Logo de YouVersion
Ícono Búsqueda

ROMEINE 3

3
God bly altyd betroubaar
1Beteken dit dan enigiets besonders om ’n Jood te wees? Of hou die besnydenis enige voordeel in? 2Inderdaad! Dit hou baie voordele in. Die belangrikste is die feit dat God sy openbaring#3:2 Grondteks die woorde van God. aan die Jode toevertrou het.
3Wat sê dit vir ons? Impliseer die feit dat party Jode ontrou geword het dan nie dat God se getrouheid aan sy beloftes ook daarmee heen is nie? 4Beslis nie! Al sou elke mens ’n leuenaar wees – God se waaragtigheid staan steeds vas. Soos die Skrif sê:
“U sal reg bewys word
in wat U sê,
en U sal u regsaak wen.”#3:4 Ps 51:6.
5“Maar,” kan party sê, “dan dien ons ongeregtigheid tog ’n goeie doel, want as God ons ten spyte van ons sondes vryspreek, sal dit vir die mense wys hoe wonderlik goed Hy is. En dan sou God mos onregverdig wees as Hy die sonde wel straf!” Ja, so sou mense nogal geneig wees om te redeneer. 6Maar dit is natuurlik ondenkbaar! As God onregverdig was, hoe sou Hy ooit as die regter van die hele wêreld kon kwalifiseer?
7Party sal egter nog bly sê: “Maar hoe kan God my nog steeds as ’n sondaar veroordeel as my oneerlikheid juis sý waaragtigheid oorvloedig laat blyk en tot sy verheerliking dien?” 8Volgens hierdie absurde redenasie sou ons moes sê: “Kom ons doen die slegte sodat die goeie daaruit kan voortkom!” Dié wat sulke onsin verkondig, verdien tereg God se oordeel – en tog belaster sommige mense my deur te beweer dis presies wat ek preek!
Dis duidelik dat alle mense sondaars is
9Waarop kom dit neer? Dat ons wat Jode is, voor God beter is as ander? Hoegenaamd nie! Ons het immers reeds duidelik aangetoon dat die Jode sowel as die nie-Jode almal onder die mag van die sonde verkeer. 10Dit is soos die Skrif sê:
“Niemand is goed nie –
selfs nie een nie.#3:10 Vgl Pred 7:20.
11Daar is nie een wat
verstandig is nie;
niemand wat ernstig
na God soek nie.
12Almal het hulle rug op God gekeer;
almal het sleg geword.
Daar is niemand
wat die goeie doen nie –
selfs nie een nie.”#3:10-12 Vgl Ps 14:1-3; 53:2-4.
13“Hulle keel is soos
’n geopende graf.
Met hulle tonge
pleeg hulle bedrog.”#3:13a Vgl Ps 5:10.
“Die gif van dodelike slange
drup van hulle lippe.”#3:13b Vgl Ps 140:4.
14“Hulle monde is vol vervloeking
en bitterheid.”#3:14 Vgl Ps 10:7.
15“Hulle is haastig
om moord te pleeg.
16Oral waar hulle gaan,
laat hulle verwoesting
en ellende agter.
17Hulle weet nie waar
ware vrede lê nie.”#3:15-17 Vgl Jes 59:7-8.
18“Eerbied vir God speel by hulle
geen rol nie.”#3:18 Vgl Ps 36:2.
19Ons weet dat die wet van toepassing is op almal wat onder die wet is. Daarom kan niemand van ons ons verweer nie en is die hele wêreld skuldig voor God. 20Niemand sal dus op grond van wetsgehoorsaming voor God vrygespreek kan word nie. Hoe beter ons die wet van God leer ken, hoe duideliker blyk ons sonde.
God spreek ons vry op grond van Christus se dood
21Maar nou het God vir ons ’n ander weg bekendgemaak waardeur ons sy vryspraak kan verkry – nie deur wetsgehoorsaming nie, maar langs die weg waarvan die Skrif al lankal getuig: 22God spreek ons vry deur geloof in Christus Jesus en dit geld sonder onderskeid vir almal wat glo.
23Ons het immers almal gesondig. Ons almal het God beroof van die eer wat Hom toekom. 24Maar nou spreek God ons in sy genade vry op grond van die verlossing wat Christus Jesus vir ons verkry het – en dit sonder enige verdienste van ons kant. 25-26Want God het Hom gestuur as ’n offer wat deur sy sterwe versoening bewerk het vir almal wat glo. Op hierdie manier het Hy duidelik aangetoon wat sy vryspraak behels: Aan die een kant het Hy die sondes vergewe wat vroeër in die tyd van sy verdraagsaamheid begaan is; aan die ander kant het Hy ook duidelik aangetoon wat sy vryspraak nóú behels. Op hierdie manier blyk dit dat Hy nie net regverdig is nie, maar terselfdertyd ook elkeen regverdig verklaar wat in Jesus glo.
27Kan ons ons dus daarop beroem dat ons enigiets gedoen het om die vryspraak te verdien? Dis heeltemal buite die kwessie, want ons vryspraak berus nie op ons goeie dade nie, maar op ons geloof. 28Ons is immers daarvan oortuig dat mense vrygespreek word deurdat hulle glo en nie deur wetsgehoorsaming nie.
29Per slot van sake is God nie net ’n God van die Jode nie, maar ook van die nie-Jode. 30Daar is net een God en daar is net een manier om sy vryspraak te ontvang. Hy spreek mense vry net deurdat hulle glo – en dit geld vir Jode sowel as nie-Jode. 31As ons die geloof beklemtoon, beteken dit dan dat ons die wet ter syde stel? Natuurlik nie! In werklikheid laat ons die wet juis tot sy reg kom.

Actualmente seleccionado:

ROMEINE 3: NLV

Destacar

Compartir

Copiar

None

¿Quieres guardar tus resaltados en todos tus dispositivos? Regístrate o Inicia sesión

YouVersion utiliza cookies para personalizar su experiencia. Al usar nuestro sitio web, acepta nuestro uso de cookies como se describe en nuestra Política de privacidad