YouVersion Logo
Search Icon

Sy Glorie, My Storie: Ingesluit in Sy HeerlikheidSample

Sy Glorie, My Storie: Ingesluit in Sy Heerlikheid

DAY 1 OF 7

Dag 1: Die Grootste Ontdekking

Dink terug aan ’n ontdekking wat jou lewe verander het: Miskien was dit ’n verborge talent, of iets nuuts oor jou afkoms, of ‘n belangrike beginsel. Ontdekkings kan die koers van ons lewens verander. Die grootste ontdekking wat jy ooit kan maak, is dat Jesus die Christus is en dat jy in Hom ingesluit is. 'n Mens ontdek iets wat reeds bestaan. Hierdie werklikheid dat jy in Christus ingesluit is, is reeds jou realiteit, selfs al is jy nie daarvan bewus nie.

Paulus se brief aan die Romeine beklemtoon hoe die verhaal van die mensdom met Adam begin het. Adam is geskape met outoriteit wat die mensdom ingesluit het. Sy ongehoorsaamheid het sonde en die dood in die wêreld ingebring; en omdat hy in 'n posisie van gesag was, is die mensdom saam met hom in hierdie “val” ingesluit. Ons bestemming en identiteit het verander — ons het sondaars geword onder die heerskappy van sonde en dood.

Die verhaal het darem nie daar geëindig nie. Die goeie nuus van die evangelie is, net soos Adam se sonde die dood gebring het, bring Jesus se gehoorsaamheid die lewe. Jesus, as God se gesalfde Koning, verteenwoordig ons en sluit ons in sy oorwinning in. Deur God se genade word ons nie meer deur Adam se mislukking gedefinieer nie, maar deur Christus se triomf.

Hierdie ontdekking verander jou identiteit. Jy is nie langer veroordeel nie, maar geregverdig. Nie meer ’n slaaf van sonde nie, maar lewend in Christus vir God. Nie meer geskei van God nie, maar deur sy genade aanvaar. Die werklikheid om “in Christus” te wees, is nie iets wat jy moet verdien nie — dit is die werk wat God deur Christus kom doen het, om jou by Hom in te sluit. Om in Christus ingesluit te wees, is ‘n gawe wat vrylik deur God se liefde en genade gegee word.

Volgende tree:

Dink na tot watter mate jy al hierdie waarheid jou eie gemaak het oor Jesus as die Christus, en dat jy ingesluit is deur wat Hy gedoen het. Skryf 'n gebed van dankbaarheid vir die genade wat jou van jou status as sondaar deur Adam, na geregverdig deur Christus se oorwinning gebring het.

About this Plan

Sy Glorie, My Storie: Ingesluit in Sy Heerlikheid

Hierdie 7-dag leesplan wil jou help met ‘n dieper begrip van die werklikheid dat ons nou ingesluit is in Christus en sy heerlikheid. Dit sal jou identiteit in Christus versterk en jou bemagtig om met vrymoedigheid in en vir sy heerlikheid te leef. “Ingesluit in Sy Heerlikheid” is nie net ‘n konsep of ‘n tema nie – dit is die realiteit van wie jy is. As jy in Jesus glo, is jy IN CHRISTUS.

More