou glo in die lig sodat julle kinders van die lig kan wees.”
Nadat Jesus klaar gepraat het, het Hy vertrek en vir die mense gaan wegkruip.
Baie hou steeds vas aan die duisternis
37Ten spyte van só baie wondertekens wat Jesus voor die mense se oë gedoen het, het hulle volgehou om nie in Hom te glo nie. 38Sodoende is die boodskap van die profeet Jesaja vervul:
“Here, wie het ons boodskap geglo?
En aan wie is die mag
van die Here bekendgemaak?”#12:38 Jes 53:1.
39Om dié rede kon die mense nie glo nie, soos Jesaja dit verduidelik:
40“Hy het hulle oë
met blindheid getref
en hulle harte
hardvogtig gemaak,
sodat hulle nie kon sien
met hulle oë
of kon verstaan met hulle harte
om hulle te bekeer
en dat Ek hulle gesond maak nie.”#12:40 Vgl Jes 6:10.
41Jesaja het dit gesê omdat hy die heerlikheid van Jesus gesien en oor Hom gepraat het.
42Nietemin het baie uit die geledere van die leiers in Hom begin glo, maar vanweë die Fariseërs het hulle dit nie in die openbaar bely nie sodat hulle nie uit die sinagoge geban sou word nie. 43Hulle het die verering deur mense liewer gehad as die verering deur God.
44Toe het Jesus uitgeroep: “Iemand wat in My glo, glo nie net in My nie, maar ook in Hom wat My gestuur het. 45En wie na My kyk, sien ook vir Hom wat My gestuur het.
46“Ek het as lig na die wêreld toe gekom sodat elkeen wat in My glo, nie langer in die duisternis sou bly nie. 47As iemand dan ook nog na my woorde luister en dit nie gehoorsaam nie, veroordeel Ek hom nie sommer nie, want Ek het nie gekom om die mensdom te veroordeel nie, maar om die mensdom te verlos. 48Wie My verwerp en nie my woorde aanvaar nie, het reeds homself geoordeel; die boodskap wat Ek uitdra, sal hom op die laaste dag veroordeel. 49Ek het nie uit my eie gepraat nie, maar die Vader wat My gestuur het, het aan My ’n opdrag gegee oor wat Ek moet sê en wat Ek sal verkondig. 50En Ek weet dat sy opdrag die ewige lewe inhou. Dit wat Ek dus sê, verkondig Ek net soos die Vader dit aan My oorgedra het.”

Seçili Olanlar:

JOHANNES 12: NLV

Vurgu

Paylaş

Kopyala

None

Önemli anlarınızın tüm cihazlarınıza kaydedilmesini mi istiyorsunuz? Kayıt olun ya da giriş yapın

YouVersion, deneyiminizi kişiselleştirmek için tanımlama bilgileri kullanır. Web sitemizi kullanarak, Gizlilik Politikamızda açıklandığı şekilde çerez kullanımımızı kabul etmiş olursunuz