Logo de YouVersion
Ícono Búsqueda

ROMEINE 15

15
Stel ander se belange voorop
1Dié van ons met ’n sterk geloof behoort die twyfel en vrese van ons medegelowiges met ’n sensitiewe geloof in aanmerking te neem en nie ons eie belange voorop stel nie. 2Ons moet aan die beswil van ons naaste dink en hulle so in hulle geloofslewe help opbou. 3Ook Christus het immers nie aan sy eie sin en wil voorkeur gegee nie. Soos die Skrif sê: “Dié wat U beledig, beledig ook vir My.”#15:3 Ps 69:10. 4Ons moet leer uit wat al lank gelede reeds in die Skrif opgeteken is. Die standvastigheid en die bemoediging wat die Skrif aan ons gee, help ons om aan ons toekomsverwagting#15:4 Of hoop. te bly vashou.
5Mag God, wat die bron is van standvastigheid en bemoediging, julle help om in volkome harmonie met mekaar te lewe – elkeen met die gesindheid van Christus teenoor julle medegelowiges. 6Dan sal julle almal in ’n wonderlike eenheid van gees en uit een mond die lof toebring aan God, die Vader van Jesus Christus ons Here.
7Aanvaar mekaar dan, soos Christus julle ook aanvaar het. So sal julle God verheerlik. 8Dink daaraan dat Christus vir die Jode ’n dienskneg geword het om te bewys dat God getrou bly aan die beloftes wat Hy aan hulle voorouers gemaak het. 9Hy het ook gekom sodat die nie-Joodse nasies God kan verheerlik op grond van sy ontferming teenoor hulle. Dit is soos die Skrif sê:
“Ek sal U loof
onder die nie-Joodse nasies,
ek sal tot eer van u Naam
’n lofpsalm sing.”#15:9 Ps 18:50.
10Op ’n ander plek staan:
“Juig, nie-Joodse nasies,
tesame met die Here se volk.”#15:10 Deut 32:43.
11En weer:
“Prys die Here, alle nie-Joodse nasies!
Loof Hom, alle volke!”#15:11 Ps 117:1.
12En Jesaja sê op sy beurt:
“Die erfgenaam van Dawid se troon#15:12a Of Die wortel van Isai.
sal na vore kom
en Hy sal die heerskappy
oor die nie-Joodse nasies oorneem.
Op Hóm sal die nie-Joodse nasies
hulle hoop vestig.”#15:12b Jes 11:10.
13Ek bid dat dié God wat aan ons ’n toekomsverwagting gee, deur die geloof julle lewens met blydskap en vrede sal vul. Ja, mag julle lewens tot oorlopens toe vol verwagting word deur die kragtige werking van die Heilige Gees.
Paulus verduidelik waarom hy hierdie brief skryf
14My broers en susters#15:14 Grondteks broers., ek is self deeglik bewus van julle goeie kwaliteite. Julle is trouens self so goed op hoogte van dinge dat julle mekaar sou kon onderrig. 15Ek was vrymoedig genoeg om sekere punte te beklemtoon alhoewel ek besef het dat dit eintlik net nodig was om julle geheue op te skerp. Ek het dit gedoen as iemand wat deur God se genade 16’n evangeliedienaar van Christus Jesus onder die nie-Joodse nasies is. Soos ’n priester in die heiligdom bedien ek die Goeie Nuus aan julle, en so word julle ’n offer aan God met ’n lieflike geur, ’n offer wat Hy verwelkom en wat deur die Heilige Gees aan Hom gewy is. 17Deur Christus Jesus is dit my trots dat ek hierdie offer vir God mag aanbied. 18Ek sal dit nie waag om oor iets anders te praat as wat Christus deur my gedoen het om die nie-Joodse nasies tot gehoorsaamheid aan die evangelie te bring nie. Hy het dit gedoen deur my prediking en my voorbeeld, 19deur kragtige tekens en wonders – bewerk deur die krag van die Gees van God. Op hierdie manier het ek die Goeie Nuus aangaande Christus uitgedra vanaf Jerusalem en tot by Illirikum#15:19 ’n Gebied aan die noordweste van die Balkanskiereiland.. 20Dit was egter vir my ’n saak van eer om die Goeie Nuus net te bring waar Christus se Naam nog nie vermeld is nie – eerder as om voort te bou op die fondament wat iemand anders reeds gelê het. 21Ek het die riglyn van die Skrif gevolg:
“Dié vir wie nog nooit van Hom
vertel is nie, sal sien;
en dié wat nog nooit van Hom
gehoor het nie, sal verstaan.”#15:21 Jes 52:15.
22Om die waarheid te sê, juis dít is die rede waarom my besoek aan julle so herhaaldelik vertraag is.
Paulus se reisplanne
23Maar noudat ek my werk in hierdie gebiede voltooi het, en na al die baie jare wat ek gretig daarna uitgesien het om julle te besoek, wil ek dit doen 24terwyl ek na Spanje onderweg is. Ek hoop om julle op my deurreis na Spanje te sien. Nadat ek my eers vir ’n tydjie aan die samesyn met julle verlustig het, kan julle my dan verder na Spanje toe stuur.
25Maar voor my koms na julle toe, moet ek nou eers Jerusalem toe om ’n geskenk aan die gelowiges daar te gaan aflewer. 26Julle sien, die gelowiges in Griekeland#15:26 Grondteks Masedonië en Agaje. het op die goeie gedagte gekom om geld in te samel vir die armes onder die gelowiges in Jerusalem. 27Hulle het dit gedoen onder die besef dat hulle so baie aan daardie gelowiges verskuldig is. Omdat die Joodse gelowiges bereid was om soveel geestelike seëninge met die nie-Joodse nasies te deel, is die minste wat hulle kan doen om die Joodse gelowiges met materiële dinge te help. 28As ek dit dan afgehandel het en alles rondom hierdie insameling veilig afgerond het, wil ek by julle langs na Spanje toe reis. 29As ek na julle toe kom – dit weet ek vir seker – sal Christus vir my ’n ryke seën gee om vir julle te bring.
30Broers en susters#15:30 Grondteks broers., in die Naam van ons Here Jesus Christus en omdat die Heilige Gees ons in liefde saambind, smeek ek julle dringend: 31Worstel saam met my op julle knieë voor God dat Hy my sal red uit die hande van die ongelowige Jode in Jerusalem#15:31 Of in Judea. en dat die gelowiges daar positief sal wees oor die kollekte wat ek vir hulle bring. 32Dan sal ek, as God wil, vol blydskap na julle toe kom om julle teenwoordigheid te geniet en uit te rus.
33Mag God, wat aan ons sy vrede gee, met julle almal wees. Amen.

Actualmente seleccionado:

ROMEINE 15: NLV

Destacar

Compartir

Copiar

None

¿Quieres guardar tus resaltados en todos tus dispositivos? Regístrate o Inicia sesión

YouVersion utiliza cookies para personalizar su experiencia. Al usar nuestro sitio web, acepta nuestro uso de cookies como se describe en nuestra Política de privacidad