2 KONINGS 11

11
Atalia heers in Juda
1Toe Atalia, die ma van koning Ahasia van Juda, hoor dat haar seun dood is, het sy begin om die res van die koningsgeslag uit te wis.
2Maar Jehoseba, dogter van koning Joram en suster van koning Ahasia, het Ahasia se jongste seun, Joas, stilletjies weggevat tussen die ander seuns van Ahasia wat doodgemaak sou word. Jehoseba het Joas saam met sy oppasser in ’n slaapkamer vir Atalia weggesteek. So het dit gebeur dat hy nie doodgemaak is nie. 3Gedurende die ses jaar dat Atalia regeer het, is Joas en sy oppasser in die tempel van die Here weggesteek.
Opstand teen Atalia
4In die sewende jaar van Atalia se regering het die priester Jojada die bevelvoerders oor honderd van die Kariërs en die hardlopers na hom toe laat kom in die tempel van die Here. Hy het met hulle ’n ooreenkoms aangegaan en hulle ’n eed in die tempel van die Here laat aflê. Daarna het hy die koning se seun aan hulle gewys.
5Jojada het hulle beveel: “Julle moet soos volg te werk gaan: ’n Derde van julle wat op die Sabbat aan diens is, moet die koninklike paleis bewaak. 6Nog ’n derde van julle moet by die Surpoort wagstaan. Die laaste derde moet by die poort agter die hardlopers wagstaan. Al drie afdelings moet om die beurt die paleis bewaak. 7Die twee ander eenhede wat op die Sabbat van diens af gaan, moet wagstaan by die koning in die tempel van die Here. 8Vorm ’n lyfwag vir die koning en hou julle wapens gereed. Enige persoon wat deur julle geledere wil kom, moet doodgemaak word. Bly die hele tyd by die koning.”
9Die bevelvoerders oor honderd het presies so gemaak soos die priester Jojada beveel het. Elkeen het sy manskappe geneem, dié wat daardie Sabbat vir diens aangemeld het, asook dié wat van diens af gegaan het. Hulle het almal na die priester Jojada toe gekom. 10Hy het hulle toegerus met spiese en skilde wat in die tempel van die Here bewaar is en nog aan koning Dawid behoort het. 11Die hardlopers het rondom die koning gaan staan, gereed met hulle wapens. Hulle het gestaan vanaf die suidelike kant van die tempel óm na die noordelike kant toe en rondom die altaar.
12Toe bring Jojada die seun van die koning na vore en sit die kroon op sy kop. Hy gee vir Joas ’n afskrif van die Here se vereistes en verklaar hom tot koning. Hulle het hom gesalf en almal het hande geklap en uitgeroep: “Lank lewe die koning!”
Die dood van Atalia
13Atalia het die lawaai van die hardlopers en die volk gehoor en na die mense by die tempel van die Here toe gegaan. 14Daar sien sy die pasgekroonde koning wat volgens tradisie op die gebruiklike plek staan. Die leiers en trompetblasers het rondom hom gestaan en al die burgers van die land het gejuig en op trompette geblaas. Toe skeur Atalia haar klere en skree: “Verraad! Verraad!”
15Maar Jojada die priester het die bevelvoerders oor honderd in beheer van die manskappe beveel: “Vat haar buitentoe. Enigeen wat haar ondersteun, moet julle met die swaard doodmaak.” Hy voeg toe by: “Moenie haar hier in die tempel van die Here doodmaak nie.” 16Hulle het haar gegryp, haar deur die Perdepoort na die paleisgronde toe geneem en haar daar doodgemaak.
Die godsdienstige hervormings van Jojada
17Toe het Jojada ’n verbond tussen die Here, die koning en die volk gesluit, naamlik dat hulle die volk van die Here sou wees. Hy het ook ’n verbond tussen die koning en die volk tot stand gebring. 18Daarna het al die burgers van die land na die Baältempel toe gegaan en dit afgebreek. Hulle het al die altare vernietig en die afgodsbeelde stukkend geslaan en vir Mattan, die priester van Baäl, voor die altare doodgemaak.
Die priester Jojada het wagte oor die tempel van die Here aangestel. 19Daarna het die bevelvoerders oor honderd van die Kariërs en die hardlopers, asook al die burgers van die land die koning uit die tempel van die Here begelei. Hulle het deur die Wagterspoort na die paleis toe gegaan en die koning het op die troon gaan sit. 20Al die burgers van die land was bly en daar was vrede in die stad. So het dit gebeur dat Atalia by die koning se paleis doodgemaak is.
21Joas was sewe jaar oud toe hy koning geword het.

Seçili Olanlar:

2 KONINGS 11: NLV

Vurgu

Paylaş

Kopyala

None

Önemli anlarınızın tüm cihazlarınıza kaydedilmesini mi istiyorsunuz? Kayıt olun ya da giriş yapın

YouVersion, deneyiminizi kişiselleştirmek için tanımlama bilgileri kullanır. Web sitemizi kullanarak, Gizlilik Politikamızda açıklandığı şekilde çerez kullanımımızı kabul etmiş olursunuz