Logo de YouVersion
Ícono Búsqueda

JOHANNES 9

9
Jesus maak ’n man wat blind gebore is, gesond
1Terwyl Jesus wegstap, het Hy ’n man gesien wat van sy geboorte af blind was. 2Sy dissipels vra Hom toe: “Rabbi, wie het nou eintlik gesondig, hierdie man self of sy ouers, dat hy blind gebore is?”
3Jesus het geantwoord: “Nie hierdie man of sy ouers het gesondig nie, maar hy is blind sodat God se werke in hom sigbaar kan word. 4Ons moet aanhou om die werke te doen van Hom wat My gestuur het – terwyl dit nog dag is; die nag is in aantog, wanneer niemand meer kan werk nie. 5Terwyl Ek nog in die wêreld is, is Ek die lig vir die wêreld.”
6Nadat Jesus dit gesê het, het Hy op die grond gespoeg en klei met die spoeg aangemaak. Hy het die klei op die man se oë geplak 7en vir hom gesê: “Gaan was jou in die bad van Siloam.” (Siloam beteken “gestuurde”.) Hy het toe gegaan en hom gaan was, en op pad terug kon hy sien!
8Sy bure en dié wat hom vroeër as bedelaar geken het, het mekaar afgevra: “Is hy dan nie die man wat sit en bedel het nie?”
9Sommige het bevestig dat dit werklik hy was. Ander het dit ontken en gesê: “Nee, maar hy lyk net soos daardie man.”
Die man het toe self reageer: “Dit is ék!”
10Hulle het toe vir hom gevra: “Hoe is jou oë dan oopgemaak?”
11Die man het geantwoord: “Die man met die naam Jesus het klei gemeng en dit aan my oë geplak en vir my gesê: ‘Gaan na Siloam toe en was jou.’ Ek het gegaan en my gewas en ek het begin sien!”
12“Waar is daardie man nou?” het hulle hom gevra.
“Ek weet nie,” het hy geantwoord.
13Hulle het die man wat eers blind was na die Fariseërs toe geneem. 14Dit was op ’n Sabbatdag dat Jesus die klei gemeng en dit op die man se oë geplak het. 15Die Fariseërs het hom weer ’n keer gevra hoe hy begin sien het. Hy het hulle geantwoord: “Hy het klei op my oë gesit en ek het my gaan was, en nou sien ek.”
16Sommige Fariseërs het opgemerk: “Hierdie man kom nie van God nie, want hy hou nie die Sabbat nie.” Van die ander het egter gesê: “Hoe kan iemand wat ’n sondaar is, sulke wondertekens doen?” Onder hulle het hewige verdeeldheid ontstaan.
17Weer ’n keer sê hulle toe vir die blinde: “En wat sê jý oor hom? Hierdie man wat kwansuis jou oë oopgemaak het?”
Hy het geantwoord: “Hy is ’n profeet.”
18Die Joodse leiers het steeds nie geglo dat hy blind was en nou kon sien nie, totdat hulle die ouers van die man wat nou kon sien, geroep 19en vir hulle gevra het: “Is hy julle seun van wie julle gesê het dat hy blind gebore is? Hoe het dit gebeur dat hy nou sien?”
20“Ons bevestig dat hy ons seun is en dat hy blind gebore is,” het sy ouers geantwoord. 21“Hoe hy egter nou sien, weet ons nie. Wie sy oë oopgemaak het, weet ons ook nie. Vra hom liewer self; hy is oud genoeg; hy kan namens homself praat.”
22Sy ouers het hierdie dinge gesê omdat hulle bang was vir die Joodse leiers.
Die Joodse leiers het toe reeds onder mekaar beraadslaag en besluit dat iemand wat bely dat Jesus die Messias is, uit die sinagoge geban moes word. 23Daarom het sy ouers gesê: “Hy is oud genoeg, vra hom self.”
24Die Jode het die man wat blind was, vir ’n tweede keer nadergeroep en vir hom gesê: “Gee erkenning aan God; ons weet dat hierdie man ’n sondaar is.”
25Maar hy het geantwoord: “As hy ’n sondaar is, weet ek dit nie. Een ding weet ek wel: Ek wat blind was, sien nou!”
26Daarop het hulle vir hom gesê: “Wat het hy vir jou gedoen? Hoe het hy jou oë oopgemaak?”
27Hy het hulle geantwoord: “Ek het julle reeds vertel, maar julle het nie geluister nie. Om watter rede wil julle dit weer hoor? Julle wil tog sekerlik nie ook dissipels van hom word nie?”
28Hulle het hom uitgeskel en gesê: “Jý is ’n dissipel van daardie man. Óns is dissipels van Moses. 29Ons weet definitief dat God met Moses gepraat het, maar hierdie man – ons het geen idee waarvandaan hy kom nie.”
30Die man wat blind was, sê toe vir hulle: “Dis tog merkwaardig. Julle weet nie waarvandaan hy kom nie, maar hy het my oë oopgemaak. 31Ons weet goed dat God nie na sondaars luister nie, maar as iemand godvresend is en sy wil uitvoer, luister God na só ’n persoon. 32Van ewigheid af is nog nooit gehoor dat enigiemand die oë van een wat blind gebore is, oopgemaak het nie. 33As hierdie man nie van God af was nie, sou hy niks kon doen nie.”
34Hulle het daarop reageer: “Jy is geheel en al in sonde gebore, en wil jý ons nou kom onderrig?” Hulle het hom toe uit die sinagoge geban.
Geestelike blindheid erger as liggaamlike blindheid
35Jesus het gehoor dat hulle die geneesde blinde uit die sinagoge geban het, en toe Hy hom raakloop, vra Hy vir hom: “Glo jy in die Seun van die Mens?”
36Die man het geantwoord: “Wie is hy, Meneer, sodat ek in hom kan glo?”
37Jesus het vir hom gesê: “Jy staan en kyk na Hom; die Een wat met jou praat, dis Hy!”
38Die man het gesê: “Ek glo, Here!” En hy het in aanbidding voor Jesus neergeval.
39Toe het Jesus gesê: “Ek het na hierdie wêreld toe gekom om te oordeel, sodat dié mense wat nie sien nie, kan sien, en dié wat sien, hulle blindheid kan ontdek.”
40Van die Fariseërs wat by Jesus was, het vir Hom gesê: “Ons is tog nie blindes nie!”
41Jesus het hulle geantwoord: “As julle blindes was, sou julle nie sonde gehad het nie; maar nou beweer julle julle kan sien. Daarom bly julle sonde staan.”

Actualmente seleccionado:

JOHANNES 9: NLV

Destacar

Compartir

Copiar

None

¿Quieres guardar tus resaltados en todos tus dispositivos? Regístrate o Inicia sesión

YouVersion utiliza cookies para personalizar su experiencia. Al usar nuestro sitio web, acepta nuestro uso de cookies como se describe en nuestra Política de privacidad