20
Die gelykenis van die werkers in
die wingerd
1“Die koningsheerskappy van God is soos die eienaar van ’n landgoed wat vroegdag uitgegaan het om loonarbeiders vir sy wingerd te huur. 2Hy het met hulle op die gebruiklike daaglikse vergoeding ooreengekom en hulle toe gestuur om in sy wingerd te gaan werk.
3“Teen nege-uur gaan hy toe weer uit en kry ander wat op die dorpsplein rondstaan en niks doen nie. 4Hy huur hulle toe ook en sê vir hulle: ‘Ek sal julle aan die einde van die dag billik vergoed.’ 5Hulle het toe gegaan. Teen twaalfuur en weer teen drie-uur die middag het hy dieselfde oefening herhaal.
6“Teen vyfuur die middag kry hy in die dorp nog ander wat rondstaan. Hy vra hulle toe: ‘Waarom staan julle die hele dag so rond en niksdoen?’ 7Hulle antwoord hom: ‘Omdat niemand ons wou huur nie.’ Hy sê vir hulle: ‘Gaan werk saam met die ander in my wingerd.’
8“Teen die aand het hy aan sy voorman opdrag gegee om die werkers te roep en hulle loon aan hulle uit te betaal. ‘Begin by die laastes en eindig by die eerstes,’ het hy vir hom gesê. 9Dié wat teen vyfuur die middag gehuur is, kom toe en kry ’n voldag se betaling. 10Dié wat vroeër gehuur is, kom toe met die gedagte dat hulle meer sal kry, maar hulle kry toe ook maar die gewone dagloon.
11“Toe hulle hulle betaling kry, het hulle teenoor die eienaar geprotesteer 12en gesê: ‘Hierdie laatkommers het net ’n uur gewerk en jy behandel hulle dieselfde as ons wat die ganse dag in die warm son moes swoeg.’
13“Hy reageer toe teenoor een van hulle: ‘My vriend, ek behandel jou nie onbillik nie. Het ek dan nie met jou vir die gewone dagloon afgespreek nie? 14Neem dit en gaan. Ek het dit goedgevind om vir die een wat laaste begin het, dieselfde te gee as vir jou. 15Is dit dan teen die wet om met my geld te maak soos ek goeddink? Of voel jy bitter omdat ek so gaaf is?’
16“So sal baie wat nou so vernaam lyk, eendag heeltemal onbelangrik wees. En dié wat nou nie gereken word nie, sal eendag die belangrikste wees.”
Jesus kondig sy komende dood
’n derde keer aan
17Terwyl Jesus na Jerusalem onderweg was, het Hy sy dissipels opsy geneem en vir hulle gesê: 18“Luister nou goed. As ons in Jerusalem kom, sal Ek, die Seun van die Mens, uitgelewer word aan die priesterhoofde en die skrifkenners. Hulle sal My tot die dood veroordeel. 19En hulle sal My uitlewer aan die Romeine om gespot en gegésel en gekruisig te word. Maar op die derde dag sal Ek uit die dood opgewek word.”
In God se koninkryk gaan dit
nie om baasspeel nie, maar om
diens
20Daarop kom die ma van Jakobus en Johannes, die seuns van Sebedeus, na Jesus toe met haar twee seuns. Sy kniel toe eerbiedig neer om van Hom ’n guns te vra.
21“Wat is jou versoek?” het Jesus haar gevra.
Sy het geantwoord: “In u koninkryk, wanneer U op u troon sit, mag my twee seuns op die ereplekke regs en links van U sit?”
22Daarop het Jesus gesê: “Julle besef nie wat julle vra nie! Sien julle daarvoor kans om die bitter lydensbeker te drink wat vir My bestem is?”
Hulle sê vir Hom: “Ja, ons sien daarvoor kans.”
23“Dis waar,” sê Hy, “julle sal ook daarvan drink. Maar Ek beskik nie oor wie langs My op my troon sal sit nie. My Vader hou daardie plekke gereed vir dié wat Hy self uitgekies het.”
24Toe die ander tien dissipels hoor wat die twee broers wou hê, was hulle bitterlik verontwaardig. 25Jesus roep hulle toe bymekaar en sê: “Julle weet in hierdie wêreld tiranniseer die maghebbers die nasies, en die magtiges domineer hulle. 26Maar onder julle moet dit heeltemal anders wees. Wie onder julle ’n leier wil wees, behoort julle dienskneg te wees. 27En wie die eerste onder julle wil wees, moet julle slaaf wees. 28Net so het Ek, die Seun van die Mens, nie gekom om gedien te word nie, maar om diens te lewer en boonop my lewe te gee as ’n losprys vir baie mense.”
Jesus maak twee blindes gesond
29Toe Jesus en die dissipels uit Jerigo gaan, het baie mense agter Hom aangekom.
30Twee blindes wat langs die pad gesit het, het gehoor dat Jesus daarlangs verbygaan. Hulle roep toe aanhoudend: “Here, Seun van Dawid, ontferm U tog oor ons!”
31Die skare het hulle aangespreek en gesê hulle moet stilbly, maar hulle het net nog harder geroep: “Here, Seun van Dawid, ontferm U tog oor ons!”
32Jesus het gaan staan en hulle laat roep. “Wat wil julle hê moet Ek vir julle doen?” vra Hy vir hulle.
33Hulle het gesê: “Here, ons wil sien!” 34Daarop het Jesus hulle innig jammer gekry en hulle oë aangeraak. Dadelik kon hulle sien, en hulle het agter Hom aan gegaan.
Loading reference in secondary version...
2006 Christlike Uitgewersmaatskappy, Posbus 1599, Vereeniging, 1930, Eerste uitgawe 2006, Tweede uitgawe 2011