Logo de YouVersion
Ícono Búsqueda

ROMEINE 4

4
Ook Abraham is vrygespreek deur die geloof
1Abraham is ons aardse voorvader. Hoe pas hy in hierdie prentjie van vryspraak deur die geloof? 2Was dit op grond van sy goeie werke dat God hom vrygespreek het? As dit inderdaad so was, sou hy dalk goeie rede gehad het om te spog. Maar vanuit God se oogpunt het hy absoluut niks gehad om oor te spog nie. 3Die Skrif verklaar mos: “Abraham het in God geglo, en God het hom vrygespreek.”#4:3 Gen 15:6.
4Wanneer mense ’n werk verrig, word hulle loon nie as ’n guns beskou nie, maar as vergoeding. 5Die saak staan heeltemal anders met daardie mense wat geen prestasie het waarop hulle kan staatmaak nie, maar wat glo in Hom wat die goddeloses vryspreek – hulle word vrygespreek deurdat hulle glo.
6Koning Dawid het hiervan gepraat toe hy beskryf het hoe gelukkig#4:6, 7, 8 Of geseënd. die mens is wat sonder enige wetsprestasies tog deur God vrygespreek word:
7“Gelukkig#4:6, 7, 8 Of geseënd. is daardie mense
wie se oortredings
nie gestraf word nie
en wie se sondes uitgewis word.
8Gelukkig#4:6, 7, 8 Of geseënd. is die mens
vir wie die Here die sonde
glad nie meer toereken nie!”#4:7-8 Ps 32:1-2.
9Geld hierdie uitspraak net vir die Jode, of sluit dit ook die nie-Jode in? Wel, wat dan van Abraham? Ons het tog gesê dat hy deur God vrygespreek is deurdat hy glo. 10Het hierdie vryspraak plaasgevind nadat hy reeds besny was of terwyl hy nog onbesnede was? Die antwoord is dat God hom reeds tevore, toe hy nog onbesnede was, vrygespreek het en dat hy eers daarna besny is!
11Die seremonie van die besnydenis was ’n teken, ja, ’n plegtige bekragtiging#4:11 Grondteks ’n seël. daarvan dat Abraham alreeds geglo het en deur God vrygespreek is – selfs nog voor sy besnydenis. So het Abraham die geestelike voorvader geword van almal wat glo sonder dat hulle die besnydenis ontvang het en só deur God vrygespreek is. 12En hy het ook die geestelike voorvader geword van hulle wat besny is, maar net as hulle dieselfde soort geloof het as wat ons vader Abraham gehad het voordat hy besny is.
13Dit is dus duidelik dat God se belofte om die hele wêreld aan Abraham en sy nasate te gee nie berus het op wetsgehoorsaamheid nie, maar op die nuwe verhouding wat tot stand kom deur die vryspraak deurdat iemand glo. 14As jy dus beweer dat mense die wêreld as erfdeel sou kon verkry op grond van wetsgehoorsaamheid, het die geloof betekenisloos geword en het die belofte sy krag verloor. 15Wetsgehoorsaamheid bring juis straf mee – die enigste manier om wetsverbreking te voorkom is om geen wet te hê nie!
16Die geloof is dus die sleutel! God se belofte word as ’n genadegeskenk gegee en ons as sy nageslag sal dit baie beslis ontvang – nie net dié wat die wet ontvang het nie, maar almal wat deel in Abraham se geloof. Want Abraham is die vader van ons almal wat glo. 17Dit is wat die Skrif bedoel het met die woorde: “Ek het jou die stamvader van baie volke gemaak.”#4:17 Gen 17:5. By die God in wie Abraham geglo het, was dié belofte reeds as’t ware ’n werklikheid – Hy is immers ’n God wat dooies lewendig maak en deur sy roepstem dinge wat nog nie bestaan nie, aanspreek asof hulle reeds werklikheid is.
18Teen alle hoop in het Abraham met vaste hoop geglo dat hy nog die stamvader van baie volke sou word op grond van God se belofte: “Jou nageslag sal so baie wees soos die sterre aan die hemel.”#4:18 Gen 15:5. 19En Abraham se geloof het nie verswak nie, al het hy baie goed besef dat sy eie liggaamlike vermoëns alreeds gedaan#4:19a Grondteks heeltemal dood. was – hy was al omtrent 100 jaar oud – en dat sy vrou Sara nie meer kinders kon hê nie#4:19b Grondteks se moederskoot al klaar dood was..
20Abraham het nie getwyfel aan God se belofte nie; inteendeel, sy geloof het sterker geword en so het hy die eer aan God gegee. 21Hy was absoluut daarvan oortuig dat God enigiets kon doen wat Hy beloof het. 22Inderdaad, God het Abraham regverdig verklaar omdat hy in Hom geglo het!
23Hierdie wonderlike waarheid – dat God Abraham regverdig verklaar het omdat hy geglo het – staan nie net opgeteken ter wille van Abraham self nie. 24Dit wil ook vir óns verseker dat ons net so vrygespreek sal word as ons in Hom glo wat Jesus ons Here uit die dood opgewek#4:24 Grondteks tussen die dooies uit opgewek. het.
25Hierdie Jesus is oorgelewer om ter wille van ons sondes te sterf, en Hy is opgewek sodat ons vrygespreek kan word.

Actualmente seleccionado:

ROMEINE 4: NLV

Destacar

Compartir

Copiar

None

¿Quieres guardar tus resaltados en todos tus dispositivos? Regístrate o Inicia sesión

YouVersion utiliza cookies para personalizar su experiencia. Al usar nuestro sitio web, acepta nuestro uso de cookies como se describe en nuestra Política de privacidad