Logo de YouVersion
Ícono Búsqueda

SPREUKE 28

28
1Goddeloses vlug weg,
al jaag niemand hulle nie.
Regverdiges is so dapper
soos leeus.
2As daar opstand is in ’n land
wissel die leiers vinnig.
As ’n wyse en kundige
aan bewind kom,
is daar lank vastigheid
in die land.
3’n Man wat self arm is
en ander arm mense uitbuit,
is soos stortreën
wat alles wegspoel
sodat daar niks kos oorbly nie.
4Mense wat die wet van God
verwerp,
praat met lof
van die goddelose mense.
Mense wat die wet onderhou,
weerstaan hulle.
5Mense wat kwaad doen,
het geen begrip van die reg nie.
Wie vra na die wil van die Here
verstaan dit volkome.
6Dit is beter om arm te wees
en eerbaar te lewe
as om oneerlik te lewe
en ryk te wees.
7’n Verstandige seun
gehoorsaam die eise van God.
Een wat hom ophou
met ligsinnige mense
bring sy pa in die skande.
8Wie ryk word
deur onbillike rente
en onregverdige wins
sal dit moet oorgee
aan iemand
wat hom oor armes ontferm.
9Elkeen wat hom doof hou
vir die eise van God,
se gebede sal verwerp word.
10Wie eerlike mense wegrokkel
na die verkeerde pad,
sal in sy eie strik trap.
Mense wat onberispelik lewe,
sal goeie dinge erf.
11’n Ryk man dink dalk
dat hy boonop wys is,
maar ’n arm mens met insig
kan dwarsdeur hom kyk.
12Wanneer regverdiges vreugde beleef,
is almal bly daaroor;
wanneer goddeloses oorneem,
kruip al die mense weg.
13Wie sy oortredings verswyg,
sal nie voorspoedig wees nie.
Wie sy sonde bely
en daarvan afsien,
sal genade ontvang.
14Die mens wat altyd versigtig is,
sal gelukkig wees.
’n Hardkoppige persoon
sal in kwaad verval.
15’n Goddelose regeerder
is vir sy weerlose volk
soos ’n leeu wat brul
en ’n beer wat wil aanval.
16’n Heerser sonder insig
neig om ander te verdruk.
’n Regeerder wat uitbuiting haat,
bly lank aan bewind.
17’n Moordenaar se gewete
dryf hom die graf in.
Niemand moet probeer
om hom te help nie.
18Hy wat ’n eerbare lewe lei,
sal veilig wees.
Iemand wat ’n dubbele lewe lei,
sal daardeur tot ’n val kom.
19Iemand wat sy grond bewerk,
sal volop hê om te eet.
Wie met nuttelose dinge boer,
sal armoede oes.
20’n Betroubare man
sal geseën word.
Een wat ten alle koste
gou ryk wil word,
gaan moeilikheid kry.
21Dit is verkeerd
om partydig te wees;
tog sal sommige verkeerd optree
vir ’n stukkie brood.
22’n Geldgierige
wil vinnig ryk word.
Ongelukkig weet hy nie
dat hy gebrek gaan ly nie.
23Die een wat ander berispe,
kry op die einde eerder waardering
as die persoon
wat ander vlei.
24Iemand wat sy ouers besteel
en dan nog sê:
“Ek doen niks verkeerds nie,”
is so goed as ’n moordenaar.
25’n Gierige persoon
veroorsaak rusie.
Wie op die Here vertrou,
sal voorspoed ervaar.
26Wie op sy eie insig vertrou,
is ’n dwaas.
Wie hom deur wysheid laat lei,
word bevry.
27Hy wat iets gee
vir ’n arm mens
sal self nooit iets kortkom nie.
Iemand wat sy oë vir hulle sluit,
sal vervloek wees.
28Wanneer goddeloses
die regering oorneem,
kruip die mense weg.
Wanneer die goddelose omkom,
floreer die regverdiges.

Actualmente seleccionado:

SPREUKE 28: NLV

Destacar

Compartir

Copiar

None

¿Quieres guardar tus resaltados en todos tus dispositivos? Regístrate o Inicia sesión

YouVersion utiliza cookies para personalizar su experiencia. Al usar nuestro sitio web, acepta nuestro uso de cookies como se describe en nuestra Política de privacidad