BibleProject | Verlossing in die BybelverhaalSample

Die Mensdom se Eindelose Verlossing
In vorige gedeeltes het ons gesien dat verlossing redding van die dood kan insluit, vryheid van slawerny en ’n terugkeer na ’n mens se ware familie met God, asook die lewegewende herstel van Sabbatsrus. Die mensdom verlang daarna om in vrede te rus, nie ná die dood nie, maar as 'n werklike manier van lewe.
Vandag se leeswerk is uit Nuwe Testamentiese gedeeltes wat daarop dui dat verlossing tot ware vrede nou plaasvind as gevolg van en deur Jesus, maar die veelsydige Bybelse konsep van verlossing verwys nie na 'n enkele idee of oomblik nie. Hebreërs 9 wys dat Jesus, die Christus, “ewige verlossing” vir mense bewerkstellig, nie deur menslike vyande te vermoor nie, maar deur die dood in die gesig te staar en Homself in liefde aan vriend sowel as vyand te gee.
Petrus beeld Jesus se bloed uit as ‘n losprys betaling, maar let op dat dit nie is om God te paai nie. Deur doelbewus te sterf, gee Jesus eerder sy lewe aan die dood oor en vernietig Hy die mag van die dood. Deur die krag van God se liefde nooi Hy almal uit tot die opstandingslewe saam met Hom, wat die mensdom vry maak.
Jesus bevry mense van die gevangenskap van die dood sodat hulle in plaas daarvan deur geregtigheid oorweldig kan word (Romeine 6:15-19) en deur liefde gedring sal word om in ’n regte verhouding met God en ander te lewe. Soos 1 Petrus sê, verlos Jesus mense van ’n “sinlose bestaan” om “weergebore” te word, tot lewens wat deur liefde vir God, ander en die hele skepping gedryf word (1 Petrus1:18, 22-23).
Deur van Homself te gee en ons te leer om lief te hê, herstel Jesus ons tot ’n ware menslike familie wat na God se beeld geskep is. Hy neem ons terug in die familie van God en brei die verlossingspatroon wat in Eksodus begin het, onbepaald uit.
Van God ontvang ons lewe, en deur God in Christus vind ons verlossing vir ons harte, verstand, liggame en siel – totale, suiwer en blywende verlossing.
Oordenking:
Sommige van die vroeë beelde van verlossing in die Hebreeuse Bybel sluit die vernietiging van “slegte ouens” in om die “goeie ouens” vry te maak of te verlos. Maar mettertyd word die goeie ouens niks beter as die slegte ouens nie, wat lei tot die gevolgtrekking dat verlossing vir die mensdom op 'n ander manier moet plaasvind. Hoe verskil Jesus se manier van verlossing van ons verwagtinge van verlossing?
Jy het moontlik hierdie leesplan begin met 'n reeds gevormde begrip van verlossing in die Bybel, of jy het dalk van nuuts af begin. Neem ’n oomblik om na te dink oor watter dele van jou begrip verdiep het, en let op die nuwe vrae wat ontstaan het.
Laaste Groet:
Dankie dat jy gereis het deur die BibleProject Verlossing-leesplan. Ons hoop dat hierdie avontuur deur sleutelgedeeltes in die Hebreeuse Bybel en die Nuwe Testament nuttig was. Hierdie plan is bedoel om lesers deur slegs enkele voorbeelde van die vele Bybelse beelde van verlossing te lei; beskou dit dus as die begin van ’n langer reis. Jy het die basiese beginsels en jy weet waarna om te soek. Hou aan soek, en onthou dat Jesus belowe om jou te help om die waarheid te leer.
About this Plan

BibleProject het hierdie plan ontwerp om individue, gesinne en groepe te help om na te dink oor sleutelgedeeltes wat die Bybel se veelsydige tema van verlossing uitlig. Wat is verlossing? Hoe werk dit? Wat is die doel daarvan? Deur middel van die Skrif, kort video’s en vrae volg hierdie plan die tema van verlossing vanaf Israel se eksodus tot by Jesus se verhaal en selfs verder en wys hoe God mense uit slawerny en dood red tot vryheid, liefde en ware rus.
More









