26
1Agrippa rig hom toe tot Paulus: “Jy het geleentheid om jou saak te stel.”
Paulus het met sy hand beduie en sy verdediging begin: 2“Ek ag myself gelukkig, koning Agrippa, dat ek my vandag juis voor u kan verdedig teen al die beskuldigings waarvan ek deur die Jode aangekla word, 3veral omdat u soveel ondervinding het van al die Joodse gebruike en kwessies. Luister daarom asseblief geduldig na my!
4“Al die Jode ken my lewenspad van jongs af. Van die begin af het ek my onder my volk in Jerusalem bevind. 5Hulle weet dus al lankal, as hulle bereid is om daaroor te getuig, dat ek my lewe ingerig het ooreenkomstig die strengste party van ons godsdiens, naamlik die Fariseërparty. 6En nou staan ek tereg oor my hoop op die belofte aan ons vaders, ’n belofte wat deur God self gegee is. 7Dit is juis hierdie belofte wat ons volk se twaalf stamme hoop om te verkry, wat maak dat hulle God dag en nag met volle inspanning dien. En nou is dit oor hierdie hoop, U Majesteit, dat ek deur die Jode aangekla word! 8Waarom is dit vir u almal so onmoontlik om te glo dat God dooies opwek?
9“Ek self het gedink dat daar ’n verpligting op my lê om alles in my vermoë te doen teen die Naam van Jesus van Nasaret. 10En dis presies wat ek in Jerusalem gedoen het.
Met ’n mandaat van die priesterhoofde het ék baie van die gelowiges in tronke gestop, en wanneer daar oor hulle besluit moes word, het ek daarvoor gestem dat hulle permanent uit die weg geruim moes word. 11Dikwels het ek hulle oral in die sinagoges lyfstraf laat kry om hulle te dwing om Jesus te vloek. Ek het só teen hulle tekere gegaan dat ek hulle selfs in buitelandse stede vervolg het. 12Op ’n keer was ek hieroor op reis na Damaskus, met ’n mandaat en in opdrag van die priesterhoofde. 13Dit was teen die middag, U Majesteit, toe ’n lig helderder as die son van die hemel af op my en my reisgenote geskyn het. 14Ons het almal neergeval, en ek het ’n stem in Aramees vir my hoor sê: ‘Saul, Saul, waarom vervolg jy My? Jy maak jouself net seer deur jou teen My te verset.’
15“‘Wie is U, Meneer?’ vra ek toe.
“En die Here antwoord: ‘Ek is Jesus, dié Een wat jý vervolg. 16Staan op! Ek het juis hiervoor aan jou verskyn om jou as my dienskneg en getuie aan te stel. Jy moet vertel hoedat jy My gesien het en van wat Ek jou nog sal laat sien. 17Ek sal jou teen jou volk beskerm en teen die nie-Joodse nasies na wie toe Ek jou met volle mandaat stuur. 18Jou bediening moet hulle oë oopmaak sodat hulle ’n lewensomkeer kan maak, weg van die duisternis na die lig, en weg van die mag van Satan na God. Deur in My te glo, ontvang hulle vergifnis van hulle sondes en word hulle deur die geloof deel van mý mense.’
19“Dis hoekom, koning Agrippa, ek nie aan die gesig uit die hemel ongehoorsaam was nie. 20Ek het eers vir die mense in Damaskus en in Jerusalem en toe deur die hele Judea en daarna vir die nie-Joodse nasies gepreek dat hulle tot inkeer moet kom en na God toe moet omdraai, terwyl hulle met hulle doen en late bewys dat hulle tot inkeer gekom het. 21Oor hierdie prediking het sommige Jode my by die tempel gearresteer en probeer vermoor. 22Tot vandag toe het God my beskerm, en daarom staan ek hier en getuig voor klein en groot. Ek verkondig niks anders as wat die profete en Moses gesê het gaan gebeur nie: 23Die Messias moes ly en die eerste wees van die dooies wat opstaan. So sou Hy aan ons volk en aan die nie-Joodse nasies die lig verkondig.”
24Terwyl hy nog só met sy verdediging besig was, skreeu Festus kliphard: “Jy’s van jou kop af, Paulus! Jou baie studies het veroorsaak dat jy van jou kop af geraak het!”
25Maar Paulus sê: “Ek is nie van my kop af nie, hooggeagte Festus, maar die stellings wat ek maak, is waar en logies. 26Die koning is verseker bewus van hierdie dinge, en met hom praat ek openhartig. Ek is doodseker dat niks hiervan sy aandag ontglip het nie, want dis nie iets wat êrens in ’n hoekie gebeur het nie! 27Koning Agrippa, glo u die profete? Ek weet u glo ... ”
28Agrippa val Paulus in die rede: “Jy wil sommerso in ’n japtrap van my ’n Christen maak!”
29“Of dit nou ’n oomblik of langer sou vat,” antwoord Paulus, “ek bid God dat nie net u nie, maar almal wat vandag na my luister, gelowiges sal word soos wat ek is, maar natuurlik net sonder hierdie boeie.”
30Toe het die koning opgestaan, en ook die goewerneur en Bernice en dié wat saam met hulle daar gesit het. 31Terwyl hulle uitgaan, sê hulle vir mekaar: “Hierdie man doen niks wat die dood of tronkstraf verdien nie.” 32Agrippa sê toe vir Festus: “Hierdie kêrel kon vrygelaat gewees het as hy nie na die keiser geappelleer het nie!”
Loading reference in secondary version...
2006 Christlike Uitgewersmaatskappy, Posbus 1599, Vereeniging, 1930, Eerste uitgawe 2006, Tweede uitgawe 2011