Logo YouVersion
Îcone de recherche

MATTHÉÜS 27

27
Die selfmoord van Judas.
(Hand. 1:16-19.)
1 EN toe dit dag geword het, het al die owerpriesters en die ouderlinge van die volk saam raad gehou teen Jesus om Hom dood te maak.
2En hulle het Hom geboei en weggelei en Hom oorgelewer aan Pontius Pilatus, die goewerneur.
3 Daarna het Judas, sy verraaier, toe hy sien dat Hy veroordeel was, berou gekry en die dertig silwerstukke teruggebring na die owerpriesters en die ouderlinge
4en gesê: Ek het gesondig deur onskuldige bloed te verraai. Maar hulle sê: Wat gaan dit ons aan? Jy kan toesien!
5En hy het die silwerstukke in die tempel neergegooi en weggeloop en homself gaan ophang.
6En die owerpriesters het die silwerstukke geneem en gesê: Dit is nie geoorloof om dit in die skatkis te stort nie, omdat dit bloedgeld is.
7En nadat hulle saam raad gehou het, het hulle die stuk grond van die pottebakker daarmee gekoop as 'n begraafplaas vir vreemdelinge.
8Daarom is dié stuk grond genoem Bloedgrond, tot vandag toe.
9Toe is vervul wat gespreek is deur Jeremia, die profeet, toe hy gesê het: En hulle het die dertig silwerstukke geneem, die prys van die gewaardeerde wat hulle gewaardeer het vanweë die kinders van Israel;
10en hulle het dit gegee vir die grond van die pottebakker, soos die Here my beveel het.
Jesus voor Pilatus.
(Mk. 15:1-20; Lk. 23:1-25; Joh. 18:28 – 19:16.)
11EN Jesus het voor die goewerneur gestaan, en die goewerneur het Hom die vraag gestel en gesê: Is U die Koning van die Jode? En Jesus antwoord hom: U sê dit.
12En terwyl Hy deur die owerpriesters en die ouderlinge beskuldig word, het Hy niks geantwoord nie.
13Toe sê Pilatus vir Hom: Hoor U nie hoe baie dinge hulle teen U getuig nie?
14En Hy het hom op geen enkele woord geantwoord nie, sodat die goewerneur hom baie verwonder het.
15 En op die fees was die goewerneur gewoond om een gevangene, die een wat hulle wou hê, vir die skare los te laat.
16En in daardie tyd het hulle 'n berugte gevangene gehad met die naam van Barábbas.
17Nadat hulle dan byeengekom het, sê Pilatus vir hulle: Wie wil julle hê moet ek vir julle loslaat: Barábbas, of Jesus wat genoem word Christus?
18Want hy het geweet dat hulle Hom uit nydigheid oorgelewer het.
19En terwyl hy op die regbank sit, het sy vrou na hom gestuur en gesê: Moet tog niks te doen hê met dié regverdige man nie, want ek het vandag in 'n droom baie gely om sy ontwil.
20Maar die owerpriesters en die ouderlinge het die skare oorgehaal dat hulle Barábbas moes begeer en Jesus ombring.
21Toe antwoord die goewerneur en sê vir hulle: Wie van die twee wil julle hê moet ek vir julle loslaat? En hulle antwoord: Barábbas!
22Pilatus sê vir hulle: Wat moet ek dan doen met Jesus wat genoem word Christus? Hulle sê almal vir hom: Laat Hom gekruisig word!
23En die goewerneur sê: Watter kwaad het Hy dan gedoen? Maar hulle skreeu nog harder en sê: Laat Hom gekruisig word!
24En toe Pilatus sien dat niks help nie, maar dat daar eerder 'n oproer kom, het hy water geneem en sy hande voor die skare gewas en gesê: Ek is onskuldig aan die bloed van hierdie regverdige man; julle kan toesien!
25En die hele volk antwoord en sê: Laat sy bloed op ons en op ons kinders kom!
26Toe laat hy vir hulle Barábbas los, maar Jesus het hy laat gésel en oorgelewer om gekruisig te word.
27Daarop neem die soldate van die goewerneur Jesus met hulle saam in die goewerneur se paleis en bring die hele leërafdeling teen Hom bymekaar.
28Toe trek hulle sy klere uit en werp 'n rooi mantel om Hom;
29en hulle vleg 'n kroon van dorings en sit dit op sy hoof, en 'n riet in sy regterhand; en hulle val op hul knieë voor Hom en bespot Hom en sê: Wees gegroet, Koning van die Jode!
30En hulle spuug op Hom en neem die riet en slaan Hom op sy hoof.
31En nadat hulle Hom bespot het, trek hulle Hom die mantel uit en trek Hom sy klere aan en lei Hom weg om gekruisig te word.
Die kruisiging.
(Mk. 15:21-41; Lk. 23:26-49; Joh. 19:17-37.)
32EN toe hulle uitgaan, kry hulle 'n man van Ciréne, met die naam van Simon; hom het hulle gedwing om sy kruis te dra.
33 En hulle het gekom op 'n plek wat Gólgota genoem word — dit beteken: Plek van die Hoofskedel —
34en vir Hom asyn, met gal gemeng, gegee om te drink; en toe Hy dit proe, wou Hy nie drink nie.
35En nadat hulle Hom gekruisig het, het hulle sy klere verdeel deur die lot te werp, sodat vervul sou word wat deur die profeet gespreek is: Hulle het my klere onder mekaar verdeel en oor my gewaad die lot gewerp.
36En hulle het gaan sit en Hom daar bewaak.
37En bokant sy hoof het hulle sy beskuldiging in skrif opgestel: DIT IS JESUS, DIE KONING VAN DIE JODE.
38Toe word daar saam met Hom twee rowers gekruisig, een aan die regter- en een aan die linkerkant.
39En die verbygangers het Hom gesmaad terwyl hulle hul hoofde skud
40en sê: U wat die tempel afbreek en in drie dae opbou, red Uself! As U die Seun van God is, kom af van die kruis!
41En so het ook die owerpriesters saam met die skrifgeleerdes en ouderlinge gespot en gesê:
42Ander het Hy verlos, Homself kan Hy nie verlos nie. As Hy die Koning van Israel is, laat Hom nou van die kruis afkom, en ons sal in Hom glo.
43 Hy het op God vertrou; laat Hy Hom nou verlos as Hy behae in Hom het; want Hy het gesê: Ek is die Seun van God.
44En op dieselfde manier het die rowers wat saam met Hom gekruisig was, Hom ook beledig.
45En van die sesde uur af het daar duisternis gekom oor die hele aarde tot die negende uur toe;
46en omtrent die negende uur het Jesus met 'n groot stem geroep en gesê: Eli, Eli, lama sabagtáni? Dit is: My God, my God, waarom het U My verlaat?
47En sommige van die wat daar staan, hoor dit en sê: Hy roep Elía.
48Toe hardloop daar dadelik een van hulle en neem 'n spons en maak dit vol asyn, en sit dit op 'n riet en laat Hom drink.
49 Maar die ander sê: Wag, laat ons sien of Elía kom om Hom te verlos.
50Daarop het Jesus weer met 'n groot stem geroep en die gees gegee.
51En kyk, die voorhangsel van die tempel het in twee geskeur, van bo tot onder, en die aarde het gebewe en die rotse het geskeur;
52en die grafte het oopgegaan en baie liggame van die ontslape heiliges het opgestaan.
53En ná sy opstanding het hulle uit die grafte uitgegaan en in die heilige stad ingekom en aan baie verskyn.
54En toe die hoofman oor honderd en die wat saam met hom Jesus bewaak het, die aardbewing sien en die dinge wat daar gebeur, het hulle baie bevrees geword en gesê: Waarlik, Hy was die Seun van God.
55En daar was baie vroue wat dit van ver af aanskou het, wat vir Jesus van Galiléa af gevolg en Hom gedien het.
56Onder hulle was daar Maria Magdaléna en Maria, die moeder van Jakobus en Joses, en die moeder van die seuns van Sebedéüs.
Die begrafnis van Jesus.
(Mk. 15:42-47; Lk. 23:50-56; Joh. 19:38-42.)
57 EN toe dit aand geword het, het daar 'n ryk man van Arimathéa gekom met die naam van Josef, wat self ook 'n dissipel van Jesus was.
58Hy het na Pilatus gegaan en die liggaam van Jesus gevra. Toe beveel Pilatus dat die liggaam afgegee moes word.
59En Josef het die liggaam geneem en dit met skoon linne toegedraai
60en dit in sy nuwe graf gelê wat hy in die rots uitgekap het; en nadat hy 'n groot steen teen die opening van die graf gerol het, het hy weggegaan.
61En Maria Magdaléna was daar en die ander Maria, en hulle het reg voor die graf gesit.
62Die volgende dag — dit is die dag ná die voorbereiding — kom die owerpriesters en die Fariseërs by Pilatus saam
63en sê: My heer, ons herinner ons dat dié verleier, toe hy in die lewe was, gesê het: Oor drie dae staan ek op.
64Gee dan bevel dat die graf verseker word tot die derde dag toe, dat sy dissipels nie miskien in die nag kom en Hom steel nie, en vir die volk sê: Hy het opgestaan uit die dode. En die laaste dwaling sal erger wees as die eerste.
65Daarop sê Pilatus vir hulle: Julle sal 'n wag kry; gaan verseker dit soos julle dit verstaan.
66En hulle het gegaan en die graf verseker deur die steen te verseël in teenwoordigheid van die wag.

Sélection en cours:

MATTHÉÜS 27: AFR53

Surbrillance

Partager

Copier

None

Tu souhaites voir tes moments forts enregistrés sur tous tes appareils? Inscris-toi ou connecte-toi

YouVersion utilise des cookies pour personnaliser votre expérience. En utilisant notre site Web, vous acceptez l'utilisation des cookies comme décrit dans notre Politique de confidentialité