2 KONINGS 14

14
Amasia regeer in Juda
1In die tweede jaar van die regering van koning Joas van Israel, seun van Joahas, het Amasia seun van Joas koning van Juda geword. 2Amasia was 25 jaar oud toe hy koning geword het en hy het 29 jaar in Jerusalem regeer. Sy ma was Jehoaddan van Jerusalem. 3Amasia het gedoen wat vir die Here reg was, maar nie soos sy voorvader Dawid nie. Hy het die voorbeeld van sy pa Joas gevolg. 4Hy het net nie die heidense hoogtes waar die volk offers gebring het en wierook gebrand het, vernietig nie.
5Toe hy as koning gevestig was, het hy die mans wat sy pa in ’n sluipmoord doodgemaak het, tereggestel. 6Hy het egter nie die sluipmoordenaars se kinders doodgemaak nie, want hy was gehoorsaam aan die eise van die Here volgens die boek van die bepalings van Moses, wat lui: “Ouers moenie doodgemaak word vir die sondes van hulle kinders nie, of die kinders vir die sondes van die ouers nie. Elkeen moet vir sy eie misdade tereggestel word.”#14:6 Deut 24:16.
7Amasia het 10 000 Edomiete in die Soutvlakte verslaan. Hy het ook Sela verower en die naam na Jokteël verander, soos dit vandag nog genoem word.
8Op ’n dag stuur Amasia hierdie uitdaging aan Israel se koning Joas, seun van Joahas en kleinseun van Jehu: “Kom ons veg teen mekaar!”
9Maar koning Joas van Israel antwoord koning Amasia van Juda: “Die doringbos op die Libanon het ’n boodskap aan die sederboom op die Libanon gestuur: ‘Gee my jou dogter as vrou vir my seun.’ Maar ’n wilde dier van die Libanon het daar verbygekom en die doringbos vertrap. 10Jy het wel vir Edom verslaan, maar nou gaan dit na jou kop toe. Wees nou tevrede met jou oorwinning en bly tuis! Hoekom soek jy moeilikheid wat vir jou en Juda saam met jou ellende sal bring?”
11Maar Amasia wou nie luister nie. Koning Joas van Israel het toe sy leër opgeroep om teen koning Amasia oorlog te maak. Die twee leërs het by Bet-Semes in Juda teenoor mekaar stelling ingeneem. 12Die leër van Israel het egter vir Juda verslaan en die manskappe het huis toe gevlug. 13Koning Joas van Israel het vir koning Amasia van Juda by Bet-Semes gevang. Daarna ruk hy op na Jerusalem toe waar hy ongeveer 180 meter van Jerusalem se muur afgebreek het. Dit was vanaf die Efraimspoort tot by die Hoekpoort. 14Hy het al die goud en silwer en al die voorwerpe uit die tempel van die Here en die skatkamers van die paleis gevat en saam met gyselaars na Samaria toe geneem.
15Die ander gebeurtenisse tydens Joas se bewind, wat hy gedoen het en sy oorlog teen koning Amasia van Juda is opgeteken in Die boek van die handelinge van die konings van Israel. 16Toe Joas sterf, is hy in Samaria by die ander konings van Israel begrawe. Sy seun Jerobeam II het hom opgevolg.
17Koning Amasia van Juda, seun van Joas, het ná die dood van koning Joas van Israel, seun van Joahas, nog vyftien jaar gelewe. 18Die ander gebeurtenisse tydens Amasia se bewind is opgeteken in Die boek van die handelinge van die konings van Juda. 19Daar is in Jerusalem teen Amasia saamgesweer sodat hy na Lakis gevlug het. Sy vyande het egter mense agter hom aan gestuur en hom daar doodgemaak. 20Hulle het sy liggaam op perde na Jerusalem toe gebring en hy is begrawe in die familiegraf in die Dawidstad.
21Al die mense van Juda het toe vir Asarja#14:21 In 2 Kron 26:1 word hy Ussia genoem., die sestienjarige seun van Amasia, as koning gekroon in sy pa se plek. 22Hy het die dorp Elat herbou en dit ná die betrokke koning se dood weer onder die mag van Juda gebring.
Jerobeam II se regering in Israel
23Jerobeam II seun van Joas het koning van Israel geword in die vyftiende regeringsjaar van koning Amasia, seun van Joas in Juda. Jerobeam II het 41 jaar in Samaria regeer. 24Hy het gedoen wat verkeerd was vir die Here. Hy het nie die sondes van afgodery waarmee Jerobeam seun van Nebat vir Israel verlei het, laat vaar nie. 25Jerobeam II het die gebiede van Israel tussen Lebo-Hamat en die see in die Jordaanvallei#14:25 Grondteks See van Arabah. Of die Dooie See. herower. Dit was net soos die Here, die God van Israel, deur die profeet Jona seun van Amittai uit Gat-Gefer gesê het. 26Want die Here het die bittere lyding in Israel gesien, en dat daar hoegenaamd niemand was wat hulle kon help nie. 27Die Here het nog nie gesê dat Hy die naam van Israel heeltemal sou uitwis nie. Daarom het Hy Jerobeam II, seun van Joas, gebruik om hulle te red.
28Die ander gebeurtenisse tydens die regering van Jerobeam II, alles wat hy gedoen het, asook sy heldedade, sy oorloë en hoe hy Damaskus en Hamat, wat aan Juda behoort het, vir Israel herower het, is opgeteken in Die boek van die handelinge van die konings van Israel. 29Toe Jerobeam II sterf, is hy begrawe in die familiegraf van die konings van Israel. Sy seun Sagaria het hom opgevolg.

Seçili Olanlar:

2 KONINGS 14: NLV

Vurgu

Paylaş

Kopyala

None

Önemli anlarınızın tüm cihazlarınıza kaydedilmesini mi istiyorsunuz? Kayıt olun ya da giriş yapın

YouVersion, deneyiminizi kişiselleştirmek için tanımlama bilgileri kullanır. Web sitemizi kullanarak, Gizlilik Politikamızda açıklandığı şekilde çerez kullanımımızı kabul etmiş olursunuz