2 KONINGS 9

9
Jehu as koning van Israel gesalf
1Intussen het die profeet Elisa een van die groep profete geroep en gesê: “Maak jou gereed en gaan gou na Ramot in Gilead. Vat hierdie fles met olie saam. 2Wanneer jy daar kom, sal jy vir Jehu seun van Josafat en kleinseun van Nimsi sien. Laat hom opstaan tussen sy offisiere, lei hom na ’n agterkamer wég van hulle af. 3Vat die fles en gooi die olie uit op sy kop. Sê vir hom: ‘Dis wat die Here sê: Ek salf jou tot koning oor Israel.’
“Maak dan die deur oop en vlug vir jou lewe.”
4Die jong man, die profeet, het so gemaak en na Ramot in Gilead gegaan. 5Toe hy daar aankom, kry hy vir Jehu wat saam met ander offisiere beraadslaag. “Ek het ’n boodskap vir u, Generaal,” sê hy.
“Vir watter een van ons?” vra Jehu.
“Vir u, Generaal,” antwoord hy.
6Jehu het toe die vergadering verlaat en die huis binnegegaan. Toe vat die profeet die fles en giet die olie uit op Jehu se kop en sê: “Dit is wat die Here, die God van Israel, sê: ‘Ek salf jou as koning oor die Here se volk Israel. 7Jy moet die koningshuis van Agab uitroei. Op hierdie manier sal Ek die bloed van my dienaars die profete wreek en die bloed van al die dienaars van die Here wat Isebel doodgemaak het. 8Die hele familie van Agab moet uitgeroei word. Dit geld elke manlike persoon, slaaf of vry, in Israel.
9‘Ek sal met die koningshuis van Agab maak soos Ek met die koningshuis van Jerobeam seun van Nebat, en met dié van Baesa seun van Agija gemaak het. 10Die honde sal Isebel opvreet op die stuk grond in Jisreël en niemand sal haar begrawe nie.’” Toe het die profeet die deur oopgemaak en weggehardloop.
11Jehu het teruggegaan na die offisiere van die koning. Een van hulle het vir hom gevra: “Wat wou die kranksinnige man hê? Is alles reg?”
“Jy ken mos die praatjies van so ’n mens,” antwoord Jehu.
12“Jy vertel nie die waarheid nie,” sê hulle. “Toe, sê nou vir ons!”
Jehu antwoord hulle: “Dis wat hy gesê het: ‘Die Here salf jou as koning oor Israel.’”
13Hulle het dadelik hulle klere voor hom op die trappe uitgesprei en op die trompet geblaas terwyl hulle skreeu: “Jehu is koning!”
Jehu maak Joram en Ahasia dood
14Jehu seun van Josafat en kleinseun van Nimsi het saamgesweer teen koning Joram. Joram was saam met die hele leër van Israel by Ramot in Gilead, besig om Israel teen koning Gasael van Aram te verdedig. 15Maar Joram het na Jisreël toe teruggegaan om te herstel van die wonde wat hy opgedoen het in die geveg teen Gasael van Aram. Jehu sê vir die manskappe by hom: “As julle met my saamstem, sorg dan dat niemand wegkom uit die stad om dit in Jisreël te vertel nie.”
16Jehu het toe op sy strydwa geklim en na Jisreël toe gery. Koning Joram het daar van sy wonde herstel en koning Ahasia van Juda het hom daar gaan besoek. 17Terwyl die wag op die toring van Jisreël gestaan het, sien hy Jehu en sy geselskap naderkom. Hy sê: “Ek sien ’n afdeling soldate aankom!”
“Stuur ’n perderuiter uit om vas te stel of hulle in vrede kom,” antwoord Joram.
18Die perderuiter het Jehu tegemoetgegaan en gesê: “Die koning wil weet of jy in vrede kom.”
Jehu antwoord hom: “Wat weet jy van vrede af? Val in hier agter my!”
Die wag sê toe vir die koning: “Die boodskapper het by hulle aangekom, maar hy kom nie terug nie.”
19Toe stuur die koning ’n tweede perderuiter. Hy het tot by hulle gery en gevra: “Die koning wil weet of jy in vrede kom.”
Jehu het weer geantwoord: “Wat weet jy van vrede af? Val in hier agter my!”
20Die wag sê weer: “Die perderuiter het by hulle aangekom, maar hy kom ook nie terug nie! Die een wat voor ry, lyk soos Jehu seun van Nimsi, want hy ry soos ’n besetene.”
21“Gou, kry my strydwa gereed!” beveel koning Joram.
Die perde is ingespan en koning Joram van Israel het hom tegemoetgegaan. Koning Ahasia van Juda het ook op sy wa geklim en saamgery. Hulle het Jehu by die grond wat aan Nabot van Jisreël behoort het, ontmoet. 22Toe koning Joram vir Jehu sien, vra hy: “Kom jy in vrede, Jehu?”
Jehu antwoord: “Wat praat jy van vrede terwyl jou ma, Isebel, al hierdie afgodery en toordery beoefen?”
23Toe draai koning Joram sy strydwa om en vlug terwyl hy vir koning Ahasia skree: “Verraad, Ahasia!” 24Maar Jehu het sy boog gespan en Joram tussen sy blaaie getref. Die pyl het sy hart deurboor sodat hy op sy strydwa inmekaargesak het.
25Jehu beveel toe vir Bidkar, sy luitenant: “Vat hom en gooi hom op die grond van Nabot van Jisreël. Onthou jy toe ek en jy saam agter sy pa, Agab, aangery het? Die Here het toe hierdie uitspraak gemaak: 26‘So seker as Ek gister die bloed van Nabot en sy seuns gesien het, so seker sal Ek hom hier op dieselfde stuk grond vergeld.’ Daarom, vat hom en gooi hom op Nabot se grond soos die Here gesê het.”
27Toe koning Ahasia van Juda sien wat gebeur, vlug hy in die rigting van Bet-Gan. Jehu het hom agternagesit en geskreeu: “Skiet hom ook!” By die hoogte van Gur naby Jibleam het hulle hom op sy strydwa gewond. Hy kon tot by Megiddo vlug, maar het daar gesterf. 28Sy dienaars het hom op ’n strydwa na Jerusalem toe geneem en hom daar in die familiegraf in die Stad van Dawid begrawe.
29Ahasia het in die elfde jaar van koning Joram se bewind in Israel koning van Juda geword.
Die dood van Isebel
30Toe Isebel, die koninginmoeder, hoor dat Jehu na Jisreël toe gekom het, het sy haar oë geverf, haar hare mooi gemaak en by ’n venster uitgekyk. 31Toe Jehu die poort binnekom, roep sy na hom: “Kom jy in vrede, jou moordenaar? Jy is nes Simri wat sy koning vermoor het.”
32Jehu het opgekyk en toe hy haar by die venster sien, roep hy: “Wie is aan my kant? Ja, wie?” Twee of drie paleisamptenare het afgekyk na hom toe. 33“Gooi haar af!” skree Jehu. Hulle gooi haar toe daar af sodat haar bloed teen die muur en die perde gespat het. Die perde het haar daar vertrap.
34Jehu het toe die paleis binnegegaan en daar geëet en gedrink. Daarna sê hy: “Iemand moet tog aandag gee aan hierdie vervloekte vrou. Gaan begrawe haar. Sy is immers ’n koningsdogter.” 35Hulle het gegaan om haar te begrawe, maar net haar kopbeen, voete en handpalms gekry.
36Toe hulle terugkom en dit vir Jehu vertel, sê hy: “Dis volgens die woord van die Here toe Hy deur sy dienaar, Elia die Tisbiet, gesê het: ‘By die stuk grond in Jisreël sal die honde Isebel opvreet. 37Haar liggaam sal soos mis verstrooi word op die stuk grond in Jisreël sodat niemand haar meer sal kan herken nie.’”

Seçili Olanlar:

2 KONINGS 9: NLV

Vurgu

Paylaş

Kopyala

None

Önemli anlarınızın tüm cihazlarınıza kaydedilmesini mi istiyorsunuz? Kayıt olun ya da giriş yapın

YouVersion, deneyiminizi kişiselleştirmek için tanımlama bilgileri kullanır. Web sitemizi kullanarak, Gizlilik Politikamızda açıklandığı şekilde çerez kullanımımızı kabul etmiş olursunuz