YouVersion Logo
Search Icon

Plan Info

Landbouweekblad Hart tot hartSample

Landbouweekblad Hart tot hart

DAY 4 OF 7

# As God in jou pad kom staan Op ’n plaas wat ek dikwels besoek, groei daar ’n klompie onkruidplante wat die pragtigste blomme gee. Ek het gou geleer om dit versigtig te hanteer, want ’n oorvloed venynige dorings het die blomme byna ontoeganklik gemaak. Wanneer ek vandag ons lesers nooi om saam met my ’n blommetjie in die boek Numeri te gaan pluk, wil ek betyds ’n waarskuwing rig: Trek vir jou goeie handskoene aan. Dit kan jou herinner aan ’n tyd toe jy die Here uit jou pad uit wou stoot. Kom ons kyk eers na die teks uit Numeri 22:32 en dan gesels ons verder: “Ek het gekom om jou voor te keer, want jy is op pad na jou ondergang.” Padversperrings is meestal lastig. Ons hou nie daarvan nie. En tog is dit soms nodig om jou van ondergang te red. Ons teks uit Numeri is ’n grepie uit die lewe van Bileam, ’n soort waarsêer-profeet wat ter wille van ’n verleidelike omkoopgeskenk bereid was om ’n daad te verrig wat God nie behaag het nie. Lees gerus hierdie verhaal uit Numeri 22 en 23. God gebruik ’n wonderwerk van ’n pratende donkie en ’n engel om vir Bileam tot besinning te bring. Dis asof God wil sê: “Maak jou oë oop en sien wat Ek besig is om te doen. Ek wil jou nie vernietig nie; Ek wil jou red.” En dan volg die aangrypende woorde wat tegelyk seermaak en red: “Ek het gekom om jou voor te keer, want jy is op pad na jou ondergang” (Vergelyk die vertaling in Die Lewende Bybel). Let op hoe die dorings en die blom in een teks vermeng word: “Jy is op pad na jou ondergang,” en: “Ek wil jou voorkeer.” Terwyl ek hier skrywe, is daar talle mense wat ’n pad loop wat na hul ondergang lei. Waarom los God nie weglopers nie? Die antwoord kom slegs in die onbegryplike liefde wanneer God gevind word. Hierdie liefde loop soos ’n goue draad deur die geskiedenis. Golgota is die baken van verlossing. Dáár het God ’n kruis geplant om mense te stuit wat op pad na hul ondergang was. Aan Petrus sê Christus jare later: “Simon, Simon, luister! Die Satan het daarop aangedring om julle soos koring te sif, maar Ek het vir jou gebid dat jou geloof jou nie begewe nie” (Luk 22:31).

Scripture

Day 3Day 5

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy