YouVersion Logo
Search Icon

SAGARIA 14

14
Die dag van die Here kom
1Die dag van die Here kom. Wat in jou buitgemaak is, Jerusalem, sal binne-in jou verdeel word.
2Ek sal al die nasies bymekaarmaak vir 'n oorlog teen Jerusalem. Die stad sal ingeneem word, die huise sal geplunder word en die vrouens verkrag word. Die een helfte van die stad se inwoners sal in ballingskap gaan, maar die ander helfte sal nie uit die stad verwyder word nie.
3Daarna sal die Here teen daardie nasies gaan oorlog maak net soos op die dag toe Hy destyds die oorlog gevoer het. 4Daardie dag sal sy voete op die Olyfberg staan, oos van Jerusalem. Die Olyfberg sal middeldeur skeur en daar sal 'n groot kloof van oos na wes ontstaan. Een helfte van die berg sal na die noorde toe padgee en die ander helfte suide toe. 5Julle sal deur die kloof in my berg vlug, want die kloof sal strek tot by Asal. Julle sal vlug soos julle vir die aardbewing gevlug het in die tyd van koning Ussia van Juda.
Dan sal die Here my God kom, en al die hemelwesens sal by jou wees.
6Daardie dag sal daar nie lig wees of koue of ryp nie.
7Dit sal 'n besondere dag wees. Wanneer dit sal wees, weet net die Here. Daar sal nie dag of nag wees nie: as dit aand word, sal daar steeds lig wees.
8Daardie dag sal daar 'n vars stroom water uit Jerusalem vloei, een helfte na die see in die ooste toe en een helfte na die see in die weste toe, somer en winter. 9Die Here sal koning wees oor die hele land. Daardie dag sal die Here die enigste God wees, en sy Naam die enigste Naam. 10Die hele land, van Geba af tot by Rimmon suid van Jerusalem, sal soos die Jordaanvallei word. Jerusalem sal gelig word daar waar hy nou is, hy sal hoog lê, van die Benjaminpoort af tot waar die poort vroeër was, tot by die Hoekpoort en die Gananeltoring, tot by die koning se wynkuipe. 11Daar sal mense woon, en die stad sal nie weer verwoes word nie. Jerusalem sal 'n veilige woonplek wees.
12Die Here gaan al die volke wat teen Jerusalem oorlog maak, met 'n groot ramp tref: hulle vleis sal wegvrot terwyl hulle nog lewe, hulle oë sal wegvrot in hulle oogkaste, hulle tonge sal wegvrot in hulle monde.
13Daardie dag sal die Here die mense paniekbevange laat raak: die een sal die ander aan die hand gryp en hom aanval. 14Selfs Juda sal teen Jerusalem veg. Die rykdomme van al die nasies rondom sal bymekaargemaak word: goud, silwer en klere in groot hoeveelhede.
15Dieselfde ramp wat die mense tref, sal ook die perde tref, die muile, die kamele, die donkies, al die diere wat in die kampe van die vyande is.
16Al die mense wat oor is uit die volke wat teen Jerusalem opgetrek het, sal jaar na jaar kom om die Koning, die Here die Almagtige, te aanbid en om die huttefees te vier. 17Geen volk op aarde wat nie na Jerusalem toe kom om die Koning, die Here die Almagtige, te aanbid nie, sal reën kry nie. 18En as die Egiptenaars nie kom nie, sal die Here hulle met dieselfde ramp tref as die ander nasies wat nie kom om die huttefees te vier nie. 19Dit sal die straf wees vir Egipte en vir al die nasies wat nie kom om die huttefees te vier nie.
20Daardie dag sal daar op die klokkies aan die perde se tuie staan: “Gewy aan die Here”, en die potte in die huis van die Here sal net soos die offerkomme by die altaar wees. 21Elke pot in Jerusalem en Juda sal aan die Here die Almagtige gewy wees. Die mense wat kom offer, sal van die potte vat en vleis in hulle kook. Daardie dag sal daar in die huis van die Here die Almagtige geen handelaar meer wees nie.

Currently Selected:

SAGARIA 14: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy