Versions

Cancel
 
4
1Maar toe sê Moses: “Sê nou die Israeliete glo my nie en hulle luister nie na my nie en hulle sê die Here het nie aan my verskyn nie?”
2Toe vra die Here vir hom: “Wat het jy in jou hand?”
“'n Kierie,” antwoord Moses.
3“Gooi die kierie op die grond!” sê die Here vir hom.
Toe hy dit op die grond gooi, word dit 'n slang, en Moses het daarvoor padgegee.
4Die Here sê toe vir Moses: “Steek jou hand uit en gryp hom aan sy stert.”
Moses steek sy hand uit en gryp hom, en skielik word dit weer 'n kierie in sy hand.
5Toe sê die Here: “Op grond hiervan sal hulle glo dat die Here die God van hulle voorvaders, die God van Abraham, die God van Isak, die God van Jakob, aan jou verskyn het.
6“Steek nou jou hand in die vou van jou klere!”
Hy steek toe sy hand in en toe hy dit uittrek, was dit melaats, so wit soos sneeu.
7Hierna sê die Here: “Steek nou weer jou hand in jou klere.”
Hy steek toe weer sy hand in en toe hy dit uittrek, was dit gesond.
8Toe sê die Here: “As hulle jou na die eerste wonderwerk nie geglo het nie en hulle nie daaraan gesteur het nie, behoort hulle jou na hierdie een wel te glo.
9“As hulle jou ná hierdie twee wonderwerke nog nie glo nie en nie na jou luister nie, moet jy van die Nyl se water vat en op die grond uitgooi. Die water wat jy uit die Nyl gevat het, sal dan op die grond bloed word.”
10Toe sê Moses vir die Here: “Ag, Here, ek kan nie goed praat nie; ek kon nie vroeër nie en ek kan ook nie nou, hier waar U met my praat nie. Ek praat swaar, en my tong sukkel.”
11Daarna sê die Here vir hom: “Wie het aan die mens 'n mond gegee? Wie maak stom of doof of siende of blind? Is dit nie Ek, die Here, nie? 12Gaan nou, Ek sal jou help met die praat en jou leer wat jy moet sê.”
13Maar Moses antwoord: “Asseblief tog, Here, stuur liewer iemand anders.”
14Toe word die Here kwaad vir Moses en sê: “Aäron die Leviet is mos jou broer, en Ek weet hy kan sy woord goed doen. Hy is al op pad om jou te ontmoet en hy sal bly wees om jou weer te sien. 15Praat met hom en sê vir hom wat om te sê. Ek sal by jou wees as jy praat en by hom as hy praat en Ek sal julle leer wat om te doen. 16Wanneer hy namens jou met die volk praat, is hy jou segsman en jy die een wat hom sy opdragte gee. 17Hou nou die kierie waarmee jy die tekens moet gaan doen, by jou.”
Moses gaan terug na Egipte toe
18Daarna het Moses na sy skoonpa Jetro toe teruggegaan en vir hom gesê: “Ek wil graag teruggaan na my mense toe in Egipte om te sien hoe dit met hulle gaan.”
Jetro antwoord hom: “Gaan gerus.”
19In Midian het die Here aan Moses gesê: “Gaan nou terug na Egipte toe, want al die mense wat jou wou doodmaak, is al dood.”
20Toe is Moses met sy vrou en kinders na Egipte toe. Hy het sy vrou en kinders op 'n donkie laat ry en die kierie wat God hom gegee het, saamgevat.
21Die Here het vir Moses gesê: “Wanneer jy teruggaan Egipte toe, moet jy sorg dat jy al die wonderwerke waartoe Ek jou in staat gestel het, voor die farao doen. Maar Ek sal hom hardkoppig maak, en hy sal die volk nie laat gaan nie. 22Dan moet jy vir die farao sê: So sê die Here: Israel is my oudste seun. 23Ek het vir jou gesê: Laat my seun gaan sodat hy My kan aanbid. Maar jy het geweier om hom te laat gaan, en nou gaan Ek jou oudste seun doodmaak.”
24Waar Moses-hulle langs die pad oornag het, het die Here by hom gekom en wou Hy vir Moses doodmaak. 25Sippora vat toe 'n klipmes, sny haar seun se voorhuid af, raak daarmee aan Moses se voete en sê: “Jy is nou my bruidegom wat deur bloed beskerm word.”
26Die Here het Moses met rus gelaat net toe sy sê: “bruidegom wat deur bloed beskerm word.” Dit het betrekking op die besnydenis.
27Intussen het die Here vir Aäron opdrag gegee om Moses in die woestyn tegemoet te gaan. Hy het gegaan en hom by die berg van God aangetref en met 'n soen gegroet. 28Moses vertel toe vir Aäron van alles waarvoor die Here hom gestuur het, ook van al die tekens wat Hy hom beveel het om te doen. 29Moses en Aäron het gegaan en al die leiers van die Israeliete bymekaargeroep. 30Aäron het hulle alles vertel wat die Here vir Moses gesê het, en daarna het Moses die tekens voor die volk gedoen. 31Hulle het hom geglo. Toe hulle hoor dat die Here die nood van die Israeliete gesien het en Hom hulle lot aangetrek het, het hulle in aanbidding gebuig.