2 KONINGS 25

25
1Dit was in die negende jaar van Sedekia se bewind in Jerusalem. Op die tiende dag van die tiende maand#25:1 Sommige kenners bereken dit was op 15 Januarie 588 vC, ander op 26 September 589 vC. het koning Nebukadnesar van Babel met sy hele leër teen Jerusalem opgetrek. Hulle het by die stad kamp opgeslaan en beleëringswalle rondom teen die mure opgehoop. 2Jerusalem is beleër tot in die elfde jaar van koning Sedekia se bewind.
3Teen die negende dag van die vierde maand#25:3 Volgens Jer 52:6. Waarskynlik in Julie/Augustus 586 vC. was die hongersnood in die stad baie erg. Daar was nie meer kos vir die inwoners nie. 4Toe is ’n opening in die stadsmuur gemaak waardeur al die soldate gedurende die nag ontsnap het. Hulle het deur die opening tussen die twee mure by die koning se tuin gevlug hoewel daar Galdeërs rondom die stad was, en het in die rigting van die Jordaanvallei gevlug.
5Maar die Galdese leër het hulle agternagesit en die koning op die Jerigovlakte ingehaal. Teen hierdie tyd was al sy manskappe van hom af verstrooi. 6Hulle het hom gevang en na die koning van Babel in Ribla gebring waar ’n vonnis oor hom uitgespreek is. 7Die koning van Babel het al sy seuns voor Sedekia doodgemaak. Daarna het hulle sy oë uitgesteek, hom met bronskettings geboei en na Babel toe geneem.
Die tempel word verwoes
8In die vyfde maand, op die sewende van die maand, in die negentiende jaar#25:8 Waarskynlik in Augustus/September 586 vC. van koning Nebukadnesar se bewind in Babel, het Nebusaradan in Jerusalem aangekom. Hy was die hoof van die lyfwag en ’n amptenaar van die koning van Babel. 9Hy het die tempel van die Here, die koninklike paleis, al die huise en al die belangrike geboue in Jerusalem afgebrand. 10Daarna het die Galdese soldate onder sy bevel die muur van Jerusalem afgebreek. 11Nebusaradan, hoof van die lyfwag, het verder die mense wat in die stad agtergebly het, dié wat na die koning van Babel oorgeloop het en almal wat oorgebly het, in ballingskap weggeneem. 12Hy het die armste mense in Juda laat agterbly om die wingerde en landerye te bewerk.
13Die Galdeërs het die bronspilare, die waentjies en die bronswaterbak wat by die tempel van die Here was, stukkend gebreek en die brons na Babel toe gevat. 14Hulle het ook die potte, skoppe, skêre en panne, asook al die bronswerktuie wat in die tempeldiens gebruik is, weggevat. 15Die hoof van die lyfwag het die vuurpanne en skottels vir besprinkeling en al die werktuie van goud en silwer gevat.
16Die brons van die twee pilare, die waterbak en die waentjies was te veel om te weeg. Hierdie voorwerpe is in die tyd van koning Salomo vir die Here se tempel gemaak.
17Elke pilaar was agt meter hoog en die bronskapiteel bo-op was ’n derde meter hoog. Die rooster met die granate om die kapiteel was van brons. Die ander pilaar en sy rooster het net so gelyk.
18Die hoof van die lyfwag het die hoëpriester Seraja, die priester tweede in rang, Sefanja, en drie poortwagters as gevangenes saamgeneem. 19Uit die mense wat nog in die stad was, het hy ’n offisier in bevel van die soldate, vyf van die koning se vertrouelinge, die sekretaris van die hoof van die leër wat vir die oproep van die burgers verantwoordelik was, en 60 ander burgers saamgeneem.
20Nebusaradan, die hoof van die lyfwag, het hulle almal na die koning van Babel in Ribla geneem. 21Daar in Ribla, in Hamat, het die koning van Babel almal laat doodmaak. So is die mense van Juda uit hulle land in ballingskap weggevoer.
Gedalja regeer in Juda
22Nebukadnesar stel toe vir Gedalja seun van Agikam en kleinseun van Safan as goewerneur aan oor die mense wat hy in Juda laat oorbly het.
23Toe die leërbevelvoerders en hulle manskappe hoor dat die koning van Babel vir Gedalja as goewerneur aangestel het, het hulle na hom toe gegaan in Mispa. Dit was Ismael seun van Netanja, Joganan seun van Kareag, Seraja seun van Tangumet uit Netufa, en Jaäsanja uit Maäka en al hulle manskappe.
24Gedalja verseker toe vir hulle met ’n eed: “Moenie bang wees vir die Galdese amptenare nie. Bly in die land en dien die koning van Babel, dan sal dit goed gaan met julle.” 25Maar teen middelherfs van daardie jaar#25:25 Grondteks die sewende maand. Waarskynlik Oktober/November 586 vC. het Ismael seun van Netanja kleinseun van Elisama wat uit die koninklike geslag was, saam met tien manne na Mispa toe gegaan en Gedalja aangeval en doodgemaak, asook die Judeërs en Galdeërs wat by hom was.
26Toe het almal, klein en groot, uit vrees vir die Galdeërs paniekbevange saam met die leërbevelvoerders na Egipte toe gevlug.
Hoop vir Israel se koninklike geslag
27In die 37ste jaar van die ballingskap van koning Jojagin van Juda, op die 27ste van die twaalfde maand#25:27 Ewil-Merodak het waarskynlik in 560 of 561 vC koning geword., het Ewil-Merodak koning van Babel geword en Jojagin uit die gevangenis vrygelaat. 28Hy het Jojagin begenadig en hom ’n hoër status as die ander konings in Babel gegee.
29Jojagin is toegelaat om sy tronkklere uit te trek en kon vir die res van sy lewe van die koninklike voorrade lewe. 30Hy het vir sy daaglikse behoeftes lewenslank ’n vaste toelaag van die koning ontvang.

Seçili Olanlar:

2 KONINGS 25: NLV

Vurgu

Paylaş

Kopyala

None

Önemli anlarınızın tüm cihazlarınıza kaydedilmesini mi istiyorsunuz? Kayıt olun ya da giriş yapın

YouVersion, deneyiminizi kişiselleştirmek için tanımlama bilgileri kullanır. Web sitemizi kullanarak, Gizlilik Politikamızda açıklandığı şekilde çerez kullanımımızı kabul etmiş olursunuz