14
Die honderd vier en veertig duisend op Sionsberg
1Toe het ek die Lam op Sionsberg sien staan en by Hom honderd vier en veertig duisend mense met sy Naam en sy Vader se Naam op hulle voorkoppe geskrywe. 2En ek het 'n geluid uit die hemel uit hoor kom wat soos die gedruis van 'n groot watermassa en soos die gedreun van swaar donderweer geklink het. Die geluid wat ek gehoor het, was ook soos dié van siterspelers wat op hulle siters speel. 3Hierdie mense sing 'n nuwe lied daar voor die troon en voor die vier lewende wesens en die ouderlinge. Niemand anders as net hierdie honderd vier en veertig duisend mense, wat van die aarde af losgekoop is, kon hierdie lied leer nie. 4Dit is hulle wat hulle nie met vrouens besoedel het nie; hulle het kuis gebly. Hulle volg die Lam waar Hy ook al gaan. Hulle is onder die mense uit losgekoop as eerstelinge vir God en vir die Lam. 5Uit hulle mond het daar nooit 'n leuen gekom nie. Hulle is onberispelik.
Die aankondiging van die oordeel
6Toe het ek 'n engel hoog in die lug sien vlieg. Hy het 'n goeie boodskap gehad wat vir ewig van krag bly. Hy moes dit aan die bewoners van die aarde, aan elke nasie, stam, taal en volk verkondig, 7en hy het met 'n harde stem uitgeroep: “Vrees God en gee aan Hom die eer, want die tyd het aangebreek vir sy oordeel. Aanbid Hom wat die hemel en die aarde, die see en die waterbronne gemaak het.”
8'n Tweede engel het agter die eerste aan gevlieg en uitgeroep: “Geval, geval het die grote Babilon wat al die nasies van die dwelmdrank van haar onsedelikheid laat drink het.”
9'n Derde engel het agter die eerste twee aan gevlieg en hard uitgeroep: “Wie die dier en sy beeld aanbid en 'n merk op sy voorkop of op sy hand aanvaar, 10sal van die wyn van God se toorn moet drink. Dit word onverdun in die beker van sy oordeel ingeskink. In die teenwoordigheid van die heilige engele en die Lam sal hy met vuur en swael gepynig word. 11Die rook van hierdie pyniging styg tot in alle ewigheid op, en hierdie mense het dag en nag geen rus nie, hulle wat die dier en sy beeld aanbid, en dié wat die merk van sy naam aanvaar.”
12Hier het die gelowiges volharding nodig, hulle wat die gebooie van God nakom en in Jesus bly glo.
13Toe het ek 'n stem uit die hemel hoor sê: “Skryf op! Geseënd is dié wat van nou af in die Here sterwe.”
“Ja,” sê die Gees, “hulle sal rus van hulle arbeid, want alles wat hulle gedoen het, volg hulle.”
Die voltrekking van die oordeel
14Toe het ek 'n wit wolk gesien. Op die wolk het daar Iemand soos die Seun van die mens gesit. Hy het 'n goue kroon op sy kop gehad en 'n skerp sekel in sy hand. 15'n Engel het uit die tempel uitgekom en hard geroep na Hom wat op die wolk sit: “Steek u sekel in en oes, want die tyd het gekom om te oes. Die aarde is ryp vir die oes.”
16Hy wat op die wolk sit, het toe sy sekel ingesteek op die aarde, en die aarde is afgeoes.
17Toe het daar 'n ander engel uit die tempel wat in die hemel is, uitgekom. Hy het ook 'n skerp sekel gehad. 18Nog 'n ander engel het van die altaar se kant af gekom. Hy het mag oor die vuur gehad en het met 'n harde stem geroep na die engel wat die skerp sekel het, en vir hom gesê: “Steek jou skerp sekel in en sny die druiwetrosse van die wingerd op die aarde af, want sy druiwe het ryp geword.”
19Die engel het toe sy sekel op die aarde ingesteek. Hy het die wingerd op die aarde afgeoes en die oes in die groot parskuip van God se toorn gegooi. 20Die parskuip, buitekant die stad, is getrap. Uit die parskuip het daar bloed uitgekom wat tot aan die tooms van die perde geraak en sestien honderd kilometer ver gestrek het.
Loading reference in secondary version...